Ai tog, al die kakiebos tussen die taalblomme

afrikaans

Ná sorgvuldige oorweging het ek uiteindelik besluit om uit my kassie uit te klim. En noudat jy klaar na asem gesnak het, kan jy maar rustig agteroor sit en verder asemhaal. Nee, nie daai kassie nie! Ek verwys na my ou tradisionele skryfkassie met al sy spel- en skryfreëls en ek onthou die kwaai juffrou met haar passie vir ons taal se rooi “SPELLING!!” of “SINSKONSTRUKSIE!!” onderaan my opstel wat ek met soveel sorg aanmekaargeflans het.

Wat ek nou gaan kwytraak, sal seker enige leser, wat met ’n rooi pen in die hand lees, se droom wees! Dalk onthou ek ook die dae toe ek as taalonderwyser met ’n rooi pen gelees het …

Eintlik is dit een van my liefste kleinkinders wat my uit die kassie laat uitklim. Met die dierbaarste glimlaggie het sy vir my ’n stuk papier gegee met ’n “Ek het vir oupa hierie prenkie geteken”. Op die papier het sy ’n kat, blomme en hartjies geteken. Sy’t nie ’n prentjie geteken nie. Dit was uit haar rooilipmondjie, ’n prenkie vir oupa.

Ry nou maar Weskuslangs, deur Namakwaland, die Richtersveld in en luister hoe praat mense die mooiste Afrikaans. Luister hoe kleur mense in die Noordkaap en Karoo die taal in.

Hoor hoe praat die storievertellers en die plaasvolk wat, spierwit grys en soms tandeloos, in Afrikaans jou die mooiste prentjies laat sien. Luister hoe die Griekwa sy Psalm sing en dan bid. Gaan sit op, sê maar, Wuppertal of Soebatsfontein, en luister na mense wat ’n lang pad met die taal geloop het. Gaan luister maar na die skaapwagter in die Richtersveld as hy sy stories vertel. Ek sluit nie die sogenaamde Kaaps hierby in nie, want dis deurspek met Engelse woorde en is ’n jammerlike mengelmoes wat ek nie afgesluk kry nie. Tog is daar ook ’n ander Kaaps wat sag op die oor val omdat Engelse woorde nie nodig gevind word nie.

Iewers in die verlede het iemand ’n sinvolle ding gesê toe hy voorgestel het ons moet skryf soos ons praat. Donkiejare terug het een van my leerders vir my gevra hoekom ons van kinners, hoeners en tanne praat, maar ons skryf kinders, hoenders en tande. Ek weet nou nog nie. Dalk omdat ons nie van ’n kin, hoen en ’n tan praat nie? Ek het so verduidelik en haar grappenderwys beloof dat ek haar sou oorsien as sy voortaan die d uitlaat. Die volgende oggend was daar ’n briefie en ’n blommetjie op my tafel: “Meneer is ’n wonnerlike onnerwyser!” Kan ’n mens dan nie maar spel soos jy praat nie? En as jy nou lekker na baasstorievertellers luister, praat die vertellers sonder om hulle aan spelreëls te steur.

Ek kom tot die slotsom dat Afrikaanssprekendes wie se Afrikaans anders is, nie noodwendig verkeerd is nie, maar bloot anders. Dikwels is daardie (daai) taalgebruik kostelik en pittig en luister ’n mens alte lekker daarna.Vergewe my as ek vorentoe soms gaan skryf soos mense praat. En dalk spel soos mense praat. Nie deurgaans nie, maar soms, net om my woordprentjies so ’n bietjie helderder in te kleur.

Net soos vryheid sonder grense tot losbandigheid kan lei, kan taalvryheid sonder grense ook tot praat- en skryflosbandigheid lei. Ek bemerk en hoor ’n verstommende, vir my, ontstellende taallosbandigheid onder Afrikaanssprekendes. Dat woorde uit ander tale met die verloop van jare staanplek in Afrikaans gekry het, is met uitsondering aanvaarbaar, maar wat te erg is, is te erg. Ek voel erg beswaard!

