Alles wat jy nodig het vir die beste redenaarstoesprake

Argieffoto (Foto: klimkin, Pixabay)

Petronell Vorster het vir Afrikaans.com ʼn reeks artikels oor redenaars saamgestel om jou en jou kind se 2018-redenaarservaring te vergemaklik.

Die doel van die reeks artikels is om jou (en jou kind) te bemagtig in die kuns van redenaars. Die reeks artikels bespreek hoe om ʼn redenaarstoespraak te skryf, die verskillende ouderdomsgroepe en die uitdagings wat daar vir elkeen is met handige wenke oor die aanleer en (v)oordra van die toespraak, asook praktiese voorbeelde van wentoesprake.

Hoeveel hulp moet ek my kind gee?

Dit is vanselfsprekend dat jou graad 1-, 2- of 3-kind baie meer hulp gaan benodig as jou ouer kind wanneer dit kom by die skryf van ‘n toespraak. Dit is egter belangrik om jou kind reeds by die skryf van die eerste toespraak van sy/haar skoolloopbaan te betrek. Hoe vroeër jy dit begin doen, hoe vroeër gaan jy jou kind bemagtig om sy/haar eie toespraak te skryf.

Voor jy kan wegspring met die toespraak, maak eers seker van die tema/onderwerp, en die lengte van die toespraak. Onderwysers gee gewoonlik die onderwerpe en verwagte tydsduur van ‘n klastoespraak en die skool se redenaarskompetisie. Eksterne redenaarskompetisies soos Radikale Redenaars, die ATKV-Redenaarskompetisie en Oppie Tong af Redenaars verskaf die inligting op hul webtuistes.

Argieffoto (Foto: Nickbar, Pixabay)

Struktuur van ‘n toespraak

Wanneer jy die volgende struktuur as resep gebruik, kan jou toespraak-koek nie flop nie! Nie net maak die gebruik van ‘n struktuur dit vir jou makliker om die toespraak te skryf nie, dit maak dit ook makliker vir jou kind om te leer en vir die gehoor en die beoordelaars om te volg.

Die basiese struktuur van ‘n redenaarstoespraak bestaan uit:

  1. Die kop van die redenaarstoespraak

Die eerste deel van die toespraak moet die volgende bevat:
– Die aanhef: Hier groet die leerder die voorsitter. “Voorsitter”
– Inleidende paragraaf: In die inleidende paragraaf noem die leerder sy tema/onderwerp sodat die gehoor en die voorsitter weet waaroor die toespraak gaan. Sorg ook dat die inleidende paragraaf die gehoor laat regop sit en hul aandag trek. Jy kan byvoorbeeld van ‘n oulike rympie, aanhaling of grappie gebruik maak. Eisteddfod-pret is ‘n wonderlike boek wat jou hiermee kan help
– Groet die gehoor: Voordat die leerder met sy/haar beredenering begin, moet hul eers die gehoor se teenwoordigheid erken. Die aanspreekvorm gaan afhang van die gehoor. Vir ‘n klastoespraak gaan dit wees “Juffrou en klasmaats” en vir ‘n redenaarskompetisie “dames en here”.

  1. Die lyf van die toespraak

Die lyf van die toespraak bestaan uit drie standpunte:

  1. Opinie/standpunt en rede + ‘n aanhaling om jou opinie/standpunt te staaf.
  2. Opinie/standpunt en rede + ‘n aanhaling om jou opinie/standpunt te staaf.
  3. Opinie/standpunt en rede + ‘n aanhaling om jou opinie/standpunt te staaf.

Dit is belangrik om drie oortuigende standpunte te maak en ook om geloofwaardige aanhalings van relevante bronne te gebruik. Hoe ouer die redenaar, hoe belangriker is die aanhaling. Vir jonger kinders kan “My oupa glo elke hond kry sy dag” werk, maar vir ouer kinders moet die volgende manier van aanhaal gebruik word, “Volgens die bedryfsielkundige, Piet Pompies, in die Huisgenoot van 12 April 2017…”.

  1. Samevatting en einde

Jou samevatting en einde moet jou argument versterk deur al die los drade saam te vat. Gebruik ‘n aanhaling en/of ‘n gesegde deur ‘n beroemde persoon. Jou einde moet ook ‘n bedanking insluit, byvoorbeeld: “Baie dankie vir u aandag voorsitter, dames en here.”

Hoe om jou struktuur lyf te gee

Nou dat jy die struktuur onder die knie het, is dit tyd om die toespraak bietjie lyf te gee. Onthou om altyd ‘n grappie of drie (verkieslik oor iets wat tans relevant is) in jou toespraak te gebruik en om seker te maak die taalgebruik van die toespraak is op die regte vlak vir die spreker. Geen graad 2-kind gaan weet wat beteken “vandag wil ek onomwonde sê” nie… Dit is ook belangrik dat die drie opinies/standpunte wat gebruik word geloofwaardig is en dat die aanhalings wat gebruik word werklik die argument staaf.

