#AlumniVirAfrikaans: Maar dit vóél dan soos gister

universiteit van die vrystaat kovsies

Universiteit van die Vrystaat. (Foto: UV/Facebook)

Deur Blou Willem Theron

My verbintenis met Kovsies is hierdie jaar ʼn halfeeu oud. Afgesaag om te sê dit voel soos gister, maar dit vóél dan soos gister! Elke tydvak se manne voel seker dat hulle in die werklike goue jare op kampus was, maar min van my tydgenote sal van my verskil as ek sê die sewentigerjare was die beste van die goue jare. Toe ons al baie was, maar nog elke ou wat saak gemaak het (ook selfs by ander koshuise) op die naam geken het. Toe klasgeld R160 ʼn jaar was, ongeag jou kursus, en koshuisgeld een rand per dag was (drie etes ingesluit!). As ek toe maar besef het hoe bevoorreg ek was! As ek terugdink aan my en ou Barry, my maat sedert standerd twee, se tye in Reitzkamerwonings is dit lag, sing, nog lag en rugby wat by my opkom. Ek het seker geswot ook, maar onthou daarvan bitter min. Al kennis wat ek oorgehou het, was hoe om ʼn bierbottel met my tande oop te maak, en vandag skroef hulle af. Maar waarvan ek wel baie oorgehou het, is vriende.

Een van die dinge wat die ma’s deesdae baie senuweeagtig maak is die gedagte dat elke koshuis ʼn kroeg het (ook genoem ʼn bond, soos in James Bond) waar die manne ʼn knertsie kan vat na ure se harde leer of vry. Die ander ding wat die ma’s nog meer op hul senuwees maak, is die gedagte dat die meisies sommer enige tyd daar by die manne ʼn draaitjie kan kom maak. Nee kyk, in ons tyd was al die watergate mos in die stad en al die meisies agter slot en grendel. Ek sal nooit vergeet hoe lewensgevaarlik dit in ons eerste jaar was as ons in die stad ʼn verversinkie moes gaan geniet het nie. En ek praat nou nie van dronkbestuur en daai klas van ding nie. Nee, daar was die veel groter lewensgevaar, naamlik dat ʼn senior ons sou sien daar waar ons jarre agter die stasie in ʼn obskure kroeg ʼn bier of twee gaan soek het. Die feit dat ons nie in ons eerste jaar ʼn kar mag besit het nie, het die operasie so ingewikkeld gemaak dat dit jou vir die res van jou lewe ʼn renons in drank moes gegee het, maar ongelukkig het dit nie.

Ek en Barry het ʼn skoolmaat, ou Aap, uit Pretoria gehad wat daar in Bloemies by die weerburo gewerk het. Aap het ʼn kar gehad en was ʼn man wat die lewe en Red Heart Rum geken het. In 1971 was dit die 10-jarige herdenking van ons land se Republiekwording en was die hele stad se lamppale in die ou oranje, blanje, blou landsvlae getooi. Al wat ek kan onthou, is dat ons een aand saam met Aap en ʼn ene Captain Morgan (nog een van Aap se ou vriende) inry toe was, en dat ek vandag nog van daai ou landsvlae oor het, as iemand dalk soek …

Later jare kon ons darem in meer styl ʼn dassie aansit en laataand daar in die Lokomotief- dameskroeg by die President Hotel ʼn ou ietsie of ietsies gaan geniet. So sit ons een aand rustig daar en kuier en vra Aap toe die kroegman (so ʼn fynerige kêrel wat gestaan en glase poleer het) vir ʼn bietjie grondboontjies. Die versoek word toe nie toegestaan nie en die glaspoleerder begin toe sommer om die Lokomotief se ligte af te sit, waarop Aap toe ʼn blommerangskikking (so ʼn “posy”) gryp en die blommetjies een vir een begin opeet. Die volgende oomblik is daar twee konstabels van Parkweg-polisie in die kroeg en wil hulle ons van diefstal aankla. Barry het regte geswot maar nog nie genoeg om met gemak met die gereg te kon bots nie en verduidelik toe vir die konstabels dat niks weg is nie, en dat die blommetjies net ʼn bietjie “getrim” is. Duidelik net saakbeskadiging en nie diefstal nie. In elk geval, nadat die konstabels met Parkweg oor die radio gepraat het, het die kroegmannetjie vir ons amnestie aangebied en is ons maar eerder vort. Die volgende dag bel ek Aap se kantoor om te hoor hoe dit gaan. “Nee hy’s nie hier nie,” sê die meisie. “Hy’t vroeg gebel om te sê hy het ʼn maagaandoening!” Ja, net so! Daai blommetjies! En ja, ek wonder … Bestaan die Lokomotief en Fonnies nog?