Omdat ek so gewortel en verankerd is in die mooiste taal, koester ek hierdie taal en wil hom koester as ’n kosbare pand. In min tale kan ’n ding so raak en kostelik gesê word, maar nee, ons woordeskat moet uit Engels aangevul word. MOET? REGTIG? En KAN? Ja sekerlik, uit enige taal, maar dan neem ons ’n woord en gee hom taalburgerskap omdat ons nie ’n beter woord in Afrikaans het nie. Onder protes aanvaar ’n mens dat boks ’n skaflike woord is om kartondoos te vervang. So is daar baie ander ook. En nou wonder ek waarom tale van swart mense nie met Engels of Afrikaans deurspek is nie. Gaan dit dalk oor taaltrots?

Ek klim uit my kassie uit om te skyf soos gepraat word, maar dit belowe ek: Nooit sal ek skryf hoe bjoetievoel, emeizing, ôsem, ôvoel, nais, stannieng, ghryt of ienkreddebil iets of iemand is nie. Ok nie hoe terrebil dit is nie. Ok nie dat alles oukei is, whatewwer die settap is nie. Ek gaan ook niks of iemand laaw nie. Ok nie ’n hartjie teken en lawwies daarby skryf nie, al sou dit êktjoehillie kjoet gewees het. Ek sal ook nie skryf oor die een of ander sillebrittie wat mykap gepleisterd op ’n stydsj by die een of ander wenjoe perfôm het nie. So van perfôm gepraat, ek sal ook nie sommer vir jou sing dat jaai baai maai moet kom blaai nie, want dit klink vrekvreemd, al is dit Afrikaans. Ok nie dat jy my bybie bloehoehoe of my bybie tjoklits is nie, al hou ek van blou en sjokolade. ’n Bottel wyn verder kan ek jou dalk my bekkie, my bokkie, my gogga noem – mits jy nie ’n man is nie. Lesers sal ook nie hoor van die iesjoees waarmee ek straghil nie, al kan ek nie meer koup nie.

So kan ek aanhou, maar ek wil nie, want my beswaardheid neem toe en my hartpilletjies is op. Dis genoeg om my net by die seekoei se oortjies te bepaal.

Ek laat dit oor aan predikante, beraders, motiveringsprekers, sportlui, RSG-omroepers en die swetterjoel CD-makers wat hygend, steunend, knarsend, snikkend en stroperig probeer sing. Luister nou maar verder na hulle. Ek wil nou eers pleisters en salf gaan soek om al my dierbares se tone, waarop ek getrap het, te dokter. Die bedoeling is nie om seer te trap nie, maar ek wil eintlik net vra of dit regtig nodig is om lukraak en onnodig, sinneloos Engelse woorde in ons gewone spreektaal in te ryg. My ma het my altyd vermaan om op te hou met ’n onnodige, lastige handeling voordat dit ’n aanwendsel word wat jy nie maklik kan afleer nie.

Terwyl ek opgewarm en aan die gang is, het ek nog ’n galletjie te brake: As jy vir my sou vra hoe dit gaan, sal ek nie antwoord met ’n “Goed, dankie, jy?” nie. En as jy vriendelik vir my ’n klippie uit die pad rol, sal ek nie reageer met “Baie dankie. Waardeer!” nie. As jy vra of ek nie dalk stories vir kinders skryf nie, sal ek vir jou nie “Ja, ek doen!” antwoord nie. Ook nie jês nie.

In ou Josua van ouds se trant wil ek ook nou verklaar: Mense moet nou maar besluit wat hulle met Moedertaalafrikaans wil maak, maar wat my en my ou Liefstetjie betref, ons sal ons taal nie verengels nie. “O moedertaal, o soetste taal, jou het ons lief bo alles. Die Afrikaanse taal, die klink vir ons so soet. Dit is ons moedertaal – sit in ons murg en bloed.”

Ek stap nou die dag in ’n winkel in, reguit na ’n swartman toe omdat hy altyd vriendelik help. Op sy vraag waarmee hy kon help, vra ek toe of hy dalk ’n “tape” te koop had. Sy antwoord het my verbaas en so ’n bietjie uit die veld geslaan: “Bedoel oom ’n maatband om mee te meet?” Ek wou by hom weet wie hom geleer het om so mooi Afrikaans te praat en met ’n breë glimlag het hy gesê hy luister hoe mooi die mense van Riversdal die taal praat. Toe ek vra of hy hier in die wêreld grootgeword het, het hy vertel dat hy vyf jaar terug uit Kameroen na Suid-Afrika toe gekom het. Benewens sy moedertaal, het hy daar ook Frans leer praat. “En Afrikaans?” het ek gevra. “Ai oom, ek kan Afrikaans amper praat en nou moet ek nog net leer skryf en lees, maar ek probeer. ( Nie traai nie.) Dis maar swaar want niemand het tyd om my te leer nie. Dis vir my so ’n mooi taal.” Ek groet en wonder of ek nie tyd moet maak nie …

