ANC buig voor altaar van koloniale onderdrukkerstaal

moedertaaldag

Argieffoto.

Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes kan met reg veronreg voel oor die ANC-regering se hantering van hul taal. En, al word lippediens aan die regte van die swart tale betoon, moet al die inheemse tale – waaronder Afrikaans – aan die agterspeen suig terwyl (slegte) Engels in die praktyk tot enigste amptelike taal verhef word.

Suid-Afrika is natuurlik nie die enigste land ter wêreld met ’n minderheids- en ’n taalprobleem nie. Globaal is daar hoofsaaklik vyf modelle waarvolgens die saak gehanteer word en is. Kom ons kyk na hulle.

Die eerste is die dwangmodel, wat in Frankryk die meeste aanhang geniet.

Die huidige standaardfrans is gegrond op die Paryse dialek, wat ten tyde van die Franse Revolusie in 1789 deur slegs 3 miljoen van die 25 miljoen inwoners van die land gepraat is. Ná die revolusie het veral Napoleon begin met ’n beleid om die chaotiese staats- en ekonomiese struktuur te vereenvoudig. Dit was die begin van ’n vergaande sentralisasie, waar die sentrale regering in Parys veel meer mag na hom getrek het, en plaaslike streeksverskille stelselmatig uitgewis het.

Deel van dié beleid was ook om streektale en dialekte aktief met standaardfrans te vervang. En dus is tale soos Oksitaans en Bretons, eens bloeiende kommunikasiemiddele met ’n lewendige literatuur, min of meer doodgedruk totdat hulle vandag sterwend is. Hoofsaaklik ouer mense praat dit nog.

Die Vlaamse dialek langs die Belgiese grens is reeds vir alle praktiese doeleindes so dood soos ’n mossie.

Die tweede is die smeltkroesmodel, wat veral in Amerika nagevolg is. Die Amerikaanse bevolking bestaan uit ’n hele horde groepe, van Latyns-Amerikaners tot Chinese, Japanners en Viëtnamese, asook Europeërs van Britse, Duitse, Italiaanse of Skandinawiese afkoms.

Dié groepe is dikwels baie trots op hul herkoms, maar dit is eintlik slegs die Latyns-Amerikaners wat moeite doen om hul taal, Spaans, in ere te hou. Wat die res betref, is almal in ’n (Engelstalige) smeltkroes ingetrek – sonder staatsdwang, slegs deur die oorweldigende Engelstalige omgewing daartoe beweeg.

’n Derde model is dié van welwillende verwaarlosing, wat ’n kenmerk van die ou Sowjetunie was.

Dié land het ook ’n hele horde tale en etniese groepe geherberg, wat almal teoreties gesproke volgens wet gerespekteer is. In die praktyk het hiervan nie veel tereggekom nie; daar was wel ’n subtiele dwang om Russies te word (waarvan die Georgiër Josef Stalin dalk die beste voorbeeld was). Die tale is in die praktyk aan verwaarlosing prysgegee.

Ten vierde is daar die Afrikamodel. Een van Afrika se wesenlike probleme is dat sy grense in koloniale tye getrek is sonder om die omstandighede op voetsoolvlak in ag te neem. Die gevolg is dat etniese taalgroepe soms arbitrêr deur die kunsmatige grense geskei word, maar ook dat verskeie groepe in een staat saamgegooi word, wat konflik aanwakker.

Dus word inheemse tale in mindere of meerdere mate op papier erken, maar taalbewustheid word wyd gesien as iets wat die etniese fragmentasie aanhelp. Die koloniale taal, of dit nou Engels, Frans of Portugees is, is volgens dié idee ’n oorkoepelende en verenigende krag wat ten koste van die inheemse tale bevorder moet word.

Dikwels word die inheemse tale ook as ’n oorblyfsel van die ou stamkultuur gesien, en dus min of meer as iets agterliks waarop neergesien word.

Ten slotte is daar die Europese model. Europa het ook taaldwang geken: Pruise en die verenigde Duitsland het die Poolse taal byvoorbeeld vergeefs probeer dooddruk, terwyl Italië ná die Eerste Wêreldoorlog dieselfde met die Duitse dialek in Suid-Tirool (wat by Versailles van Oostenryk afgesny en aan Rome gegee is) probeer doen het.

Die einde van die Tweede Wêreldoorlog was wat dit betref ’n keerpunt. Die talle inheemse minderheidstale in Europa geniet nou wetlike beskerming, en dikwels ook aktiewe staatsteun.

Dit geld byvoorbeeld vir die Duitssprekendes in die suide van Denemarke en die Deenssprekendes in die uiterste noorde van Duitsland, die Sorbiessprekendes (’n Slawiese taal) naby die Poolse en Tsjeggiese grens in Duitsland, Frans en Nederlands in België, asook Fries in Nederland. Selfs Frankryk beweeg die afgelope jare weg van sy dwangmodel.

