Annelise de Vries: ‘Taaldag is iets om te herdenk’

Annelise de Vries is onder meer ʼn dosent in Afrikaans by Akademia. (Foto: Verskaf)

Taalaktivis. Dit is hoe dr. Annelise de Vries, onder meer ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia, haar werksaamheid in die Afrikaanse taalwêreld saamvat.

Annelise dien tans as ondervoorsitter van die direksie van die Afrikaanse Taalraad en sy is ook een van die Afrikaanse Taalkommissie se taalkundiges vir die termyn 2022 tot 2024.

Met die oog op Afrikaanse Taaldag wat jaarliks op 14 Augustus herdenk word, het Annelise met Maroela Media gesels oor hoe haar pad geloop het tot waar sy vandag is en wat die viering van Taaldag vir haar beteken.

Die komvandaan van Afrikaans 

Met ʼn koppie boeretroos in die hand vertel Annelise dat die geskiedenis van Afrikaans vir haar die kern van Taaldag behoort te wees. Dit is vanjaar 147 jaar sedert die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl tot stand gekom het, en sedertdien het verskeie rolspelers hulle onverpoosd vir die voortbestaan van Afrikaans beywer.

“Afrikaanse Taaldag is iets om te herdenk, want as jy nie iets herdenk wat jou gebring het tot waar jy is nie, wat laat jy dan vir die toekoms na?” meen Annelise.

Op hierdie dag wil sy hê dat Jan Publiek die viering van Afrikaans moet waardeer, en sy wil mense aanmoedig om die geskiedenis van die taal te bestudeer en te verstaan.

“Dit is nie sommer net ʼn datum nie. Die totstandkoming van die GRA is een van die gebeurtenisse wat daartoe gelei het dat ons Afrikaanse skole kan hê, Afrikaanse media kan lees, en in Afrikaans met enige ander taal in wêreld kan kompeteer.”

Annelise is ʼn kenner op die gebied van toegepaste linguistiek, wat taalbeplanning en forensiese linguistiek insluit, en sy beywer haar vir die bevordering van moedertaalonderrig.

Annelise de Vries by ‘n konferensie oor forensiese linguistiek in Protugal. (Foto: Verskaf)

Moedertaal, sê Annelise, is die taal wat jy eerste geleer het, die taal wat jy die beste verstaan en die taal wat jy die meeste gebruik om jou menswees uit te druk.

Bo en behalwe dat dit ʼn hoeksteen vir kinders se algehele ontwikkeling is, is moedertaalonderrig voordelig vir die gemeenskap en dit kweek ʼn begrip vir ander tale, verduidelik Annelise.

“Leerders wat hulle moedertaal onder die knie het, leer Engels soveel makliker aan en hierdie veeltaligheid dra juis by tot beter begrip van ander tale.

“Verder is ʼn persoon wat hom of haar goed kan uitdruk meer selfversekerd. ʼn Kind wat twee tale magtig is, het nog meer selfvertroue, aangesien die beheersing van twee tale voordelig is in ʼn multikulturele land soos Suid-Afrika; in die werksplek en op sosiale vlak.”

Annelise se komvandaan

Oor haar eie komvandaan onthou Annelise die grootwordjare op Ermelo en hoe hulle gesin deel van ʼn plattelandse gemeenskap was.

“Ek het fantastiese kinderjare gehad. My ouers was nog altyd by die gemeenskap betrokke; my pa was in ʼn stadium die burgemeester van Ermelo. Dit was lekker om almal te ken en betrokke te wees.

“Die grootste lesse wat ek by my ouers geleer het, is om baie, baie hard te werk en passievol te wees oor dit wat jy doen – op verskillende terreine, nie net jou beroep nie,” sê sy.

Annelise is die jongste van drie kinders en sy het by Laerskool JJ van der Merwe in Ermelo skoolgegaan. In 2003 het hulle gesin Pretoria toe getrek waar sy matriek aan die Hoërskool Garsfontein behaal het.

Na skool het Annelise op die Noordwes‑Universiteit se Potchefstroomkampus gaan studeer. Sy het twee BA-grade, een in kommunikasiestudies en een in pastorale begeleiding en psigologie, asook ʼn honneurs- en meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, by die NWU voltooi. Daarna het Annelise ʼn doktorsgraad in toegepaste linguistiek by die Universiteit van Johannesburg verwerf.

“Ek wou as kind eintlik drama studeer het, maar dit het nie gerealiseer nie,” vertel Annelise. “Die plan was ook nie eintlik om in ʼn taalrigting te beweeg nie, ek het universiteit toe gegaan om kommunikasie te studeer.”

Annelise de Vries saam met haar man en twee spruite. (Foto: Verskaf)

Annelise het nou die dag op ʼn ou weergawe van Skryf Afrikaans van A tot Z afgekom, toe val daar ʼn papiertjie uit die boek wat aandui dat sy in die laerskool ʼn boekprys vir die beste leerder in Afrikaans gewen het. “Toe dink ek daaraan dat dit eintlik is waar alles begin het.”

Een van die goed wat Annelise uit haar kinderdae onthou en wat ook grondwerk gedoen het vir waar sy vandag is, is dat haar ma van jongs af ʼn liefde vir lees by hulle gekweek het.

“My ma het ons weekliks na die dorpsbiblioteek geneem om boeke uit te neem. Sy het ons beloon vir elke boek wat ons deurgelees het,” sê sy.

Hoewel Annelise min aanmoediging nodig gehad het, het haar broer dié geleentheid gebruik om sy entrepreneursvaardighede te slyp, vertel sy laggend.

“Ons kon nie my ma ʼn rat voor die oë draai nie, want sy het ons agterna gevra waaroor die boek gaan en dan moes ons vir haar kon sê.

“My broer, wat met ʼn kop vir besigheid gebore is, het altyd met my onderhandel om sy boeke namens hom te lees. Hy het my betaal sodat ek vir hom kon vertel waaroor die boek gaan.”

Terwyl Annelise, die jongste van drie kinders, sit en gesels, kom jy agter dat haar mense en geloof van meet af ʼn onlosmaaklike deel van haar lewe is.

“Geloof is my anker. Ek kan amper nie eers dink waar ek vandag sou wees as dit nie vir God se genade was nie.”

Dit is ook opmerklik dat Annelise haar beywering vir Afrikaans as ʼn lewenstaak beskou. Haar liefde vir die taal word nie ingeperk nie, dit is in elke faset van haar lewe verweef.

Wanneer geleenthede soos Afrikaanse Taaldag herdenk word, is dit asof Annelise se reeds borrelende passie vir Afrikaans sigbaarder, vuriger en aansteekliker is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.