ATKV-Lenteskool: Kom leer by liefdesverhaalskrywers

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Vir liefdesverhale raak die mensdom nooit moeg nie. Verlief raak is immers een van die opwindendste én ingrypendste avonture wat ʼn mens kan beleef en daarom is daar voortdurend ʼn behoefte aan nuwe skrywers van romantiese fiksie.

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) bied op 2 en 16 Oktober in samewerking met Penguin Random House se Romanza-afdeling ʼn aanlyn kursus oor romantiese fiksie aan.

Bekende en bekroonde skrywers van romantiese fiksie soos Sophia Kapp, Elsa Winckler en Didi Potgieter, asook Charlene Hougaard en Cliffordene Norton, albei ervare redakteurs by die uitgee en bemarking van liefdesverhale, tree as sprekers en gesprekleiers op.

Verskeie liefdesverhaalgenres soos die romanse en liefdesroman kom onder die vergrootglas. Hans du Plessis, eerste direkteur van die ATKV-Skryfskool en bekroonde digter en romansier, kom gee ook wenke oor die skryfproses.

Voornemende kursusgangers moet ʼn kortverhaal met ʼn romantiese strekking (ongeveer 1 500 woorde) of ʼn eerste hoofstuk (nie meer as 3 000 woorde nie) van ʼn liefdesverhaal by die ingevulde inskrywingsvorm aanheg.

Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings is 24 September en inskrywingsgeld is R1 000 per persoon.

Vir meer inligting stuur ʼn e-pos vir Kobie van Aswegen na [email protected] of bel haar by 018 299 1783.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.