ATKV-Spelathon: Kinders kán spel

Gina-Mari Steyn van die Paarl Gimnasium (2de plek), Miché Nel van die Hoërskool Sentraal (1ste plek) enClaudia Olivier van Hoërskool Lydenburg (3de plek)

Van links na regs: Gina-Mari Steyn (tweede plek) van die Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap, Miché Nel van die Hoërskool Sentraal in die Vrystaat eerste gekom, en Claudia Olivier (derde plek) van Hoërskool Lydenburg in Mpumalanga. Foto: Verskaf.

Waar gaan jy as jy jou taal ken tot die laaste letter? ATKV-Spelathon is ʼn kompetisie waar die Afrikanerjeug kom spog en meeding met hul kundigheid van die Afrikaanse taal. Die wenners van al die provinsiale kompetisies het op 8 Oktober tydens die nasionale finaal vir Afrikaans as Huistaal in Gauteng die gehoor op die punte van hulle stoele gehad.

Die finaal het by die Leeuwenhof Akademie in Bedfordview plaasgevind. Prof. Gerhard van Huyssteen, van die Op die Spel-faam, het tydens die geleentheid as vraesteller opgetree en die deelnemers met sy kenmerkende humoristiese aanslag gou op hulle gemak gestel.

“Die huistaaldeelnemers aan die ATKV-Spelathonkompetisie kán spel,” sê René Zietsman, projekorganiseerder van die ATKV. “Hierdie deelnemers skrik nie vir woorde soos Nederfrankies of ingelegdevrugteblik nie en hulle ken die verskil tussen verassing en verrassing.”

Die Vrystaters het met die louere weggestap in die graad 9-afdeling. Woorde soos Chile, chiropraktisyn, calvinisme en ghwarrieboom het die teenstanders van die twee Vrystaters, Nadia Havenga van Hoërskool Sentraal (in die eerste plek) en David Conradie van Hoërskool Bultfontein (in die tweede plek), behoorlik laat les opsê. Elizette de Jager van Hoërskool Ferrum in KwaZulu-Natal het derde in die graad 9-afdeling gekom.

In die graad 10-afdeling het Miché Nel van Hoërskool Sentraal in die Vrystaat eerste gekom nadat Gina-Mari Steyn (tweede plek) van Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap en Claudia Olivier (derde plek) van Hoërskool Lydenburg in Mpumalanga die woorde Walliesers en Engelse kanaal verkeerd gespel het.

Elizette de Jager van Hoërskool Ferrum (3de plek), Nadia Havenga van Hoërskool Sentraal  (1ste plek)  en David Conradie van Hoërskool Bultfontein (2de plek)

Van links na regs: Elizette de Jager van Hoërskool Ferrum in KwaZulu-Natal het derde in die graad 9-afdeling gekom Nadia Havenga van Hoërskool Sentraal (in die eerste plek) en David Conradie van Hoërskool Bultfontein (in die tweede plek). Foto: Verskaf.

Daniëlla van Heerden van eNuus was die seremoniemeester en het aan die einde van die kompetisie gesê dat sy ’n chiropraktisyn ná hierdie Spelathon nodig het, so spanningsvol was die finale rondes. Sy het die deelnemers, ouers en onderwysers bedank vir die harde werk en tyd wat hulle aan die leer van die spelwoorde afgestaan het.

Buiten kontantpryse het die wenners ook elkeen vir hulle skole toegang tot die elektroniese Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) gewen.

Volgens Evelyn Ferreira, senior bestuurder: taal van die ATKV, is die hoofdoel van die ATKV se taalafdeling om die Afrikaanse taal te bevorder. “Dit doen die ATKV deur middel van verskeie projekte waarvan die spelkompetisie, Spelathon, een is. Benewens die opvoedkundige waarde van hierdie projek, het die gehoor ook met die vermaaklikheidswaarde daarvan kennis gemaak.”

  • Besoek ook die ATKV se webwerf vir meer inligting oor ATKV-Spelathon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

petro ·

Ek is so trots op die wenners. Nadia en Miche, julle het baie hard gewerk. Hierdie juffrou van julle is baie trots.

SpelVoute ·

Wonderlik die bydrae wat gelewer word deur die jonges om ons taal eer aan te doen deur die uitskakeling van onnodige spelfoute. Dankie aan die FAK vir die nodige erkenning en aanmoediging. Doet so voort!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.