#AlumniVirAfrikaans: Kyk net hoe baie Pukke is ons hier!

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

Ek proe steeds die Akker se koffie op my lippe en ruik steeds die braaivleisvure van die manskoshuise se balkonne af. Ek hoor steeds hoe daar voor my dameskoshuis gesêr word en ek dans steeds op die ritme van die musiek wat in Impala speel. Ek staan steeds trots met my hand op my bors as ek my koshuislied hoor, en voel steeds hoe my voete deur “Lovers’ Lane” en die duikweg stap. Ek hoor steeds hoe medestudente hardop in Afrikaans hulle dankbaarheid teenoor God getuig en onthou in my jonkweesgedagtes die Puk; my Puk soos hy was.

Die dag toe ek met ʼn pragtige dogter geseën is, het ek haar hele lewe voor my sien afspeel. Wat ek kan onthou van hierdie pragtige beeld wat ek in my gedagtes gesien het, was dat sy altyd langs God sal loop, dat sy dankbaar en nederig sal wees, dat haar oumas en ouers haar baie sal bederf en dat sy tersiêre opleiding aan die NWU se Potchefstroomkampus sal ontvang. Ek het haar al tussen die kunsklas en die amfiteater sien loop – trots geklee in haar bytjie-trui.

My hart lê steeds diep gewortel in elke liewe hoekie van daardie kampus en dorp. Daar het my taal en menswees vry gevlieg en in baie opsigte het my jare by hierdie universiteit my menswees gevorm. Ek het die slagspreuk “vry, veilig en voorspoedig” daar beleef, net soos wat ek dit nou binne die Helpende Hand-instelling van die Solidariteit Beweging ervaar.

Die Pukke wat ek graag vir my dogter wil gee is maroen en geel wat in golwe op die Senwes Park-paviljoene beweeg; daardie maroen en geel wat my trots en nostalgies maak. Die Pukke wat my liefdadigheidshart warm laat klop met blikskud en vlotbou tydens jool. Die Pukke waar ek trots in my taal kon sing, dans, skryf en praat. Tussen die akkerbome en studente wat saam lag en gesels wil ek my dogter laat voel hoe dit voel as die hele land Aardklop toe kom – die tye wanneer Afrikaans gevier word! Ek wil graag vir haar handevol joolplaasblomme gee, want dit is waar ek vir die eerste keer beleef het wat tradisie is. Ek wil vir haar vriendskappe gee wat ʼn leeftyd kan hou, vriende wat dieselfde waardes as sy het. Sy sal sekerlik ook graag in die Kalfyn en by die Fanie wil swem. Ek gun haar ook die land se topdosente wat my so deeglik opgelei het.

Ek sou graag wou hê sy moet ook eendag by ʼn tafel in die Draak saam met haar klasmaats sit en gesels oor die manskoshuis met wie hulle sleep. Ek sou graag wil hê dat sy haar graadkry met lekkerkry klaarkry. Ek sou graag vir haar PUKfm en die Wapad wou gee, asook lang aande se studeer in die Ferdinand Postma-biblioteek.

Na afloop van my studies moes ek die werksplek betree en die Puk het my daarvoor gereedgemaak. Toe ek die eerste dag my voete op kampus sit, moes ek vinnig grootword. My ouers het my natuurlik altyd bygestaan, maar daar was ek: jonk en bang vir hierdie nuwe hoofstuk in my lewe. ʼn Mens ken niemand nie en ek was ook nie eers seker of ek die regte studierigting gekies het nie. Die aktiwiteite, leiers en dosente het my egter dadelik tuis laat voel. Daar was soveel om aan deel te neem en soveel om te sien. Ek sal nooit daardie opwinding vergeet nie. Dit het gevoel of ek werklik kan wéés; net kan wees wie ek is. En die beste van als? Daar is ek aanvaar nes ek is.

Ek is vandag geseënd en gelukkig in my grootmensskoene, maar ʼn mens se hart hunker na jou alma mater. My hart verlang soms na die aande wat ek saam met my koshuisvriendinne op die dak gesit het, ook na die vroegoggendure se geskarrel om al ons eksamenantwoorde deur te werk. Ek mis soms die groot kunsgeskiedenishandboek wat swaarder as ek sélf was, en ook die uitputtende O&B-ure. Ek verlang na die Puk.

Pukke, ek verlang na jou!

Die Pukke wat ek vir my dogter wil gee, sal wees soos die Pukke met sy groen grasperke, eindelose potensiaal en sy are propvol kultuur waarop ek destyds verlief geraak het. Heil Puk.

  • Kliek hier om tersiêre opleiding in Afrikaans te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Antoinette

So voel ek oor by koshuisjare by Tuks. Veilig, sokkies (ons het dit bokjolle genoem), serenades, tennisbane waar Skip nou staan, klas bunk, jakarandabome, middernagfeeste as een van ons groepie verjaar het. Dis meer as 55 jaar gelede en ons groepie leef nog almal en hou elke dan en wan reunie.
Ongelukkig is Tuke nie meer wat dit was nie en dis geen plesier om op die kampus te wees nie. Wat ‘n jammerte.

NOBODY

HEY PUK !