Ek slaan eendag Kovsies se Eeufeesbundel oop en sien daar ʼn baie raak beskrywing van die legendariese prof. Herman Strauss. Hy word beskryf as “ʼn hoflike, ouwêreldse heer, altyd formeel en netjies geklee, met sy kenmerkende hoed wat hy altyd gelig het as hy iemand groet”. Sal ek dit ooit vergeet! In my dae in Reitz het die ouens saans daar oorkant in die LO-saal karate geoefen en dan bloedstollend saam met hulle passies geskree. Daai aand kom ek van die telefone af en sien ʼn skadu van iemand wat om die draai in aantog is. Ek spring met ʼn ewe-bloedstollende “hieee-haaa!” en ʼn paar karatekappe om die hoek, net om my versteende koshuisvader, die nimlike prof. Strauss, voor my te sien. Hy herstel egter merkwaardig vinnig, lig sy hoed en sê: “Goeienaand, die heer Theron, voorwaar ʼn vreemde manier van groet!” Ja-nee, selfs in daardie oomblik van leeuskrik nog steeds die perfekte heer! (Die proffie, nie ek nie.)

Nou ja, “back to the future”: die berugte 1973. Dis die jaar toe ʼn klomp Kovsies in die aanloop tot die jool die Bloutrein daar op Bloemfonteinstasie spierwit met emmers en emmers vol kalk geverf het. Toe die trein daar wegtrek op pad Kaap toe, toe’s dit die Wittrein. Ja, daar was mos ʼn prys vir die koshuis wat die beste jool “set” kon uitdink om mediadekking te probeer kry en elke koshuis wou snaakser, stouter of maller as die ander wees. Ons het byvoorbeeld een nag die FVB-sentrum in die middestad se spuitfontein vol seeppoeier gaan gooi, min wetende van die duur visse binne-in. Die volgende oggend borrel die skuim so twee verdiepings hoog daar uit die sentrum en moet hulle die brandweer kry om te kom help. Ongelukkig vrek ʼn klompie visse en die DBV kryt ons in die Volksblad uit as gewetenlose vismoordenaars – nou nie eintlik die publisiteit wat die rektor en joolvoorsitter in gedagte gehad het nie! Toe gaan koop ons by ʼn troeteldierwinkel (nie ʼn viswinkel nie!) so vier vissies en vang nog so ʼn stuk of sestig van daai groot rooies in die stad se ander parke en gaan “launch” hulle met groot fanfare in die FVB se dam. Toe’s ons weer in die koerant as die goeie ouens!

Ons volgende jool “set” (steeds in 1973) was om die moeder van alle verkeersopeenhopings in Bloemfontein se middestad te reël, wat nou nie juis te moeilik was nie. Al wat gebeur het, was dat so ʼn dertig Reitzmanne se voertuie een middag vieruur daar in Maitland- en St Andrewsstraat onverklaarbaar gelyk onklaar geraak het. Toe klim ons almal uit en begin met “overalls” aan die enjins werk. Daai middag het ek ʼn spietkop sien huil van boosaardigheid toe een van die ouens sê hy kan nie ry nie en net aangaan om sy kar se pap battery met ʼn fietspomp styf te pomp.

Ons het joolvlotte met draadrame en gevoude papiertjies gebou. Weke daarna het jy nog pienk oë van die sweisvlamme en tenniselmboog van die papiertjievouery gehad. En ja, ons vlotte het ook aan die brand geslaan van die gesweisery, maar darem gelukkig ʼn paar aande voor die beoordeling. Ons het snaaks aangetrek en met ʼn blik in die strate rondgedans – maar darem net in ons eerste jaar. Ek het in my eerste jaar ʼn pruik opgesit en met ʼn tennisraket die hippie-Springbok, Ray Moore, nagemaak. Daarna het ons in ons tweede jaar ewe grootmeneer op die joolvlot gery. En ja, dis waar dat die polisie my na 1973 se jool op die tennisbaan met ʼn vangwa kom oplaai het, maar ek het steeds nie ʼn kriminele rekord nie. Dis egter ʼn storie vir ʼn ander dag. O en nog iets – die trompoppies se rokke was in 1973 korter as ooit voor of na dit. Ons het gedink dit gaan korter word, maar dit kon nie. Ai mense, hoe verlang ek nou na 1973!

Ek het deur die jare baiekeer aansoek gedoen om terug te gaan koshuis toe, maar my vrou en die rektor wou dit nooit goedkeur nie. Hoekom weet ek nie.

  • Kliek hier om tersiêre opleiding in Afrikaans te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Dankie Blou Willem. Jy laat my met nostalgie dink toe ek eerstejaar was dieselfde periode in Pretoria. Die vooregte wat jy as senior geniet het en toe poetse nog onskuldig was. Dit was ‘n voorreg om daai jare op Varsity te kon wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.