Akademia vier Internasionale Moedertaaldag saam met die wêreld

(Foto: Akademia)

Internasionale Moedertaaldag word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier.

Dié gedenkdag het ten doel om groter bewustheid te skep oor die belang van die behoud en ontwikkeling van alle tale.

Een van die opvallendste kenmerke van die mensdom is die groot hoeveelheid tale wat ons praat, iets wat kleur, diepte en sin aan ons gedeelde menswees gee. Akademia vier saam met talle taalgemeenskappe dwarsoor die wêreld hierdie rykdom van tale.

Volgens studies is daar na raming vandag 6 000 tale wat wêreldwyd gepraat word, maar ten minste 43% daarvan kan binne enkele geslagte uitsterf. In die globale era is dit veral die kleiner tale wat deur groot tale soos Chinees, Engels, Arabies en Spaans verdring word – gegewens wat deur Unesco se taalatlas weerspieël word.

“Akademia hoop dat Internasionale Moedertaaldag daartoe sal bydra dat gemeenskappe dwars oor die wêreld daadwerklike stappe sal doen om die lewensvatbaarheid van hul onderskeie tale te verseker,” het prof. Danie Goosen, akademiese hoof by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Trouens, ons droom daarvan dat die verskillende tale nie net sal oorleef nie, maar dat hulle, soos die ou Griekse denkers reeds gesê het, ook goed sal lewe,” het hy bygevoeg.

Akademia, nou in haar agtste bestaansjaar, bou voort aan Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal. “Een van ons groot uitdagings vandag is om Afrikaans so te versorg dat haar skoonheid nie verlep nie, en dat sy haar aantrekkingskrag as taaltuiste behou,” sê Goosen verder.

Goosen het sy eie moedertaal, Afrikaans, beskryf as ʼn “gemeenskaplike tuiste” vir diegene wat die taal praat. “Akademia word in die besonder verlei deur haar talle segswyses, haar kwinkslae, haar aardsheid, maar ook haar gesofistikeerdheid.”

Ondanks ʼn groot hoeveelheid kundiges wat reeds op die opvoedkundige voordele van moedertaalonderrig gewys het, is daar ʼn neiging by openbare universiteite om Engels as die enigste onderrigtaal aan te neem. Al is die wêreldtaal Engels, plaas Akademia steeds klem op Afrikaans as onderrigtaal.

Luidens die verklaring ontken dié instelling glad nie die belangrikheid van Engels in die internasionale universiteitswese nie. “Ons studente móét vaardig in Engels kan wees. Indien die grondslag in jou eie moedertaal egter nie goed ontwikkel word nie, is dit baie moeiliker om vaardigheid in ander tale te ontwikkel,” het Goosen bygevoeg.

“Akademia is onbeskaamd ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling, maar sy ontken daarmee nié die noodsaak van veeltaligheid nie. Inteendeel, met haar klem op Afrikaans maak sy dié vaardigheid juis moontlik. Daarom sal Akademia nou en in die toekoms voortbestaan en voortbou met haar fokus op moedertaalonderrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.