Amerikaner leer op sy eie Afrikaans praat

Tom West. Foto: www.intermarkls.com

Tom West. Foto: www.intermarkls.com

ʼn Amerikaanse regsgeleerde en taalpraktisyn, Tom West, wat tans in Suid-Afrika is vir ʼn seminaar oor die siviele prosesreg, het op sy eie Afrikaans leer praat deur slegs gebruik te maak van die internet, boeke en musiek.

West het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hy het op ʼn jong ouderdom besef dat hy ʼn aanvoeling en liefde vir tale het. As hoërskoolleerling het hy op sy eie Spaans en Frans leer praat. “Ek het ná skool in die regte gaan studeer, maar kon nooit ontslae raak van my liefde vir taal nie. In 1999 het ek my liefde vir taal en die reg verweef.”

Hy het ná sy regstudie ʼn voorgraadse diploma in Frans en ʼn nagraadse diploma in Duits voltooi en is deur die Amerikaanse vertalersvereniging geakkrediteer vir vertalings van Frans, Duits, Spaans en Nederlands na Engels. Hy is tans sewe tale magtig: Duits, Frans, Afrikaans, Engels, Russies, Nederlands en Spaans.

West vertel hy het ʼn paar jaar gelede ʼn erediens by ’n kerk in Atlanta in die VSA bygewoon waar ʼn Engelssprekende Suid-Afrikaanse predikant die diens gelei het. “Hy het baie Suid-Afrikaners na die kerk getrek. ʼn Afrikaanse sopraan, Sonja Allen, het ook dié dag opgetree en sy het my baie gefassineer. Van daardie dag af was ek geweldig geïnteresseer in die Afrikaanse taal.”

Van sy eerste ontmoetings met Afrikaanse musiek was dié van die bekende komponis S Le Roux Marais. “Ek het ook verskeie boeke aanlyn gekoop en vir my ʼn HAT bestel. Ek luister graag na musiek van Mimi Coertse en die RSG-program Die tale wat ons praat. Wanneer ek na al die elemente luister, probeer ek die klanke namaak tot ek mettertyd die woorde reg kan uitspreek.” Dit is beslis ’n wenresep wat werk!

Hy sê hy het eers onlangs Afrikaans met ander mense begin praat. “Twee weke voor ek Suid-Afrika toe gekom het, het ʼn egpaar in ’n ouetehuis in Texas my genooi om by hulle te kom kuier. Hulle het voorheen in Pretoria gewoon en het gesê ek moet my Afrikaans oefen. Hulle was vol lof vir my vermoëns en het my baie komplimente gegee.”

West sê enigiemand kan ʼn taal aanleer, mits hy ʼn liefde daarvoor het en toegewyd is. “Ek vra almal in Suid-Afrika om met my Afrikaans te praat om my vermoëns te verbeter. As jy lief is vir taal en graag iets wil aanleer, kan jy.”

West bied op 18 Februarie ʼn seminaar aan by die Universiteit van Johannesburg (UJ) oor die belangrike rol van taal in die Suid-Afrikaanse siviele prosesreg. “In die seminaar beskou ons die terminologie van die Suid-Afrikaanse siviele prosesreg in Engels en Afrikaans. Siviele prosesreg is ’n besonder geskikte onderwerp vir vertalers en tolke wat nie die reg bestudeer het nie, aangesien Jan Alleman meestal geen kennis daarvan het nie. Die meeste mense het egter wel ’n bietjie ervaring in ander regsgebiede, soos kontraktereg, familiereg en eiendomsreg.”

Tydens die seminaar word die siviele prosesreg vanuit ʼn taalhoek bestudeer. “Ons sal die siviele prosesreg vanuit ’n taalkundige perspektief ondersoek, met ander woorde, sinonieme, antonieme en kollokasies, en sal die twee soorte prosedures, naamlik aksies en aansoeke, in die Suid-Afrikaanse siviele prosesreg bespreek. Ons sal ook kyk na die hulpmiddels wat ʼn regsvertaler kan help.”

Die seminaar vind plaas in UJ se konferensielokaal C, Madibeng-gebou, op die Kingsway-kampus in Auckland Park, Johannesburg. Bespreek by Stefanie Dose per e-pos by [email protected]. Die werksessie is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

catrien olivier ·

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van ‘n Amerikaner wat wil Afrikaans praat en boonop GOEIE Afrikaans. Wens daar was meer jong Afrikaanssprekendes wat wil AFRIKAANS praat i.p.v. gemengde gemors.

Gwen ·

Ek het ontsag vir mnr. West. Om ’n klein taal aan te leer, en dit dan nog Afrikaans ook, dwing eerbied af. Al wat jammer is, is dat ons landgenote sy nuutgevonde liefde vir Afrikaans gaan toeskryf aan rassisme. Hy gaan buitendien oral Engels moet praat.

GES ·

Baie geluk mnr West dit wil gedoen word. U dwing geweldig baie respek af en ons vertrou dat u, u gawe verder sal ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.