Verkramp, teruggrypend na die verlede en blind vir taalvariasie? Nee, allermins! Ek is trots en opgewonde, want Afrikaans blom en is soos Namakwaland op sy mooiste! Maar het jy nou al kakiebos in Namakwaland se blomme gesien … en as jy hom daar kry, gaan jy hom daar los sodat hy kan saadskiet?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ria ·

Baie dankie, Johan. Ek is skuldig aan ‘n paar goed wat jy noem. Ek werk in ‘n Engelse omgewing en praat seker 80% Engels elke dag, so die Engelse woord kom partykeer vinniger in die geheue as die korrekte Afrikaanse woord.

Die ding wat regtig soos sandkorrels tussen my tande kom sit, is die (kan ek maar praat van vieslike?) sms-taal wat vandag gebruik word. Dis nie spel soos ons praat nie, want dan het dankie dankie gebly en hoe het nie hu geword nie.

Francisca du Randt ·

Hoor, hoor! Wonder egter hoeveel mense gee nog om oor suiwer Afrikaans – dit lyk my sulke besorgdheid word as oudmodies beskou. O, en ek het die beskrywende “blaai baai maai” geniet!

Peter ·

In die verlede het onderwysers gesê:”Om jou taalkennis te verbeter, moet jy koerant lees en na die radio luister”.
Vandag lees ek nie meer koerante nie, en ek luister nooit na die radio en tv nie.
Waarom nie? Omdat ek swak Afrikaans haat. ‘n Taalvriend in Pretoria sê:”Dis nie alle Transvalers wat so praat nie. Leerlinge van ‘n sekere skool in Pretoria, wat so praat, kry al die poste by die SABC se Afrikaanse afdeling. “dis die joernaliste en filmsterre by die SABC wat so praat,” het hy gesê.
* Ek het in Namibië opgegroei, en ek is trots om te sê dat Namibiërs van die beste Afrikaans ter wêreld praat.
Woorde soos “awesome” is mos nie deel van ons taal nie!
Mens hoor ook dikwels oor die radio en tv dat mense praat van:”Maai pô ann maai mô blaai baai die sia in ons strônthaaisie”, pleks van:”My pa en my ma bly by die see in ons strandhuisie”.

Paul ·

Net een opmerking. Die “tale van swart mense” is wel met Engelse en Afrikaanse woorde deurspek. Dis ‘n blote feit – jy hoef nie eers ‘n taalkenner te wees om dit te weet nie.

Klaas ·

En dan is daar ook nog die kortpad vir onthou – dit word sommer “ondou”! Luister maar hoeveel Afrikaanse radio-omroepers op Afrikaanse radio-stasies en hoeveel sangers gebruik hierdie gogga!

hans ·

Ek persoonlik hou nie van die jongste ‘advertensie’ van Afrikaans.com wat oor die radio uitgesaai word.

Etienne ·

Ag nee, die “rammeltaal” beteken niks! Ek kan dan skaars verstaan wat die man geskryf het. As ons skryf soos ons wil, gaan ons later verskillende tale hê, nie EEN Afrikaans nie, en ons sal mekaar later nie kan verstaan nie. Praat en skryf is twee verskillende dinge sover dit my betref. Skryf en spel korrek sodat ons saam kan praat!

HEVW ·

Jammer dit lyk my Maroela verstaan nie die Namibiese Afrikaanse taal nie. Ek herhaal. Die korrekte gebruik van die Afrikaanse taal en patriotisme gaan hand aan hand en beide is in hul m.. ek bedoel peetjie.

