Afrikaanse Wikipedia: Duitser leer homself Afrikaans

Foto: upload.wikimedia.org

Foto: upload.wikimedia.org

Sören Pfauder van Brandenburg is ʼn Duitser wat passievol oor Afrikaans is en homself dié taal leer praat het, hoofsaaklik deur sy betrokkenheid by die Afrikaanse Wikipedia.

Maroela Media het onlangs met dié ywerige skrywer gesels oor sy liefde vir Afrikaans en sy betrokkenheid by die Afrikaanse Wikipedia.

Pfauder  sê hy het Afrikaans geleer deur alledaagse takies te verrig. “Ek het Afrikaans geleer deur Wikipedia-artikels te lees en veral deur die taalverbeteringe van ander gebruikers aan my bydraes. Soms kyk ek na Suid-Afrikaanse rolprente en konsentreer op die uitspraak van Afrikaans of kyk na Afrikaanse video’s op YouTube.”

Hy vertel dat hy om baie redes lief is vir Afrikaans. “Dit gaan natuurlik ook die verwantskap tussen Duits en Nederlands. Afrikaans is vir my maklik verstaanbaar. Ek verstaan gewoonlik sowat 95% van dít wat ek lees – soms kort ek net een of twee woorde.

’n Ander rede is die geskiedenis van die taal self. Afrikaans is die enigste van die Germaanse tale wat buite Europa ontstaan het (afgesien van dialekte en kreoolse tale soos kombuis-Duits of Pennsilvaniese Duits), en amptelike status geniet. Dit is ook die enigste taal wat na ’n hele vasteland vernoem is. Deur Afrikaans en die Afrikaanse Wikipedia het my liefde vir Suid-Afrika en Namibië gegroei en ek wou deur my bydraes help om die opleiding van die mense in dié twee lande te verbeter, of dit nou hul moedertaal of tweede taal is,” voeg hy by.

Meer as 41 000 Afrikaanse artikels is tot op hede op Wikipedia gelaai. Hierdie artikels is oor onderwerpe soos geografie, geskiedenis, kultuur, godsdiens, taal, tegnologie, wetenskap en vele meer.

“Ons is baie bly oor die mylpaal van 41 000 artikels wat ons bereik het. Ek is tans betrokke by al die artikels oor die Olimpiese Spele. Dit is werklik iets wat my na aan die hart lê,” sê hy.

Pfauder het al tien jaar gelede bydraes op die Duitse Wikipedia begin lewer. Dit is egter eers sedert 2010 dat hy onder die top-bydraers tot die Afrikaanse Wikipedia is.

“Aanvanklik was dit kleiner bydraes en later het ek artikels op versoek begin skep, veral van nedersettings rondom my geboortestad, Königs Wusterhausen.

“Sedert 2010 het ek oorgeskakel na die Afrikaanse Wikipedia en artikels oor hedendaagse lande en hoofstede begin skryf, gevolg deur megastede, belangrike tale, groot eilande, lang riviere en so meer. My jongste artikels beskryf taalfamilies (einde 2015) en etniese groepe (vroeë 2016). Einde 2010 het ek begin om die weeklikse uitleg van die Wikipedia-tuisblad met nuwe voorbladartikels en -beelde te versorg. Ek doen dit elke Sondagaand. Daarbenewens het ek honderde artikels met inligtingskassies versorg.”

Van stoom verloor is daar volgens Pfauder nie sprake nie. “Ek sal bly skryf en bydraes lewer omdat dit vir my lekker is. Wat ʼn mooi taal is Afrikaans nie.”

Besoek die Afrikaanse Wikipedia se webwerf vir meer inligting oor bydraes. Lees meer van Sören se bydraes op Wikipedia.

As jy wil betrokke raak, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected]. Laat weet wat jou gebied van kundigheid is en waaroor jy graag sal wil skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jana Peeters ·

Ek is ‘n Belgiese meisie wat ook baie lief is vir Afrikaans. Ek was partykeer in SA, maar ek het die taal pas regtig geleer deur flieke en sepies te kyk. Nou gaan ek die eerste kursus Afrikaans in die land gee in oktober. Afrikaans leef! En nie net in (Suid-)Afrika nie :D

JC ·

Jana, jy’s werklikwaar te oulik man!Dankie vir jou mooi woorde oor Afrikaans, ons eie unieke Afrika en hartstaal!

JC ·

Jana, jy kan gerus ook die dokumenter-BOERE OP DIE AARDSDREMPEL- kyk. (jy kan dit net google, en sal jy dan resultate daaroor kry, ek dink ‘n deel daarvan is op Youtube ook ) Dit sal jou baie insigte gee oor die interessante en lang pad wat Afrikaans, en die mense wat dit leef, eet en praat, al gestap het. Dit is regtig fenomenaal!

Kaufman ·

Jana, jou boodskap hier is foutloos en heeltemal genaturaliseerd, sou nooit dink jy is nie van geboorte af al ‘n Afrikaner nie.

Kaufman ·

Afrikaners, Belge, Nederlanders en Duitsers moet saamstaan en saamwerk om ons tale en kulture te bevorder. Ek weet nie of die skandenawiese lande ook sal wil saamwerk in so ‘n Germaanse kultuurbeweging nie, dalk wil hulle ook. Ons met saamstaan om dominansie deur Engels teen te staan, om wanpersepsies en onderdrukking van ons identiteite reg te stel, en om saam te groei!

JC ·

Uitstekend vir Soren, wat ‘n oulike mens!!
Soren is beslis iemand om op trots te wees!! Ek dink hy is verskriklik slim!
Mooi so Soren, jy’s ‘n yster!

JC ·

Uitstekende idee Kaufman!
Belge(Vlaminge), Afrikaners, Afrikaanses, Nederlanders, Duitsers en “Luxembourgers” moet beslis saamwerk as ‘n verenigde germaanse groep, en TAALGROEP!

Matilda ·

Dit is wonderlik dat buitelanders so gretig is om Afrikaans te praat en ons eie land se mense verkleineer die taal deur of dit nie te praat nie of dat as iets wat kan “byt” af te maak.

Passievol ·

Sjoe! Hierdie artikel het my hart diep geraak! Dankie, Soren, vir jou hulp met die uitbreiding van die Afrikaanse Wikipedia. Ek het skoon hoendervleis. Jana, jy inspireer my. Dankie dat julle ook lief is vir ons taal en help met die uitbreiding en voortbestaan daarvan.

JC ·

Die Vlaminge, so verneem ek, (soos Jana) is baie vurig oor hul pragtige taal, Vlaams, en is bekend daarvoor dat hul soos besetenis baklei vir hul TAAL, VLAAMS. Ek dink indien ons Afrikaanses (soos bv Wayde van Niekerk en Charlize Theron) maar net almal SO HARD baklei het vir Afrikaans sou dit ‘n baie veiliger nessie gehad het om in te slaap.
GO VLAAMS EN AFRIKAANS!!!

Deon Steyn ·

Soren se bydraes is baie meer as wat hy sê! Hy het werklik ‘n verskil gemaak op die Afrikaanse Wiki! Dankie my vriend!

Deon: Direkteur Afrikaans, Wikipedia Stigting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.