Akademia stel gratis Afrikaanse verwysingsgids vir skole beskikbaar

Hierdie aanlyn hulpbron vir skoliere sal hulle help om makliker en vinniger na bronne vir hul skoolwerk te verwys. (Foto: Maroela Media.)

Die hoëronderwysinstelling Akademia het ʼn nuttige Afrikaanse verwysingsgids ontwikkel om te dien as hulpmiddel vir skoliere sodat hulle nou makliker en vinniger na bronne vir hul skoolwerk op ʼn akkurate en betroubare wyse kan verwys. Deur gepaste verwysingstegnieke te gebruik kan skoliere akademiese integriteit bevorder en plagiaat vermy.

“Wanneer ʼn student studies na skool aanpak, is korrekte verwysings amper so belangrik soos as ʼn studentenommer, veral met die ontwikkeling van tegnologie wat plagiaat makliker kan opspoor,” vertel Leah van Heerden, die projekkoördineerder vir die skolemark by Akademia. “Dit is daarom voordelig om al van skoolvlak af te leer hoe om op ʼn gepaste wyse bronne te erken. Goeie verwysingstegnieke is dikwels ʼn belangrike assesseringskriteria en dit kan jou opdragte van ander s’n onderskei, en selfs bydra om ʼn onderskeiding te verwerf.”

Akademia beoog met hierdie gids om goeie verwysingspraktyke by skoliere te vestig sodat die aanpassing na verdere studies na skool ten opsigte van verwysings nie so groot is nie. “Om bronne op die korrekte manier te verwys, is iets wat ingeoefen moet word, en hoe vroeër skoliere gesout kan wees hierin, hoe meer natuurlik sal hulle dit later kan toepas,” meen Van Heerden. “Dus sal studente meer tyd hê om te fokus op gehalte-inhoud van skoolwerk, eerder as om onnodige tyd te bestee om te probeer uitpluis oor hoe om bronne korrek te verwys.”

Die verwysingsgids is saamgestel deur kundiges by Akademia, met insette van die Skoleondersteuningsentrum, om te verseker dat die inhoud nuttig en gepas is vir skoliere. Onderwysers by verskeie hoërskole het leerders gevra om die gids te gebruik en om te kyk of dit wel gebruikersvriendelik is. “Hierdie verwysingsgids is ʼn kort en bondige dokument wat in verstaanbare taal vir leerders geskryf is om hulle te help met bronverwysings,” reken Jana Terblanche, ʼn onderwysspesialis in Afrikaans by die Skoleondersteuningsentrum. “Die moderne tipografie van die gids maak dit aantreklik en maklik om te gebruik.  Leerders sal definitief baat vind by hierdie handige gids.”

Akademia glo dat die gids, veral omdat dit in Afrikaans beskikbaar is, ʼn goeie brondokument vir Afrikaanse skoliere is om verwysings maklik baas te raak. Verskeie onderwysers wat te hore gekom het van die projek, het Akademia in kennis gestel dat hulle opgewonde is om dit te implementeer en dat hulle wens dat daar reeds so iets was toe hulle op skool was. “Ons glo dat die gids ook onderwysers se hande ligter kan maak deurdat dit maklik in enige vak toegepas kan word,” sê Van Heerden.

As gemeenskapsinstelling is Akademia geroepe om ʼn verskil te maak in die gemeenskappe waarin hulle aktief is, asook om by te dra tot die bevordering van akademiese uitnemendheid. “Met die dat Akademia vanaf 2021 ʼn eerste kwalifikasie in die Fakulteit Opvoedkunde aanbied, is dit net gepas dat ons nou al help om te belê in die toekoms van ons jeug,” sê sy.

  • Skoliere of onderwysers wat toegang tot hierdie nuttige gids wil verkry, kan dit gratis van Akademia se webblad aflaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.