Talle van dié tale ontvang staatsteun vir die instandhouding van publikasies, radiostasies en selfs moedertaalonderwys. Nie alleen word die tale dus erken nie; hulle word aktief deur die staat bevorder.

As ek die ANC-beleid moet tipeer, kom dit neer op ’n kombinasie van modelle drie en vier. Met ander woorde, die Sowjetmodel van welwillende verwaarlosing en die Afrikamodel waar die koloniale taal (in ons geval Engels) ten koste van die inheemse tale bevorder word.

Natuurlik geld dit nie vir elke enkele ANC-lid nie; daar is uitsonderings wat die reël bevestig. Maar as byvoorbeeld min. Blade Nzimande praat oor die noodsaak om swart tale te bevorder, kan ’n mens maar gerus aanneem dat hy dit slegs pligshalwe doen en dat hy niks daarvan werklik bedoel nie.

Maar wanneer hy dreig om Afrikaanse universiteite aan te pak en Solidariteit se eie tersiêre inrigting, Akademia, te sluit, moet ’n mens hom baie ernstig opneem.

Die ANC doen in die praktyk net mooi ’n ronde nul om inheemse tale te bevorder. Hy buig diep voor die altaar van die koloniale verdrukkerstaal Engels. En hy kom daarmee weg, want ongelukkig bestaan daar in swart kringe in Suid-Afrika slegs ’n baie beperkte bewussyn van die voordele wat die ontwikkeling van swart tale inhou.

Die enigste veelkleurige blom wat in ’n vaal, kleurlose taallandskap bloei, is die pogings aan die Universiteit van KwaZulu-Natal om Zoeloe tot akademiese taal op te hef. Onlangs het ’n vrou aan dié universiteit selfs haar doktorale proefskrif in Zoeloe geskryf, ’n uiters lofwaardige stap.

Dit gaan dus uiteindelik nie net om die oorlewing van Afrikaans nie, hoe belangrik dit ook al is. Ons Afrikaners kan uiteraard hulle landsgenote nie dwíng om taalbewus te word nie, maar ons kan wel vanuit ons eie agtergrond in gesprek met hulle tree en ons hulp aanbied.

Uiteindelik sal sprekers van die Suid-Afrika se ander amptelike landstale egter self die wil moet toon om hul identiteit, hul diepste wese, nie te versaak nie. En soos ons, sal hulle dit moet doen sonder om die eie identiteit tot ’n ongesonde fetisj te verhef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Loeis ·

Die Hollanders het nooit planne gehad om hierr te kolonialiseer nie. Ons voorouers het eers wegbeweeg toe ‘n werklik koloniale moondheid, Britanje, dit hier begin doen het. Dit is ook die Britse weermag wat hulle aan volksmoord skuldig gemaak het, Engelse wat Gandhi van ‘n trein afgegooi het, die Britse kolonialis Milner wie die grondslag vir die pasboekstelsel daargestel het.

Afrikaans is nie die taal van die onderdrukker nie. Engels is. Dis flippen ironies dat die ANC en hulle regering juis Engels verhef. Maar dis nie waaroor dit gaan nie. Die media het hulle oortuig dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is. Hoeveel van ons koop daardie koerante?

David Ras ·

Jy is heeltemal korrek. Oorspronklik was die Kaap bekend as “de Kaap de Goede Hoop” en was dit nooit ‘n kolonie van Nederland nie. Die bestuur van die Kaap was destyds beheer deur die VOC–(Verenigd OosIndisch Kompanie) en hulle vlag het in die Kaap gewapper, nie die Nederlandse vlag nie.
Hierdie situasie het gegeld vir 154 jaar tot vanaf 1652 tot 1806 ( die kort periode van die eerste Britse besetting asook die Bataafse republiek is hierby ingesluit) –en het die Kaap in 1806 koloniale “status” verkry en van toe af bekend gestaan as die Kaap kolonie.
Eintlik kan met reg beweer word dat toe die Engelse die Kaap kom annekseer (lees :steel) het, het Afrikaans nog nie eers bestaan nie. Dus is Engels die taal van die Koloniale Onderdrukker.

Johannes Comestor ·

Afrikaans is van sowel Europese as plaaslike oorsprong. Wanneer die ANC van Afrika- of inheemse tale praat, word Afrikaans uitgesluit.
Na aanleiding van die verzoeloe van die Universiteit Natal: Watter persentasie skripsies, magisterverhandelings en doktorale proefskrifte, asook professorale intreeredes, word in Afrikaans gelewer, bv aan die Universiteit Stellenbosch? Sover ek weet, word niks gedoen om dit aan te moedig nie; eerder die teenoorgestelde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.