Paplepel ·

Die een ding waaroor ons kan debatteer tot die koeie huistoe kom , is dat Afrikaans, net soos ander tale, lewendig is. Daar is nie net een korrekte Afrikaans nie. Hy lewe en hy groei soos ‘n plant. Sekere takke raak oorbodig en sal doodgaan en in onbruik raak. Ander takke sal welig groei en selfs tot ‘n mate hande uitruk. Met tyd sal al die sogenaamde “kakiebos” homself doodgroei as hy nie bestaansreg het nie. Dink mooi daaroor: As ons nie die Taal wil toelaat om te groei nie moet ons hom praat soos ‘n honderd of meer jare gelede. Ek wil my verstout om te vra, “Van waar die probleem met leenwoorde? Afrikaans is vol daarvan van die begin af. Ons het wyd geleen. Daar is omtrent nie ‘n taal waarvan ons nie geleen het nie. Wanneer ons ‘n woord leen moet ons hom leen soos hy in die ander taal bestaan en nie gaan staan en verAfrikaans nie. Taxi, nie taksie nie. Celebrity, nie sellibrittie nie. Hoekom het ons nog steeds ‘n probleem om woorde uit Engels te leen, maar nie uit Frans, Duits en ander tale nie? Na-pyn van die Anglo Boere-oorlog?

T. van Schalkwyk ·

Paplepel

Ek glo nie enigiemand het ‘n probleem met leenwoorde uit ander tale nie, mits daar nie reeds talle soortgelyke Afrikaanse woorde bestaan nie.

Maleis: bobotie, borrie, bredie, sosatie ens.
Portugees: atjar, karba, tjokka ens.
Swart tale: dagha, kaia, donga, indaba ens.

Waar menige liefhebber van suiwer standaard-Afrikaans egter die streep trek, is wanneer “awesome, amazing en stunning” heeltemal onnodig in die plek van wonderlik, asemrowend, verruklik, beeldskoon en pragtig gebruik word.

Hannelie ·

Gie-gie-gie. Lekker lag ek nou vir die “Ingilse” spelling van hierdie skrywe. Ek het nie soseer ‘n vreeslike probleem met die gebruik van Engelse woorde in die Taal nie, want Suid-Afrika word nou geforseer om te verengels. So, mens kan verstaan wanneer hierdie woorde insluip in die daaglikse spreektaal. Ek, bv., werk vir Amerikaners en ek onthou nie altyd onmiddelik wat die Afrikaanse woord vir ‘n ding is nie (al probeer ek my Taal so suiwer moontlik hou). Wat ek wel ‘n broertjie dood aan het, is dat elke Jan Rap en sy maat nou skielik ‘n sanger is en my pragtige Taal verkrag met hulle vieslike uitsprake van woorde, soos 90% van die sogenaamde “Afrikaanse” sangers wat sing van jaai blaai baai maai, rokkie, sokkie, bokkie en baayiebie tjoklits, ens. Dis mos nie musiek nie? Dis ‘n verspotting van Afrikaans en ongure rymelary. Dan het ons ook die sg. “musiek” wat daarby kom. Alles is dieselfde ritme (sokkie-sokkie?) – tjieke-tjieke-tjieke. Dan praat ek nie van die sangers wat “sing” van pikkewyne op die strand of van leeulope en sulke simpel “humor” nie. Dis julle wat Afrikaans afbring na “kommin” status toe. Dit terwyl ons die wonderlikste musiek in Afrikaans kan maak. Ja, daar is sangers wat dit kan doen, maar ons hoor hulle nooit, want dis nie “populêr” nie – en dis ‘n jammerte.

rr ·

Waar kry jy taal waar in jy so lekker kan vloek en jou self uit te druk. Daar bestaan nie so taal nie. Hierdie woorde kom van mense wat ek ontmoet terwyl ons rye staan en wag .

MJL ·

Dit was nou lekker om die kommentare van hierdie artikel te lees. Nie omdat ek noodwendig met enigeen saamstem of verskil nie, maar net omdat almal so mooi in Afrikaans geskryf het. Die meeste artikels se kommentare is maar slordig geskryf. Dit is asof mense soms nie mooi weet wat hulle wil sê of hoe hulle dit wil sê nie en die spelling laat gewoonlik veel te wense oor. Dit laat my so dink aan ‘n deurmekaar kooi.

Ernest ·

Ek stem bykans met almal saam……maar EK voel dat hierdie Afrikaanses (skrywers verenigings en ander) my ‘n PYN in die “alie” gee. Hierdie mense laat my so aan die Broederbond dink, want as jy nie onder hulle bekend is nie sal hulle nooit jou werk publiseer of promoveer nie. Dus skryf ek vir my eie rekening en publiseer self. En nou skryf ek Afrikaans net soos ek wil en oorweeg nie eers kritiek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.