ATKV se Inkstories: Afrikaans gevier, selfs in gewaagde literêre genres

Leon van Nierop (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Ek gesels vanaand met uitgewers en jong, dapper skrywers oor die vernuwende rigting wat die Afrikaanse letterkunde nou inslaan,” het Leon van Nierop tydens dié geleentheid gesê.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het vanjaar sy Inkstories-inisiatief afgeskop met ʼn vurige paneelgesprek oor dié soort literatuur in Afrikaans, wat grense uitdaag.

Die gesprek het ruimte gelaat vir Reney Warrington en Johan Jack Smith om breedvoerig oor die navorsing en skryfproses van hul onderskeie romans, Smit Motors en Zola, te gesels. Albei skrywers se boeke het heelwat kommentaar uitgelok. Warrington se roman handel oor ʼn liefdesverhouding tussen twee vrouens, terwyl Smith sʼn rassespanning en misdaad op kritiese wyse bekyk.

“Die genres wat ter sprake is, word in ʼn mindere mate ontgin. Daar word nie dikwels hieroor geskryf nie,” het Van Nierop bygevoeg. Van Nierop wys ook daarop dat Smith se roman nie poog om gebeure op ʼn polities korrekte wyse uit te beeld nie.

Inkstories spruit voort uit ʼn behoefte om Afrikaanse letterkunde te bevorder en “gewone mense” daaraan bloot te stel.

“Dit het ook ten doel om aan taalliefhebbers wat nie boekgesprekke by kunstefeeste kan bywoon nie, die geleentheid te bied om deel te neem aan die soort gesprekke,” het Mandie Ehlers, projekbestuurder by die ATKV, tydens die verwelkoming gesê.

Dié geleentheid het Woensdagaand by Exclusive Books in Sandton City, Johannesburg, plaasgevind. Taalliefhebbers, akademici en mediapersoonlikhede het die geleentheid bygewoon.

Van Nierop was die gespreksleier en die paneel het bestaan uit Phyllis Green, fotograaf en boekeredakteur by SARIE, Smith en Warrington, twee ontluikende skrywers, en Melt Myburgh van Vrouekeur.

Van links na regs: Johan Jack Smith, Melt Myburgh, Phyllis Green, Reney Warrington en Leon van Nierop (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Die gesprek het onder meer ook resensies, mediadekking van boeke en skrywers, asook die veranderende landskap ten opsigte van publikasies, onder die soeklig geplaas.

Green meen dat genres soos wetenskapsfiksie, distopiese romans en gruwels wat aan Stephen King herinner, grootliks geïgnoreer word. Vanuit haar perspektief is dit ook duidelik dat kortverhaalbundels ʼn nismark bedien, selfs kleiner as dié van digbundels. Sy stel dit egter duidelik dat daar ewe veel ruimte vir albei publikasies is.

Myburgh meen dat tydskrifte juis ʼn forum vir kortverhale bied – mits dit keurig bestuur en verpak word.

Willie Burger, akademikus, resensent en skrywer, het ook die geleentheid bygewoon. Hy meen die beoordeling van ʼn boek is eenvoudig:

“Lees ʼn boek vir wat dit is. Moenie iets anders verwag as wat kenmerkend van die bepaalde genre is nie.”

Van Nierop het ter afsluiting gesê: “Ek is nuuskierig oor watter genres nog nie in Afrikaans aangedurf is nie, waar hierdie ‘nuwe’ stories en temas vandaan kom en of dit tekenend van Suid-Afrika in 2020 is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.