Tydsduur van die toespraak

ʼn Vasgestelde tydsduur vir die toespraak word gewoonlik verskaf. ‘n Goeie maatstaf om te gebruik om te verseker jy bly binne die gegewe tydsduur is om tussen 100-130 woorde per minuut toe te laat (‘n mens praat ongeveer 130 woorde per minuut). Sorg altyd dat daar genoeg tyd is om die toespraak te voltooi as die leerder sou vasbrand, as die toespraak byvoorbeeld tussen 4-6 minute moet wees, hou by 5 minute. Gebruik ook ‘n stophorlosie wanneer die leerder die toespraak oefen.

Argieffoto (Foto: klimkin, Pixabay)

Vyf wen-wenke vir ‘n treffertoespraak:

Volg die vyf wenke van Lizelle van Staden, die organiseerder van die ATKV-redenaarskompetisie om ‘n wentoespraak te skryf.

  1. Jou onderwerp is belangrik!

Dink mooi oor jou onderwerp. Oorweeg al jou opsies. Kan jy daaroor redeneer? Kan jy daarteen en daarvoor praat? Besluit wat jy wil sê. Waarvan wil jy die gehoor presies oortuig? Formuleer jou onderwerp sodat die gehoor duidelik kan hoor waarvan jy hulle wil oortuig.

  1. Jou toespraak moet drie goeie standpunte/argumente bevat.

Kies drie logiese en onafhanklike argumente wanneer jy jou toespraak skryf. Onthou ook dat jy moet redeneer en nie net feite en inhoud weergee nie. Jou gehoor moet verstaan hoekom jy jou standpunt inneem.

  1. Jou bronne moet geloofwaardig en van pas wees.

Het jy deeglike navorsing gedoen om aan jou gehoor te bewys jy weet waarvan jy praat? Noem jou bronne deeglik en onthou die vier w’s (wie, wat, waar en wanneer). Byvoorbeeld, “Dawie Roodt, ekonoom, in Maroela Media, 22 Februarie 2018.” Maak ook gebruik van logiese voorbeelde uit jou eie lewe. Die mense wil weet hoe jy oor die saak voel.

  1. Doen moeite met jou taalgebruik

Gebruik goeie Afrikaans wat nie te maklik of moeilik vir jou ouderdomsgroep is nie. Kleur dit in met idiome, spreekwoorde en uitdrukkings. Wees kreatief.

  1. Struktuur is belangrik

Struktureer jou toespraak dat dit logies vloei. Dit help die gehoor om die toespraak te volg en jou argumente beter te onthou.

Argieffoto (Foto: surdumihail, Pixabay)

Wenke om die toespraak te oefen en te leer

Die belangrikste wenk wat Afrikaans.com jou kan gee, is eenvoudig: Oefen. Redenaars word nie gebore nie, maar gemaak! Hoe meer jou kind sy/haar toespraak gaan opsê, hoe makliker en lekkerder gaan die ervaring vir hulle wees.

Onthou: Voordat die leerder nie sy toespraak 110% ken nie, kan daar nie aan die ander aspekte van redenaars aandag gegee word nie. Die hantering van notas, oogkontak, stemgebruik en handgebare moet eers ingeoefen word nadat die leerder sy toespraak vlot kan opsê!

Sorg ook dat jou kind so gou as moontlik met sy/haar notas begin oefen. Hoe meer hulle die notas hanteer, hoe gemakliker gaan hul daarmee wees. Notas is immers daar om jou kind te help indien hy/sy sou vasbrand.

Nog ‘n goeie wenk is om jou kind voor die spieël te laat oefen, en/of ‘n video van hom/haar te maak wanneer hy/sy oefen. So kan jou kind sien waar hy/sy aan ‘n gesigsuitdrukking of oogkontak moet werk, of waar dit goed sal werk en bygevoeg moet word.

Maak ook seker dat jou kind se toespraak die regte lengte is wanneer julle dit perfek ingeoefen het. Die meeste redenaarskompetisies het ligte wat tyd aandui, en niks kan ‘n spreker so omvêr gooi soos ‘n oranje lig wat aangaan wanneer hulle nog nie naby aan klaar gepraat is nie!

Lees die volledige reeks soos oorspronklik gepubliseer op Afrikaans.com:
Deel 1: Só skryf jy ʼn redenaarstoespraak
Deel 2: Verskillende ouderdomsgroepe; wenke oor die aanleer van die toespraak
Deel 3: Só lyk en klink ʼn wentoespraak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Skepties ·

Is ek die enigste moeder wat dink Suid Afrika sit die pot lelik mis oor hierdie redenaarskompetisies? Van Graad 1 af al? Agnee man. Asof ouers nie hard genoeg werk bedags nie, nou sit hulle en toesprake skryf snags ook nog vir hulle arme bloedjies in Graad 1! Wat het van kwaliteit familietyd geword? Ek het ‘n skaam kind, dit sou hom gebreek het om voor ‘n saal vol mense ‘n toespraak wat hy nog nie kan verstaan nie uit sy kop moet leer en op te moet se soos ‘n African Grey pappegaai. Sterkte aan almal betrokke.

Optimis ·

Agge nee wat “Skepties” ek dink dit is heeltemal reg, onthou hoe meer blootstelling jou kind kry hoe beter. Sorg net dat jou kind genoeg speeltyd inkry en gee hom/haar baie liefde. Niks wat mens beter kan maak kan ooit sleg wees vir jou nie. ‘n Graad 1 kind se brein is soos ‘n sponsie, kan baaaie vat :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.