ATKV vier 88 jaar met nuwe advertensieveldtog

Bouwer Bosch (Foto: André Badenhorst/ATKV)

Ons gil en skree en baklei nie. Ons boesem nie vrees in nie. Ons bou blok vir blok en steen vir steen aan ’n plek waar jy kan veilig voel en stil word. Waar jy weer kan hoop en droom oor môre, sonder om afgesonder te word. Sonder om verkleineer te word. Vir almal. Met ’n taal wat dien as sement.

Dít is die boodskap van die ATKV se nuutste advertensieveldtog om dié dinamiese organisasie se 88ste verjaardag te vier.

Die splinternuwe reklameveldtog #heldhaftig het juis ten doel om mense wat lief is vir Afrikaans aan te moedig om deel van die ATKV te word.

Die kletsrymer Hemelbesem (Simon Witbooi), die musikant en akteur Bouwer Bosch, digter Bibi Slippers en skrywer Piet Matipa is in dié veldtog as superhelde te sien. Saam is hulle ’n gedugte span en spoor hulle ander aan om by ’n organisasie aan te sluit wat Afrikaans op ’n innoverende wyse uitbou en bemark.

“Die werk wat ons doen, maak van gewone mense in hul gemeenskap helde,” sê Sonél Brits, waarnemende besturende direkteur van die ATKV. “Toe die ATKV op ’n doodgewone Dinsdagaand in 1930 tot stand gekom het, was een ding seker: Die organisasie se hart was reg, sy hand was oop, sy voet gereed en sy mond het Afrikaans gepraat,” sê sy.

Agt-en-tagtig jaar later kan ’n mens in die ATKV se projekte sien dat hierdie woorde nie net lippetaal was nie. “Ons projekte het nog altyd ’n integrale deel van ’n individu se ontwikkeling gevorm. Dit stel kinders in staat om later self die fakkel in hul gemeenskap op te neem en met hom te hardloop. Dan praat ons nie eens van die wonderlike werk wat die meer as 320 ATKV-takke in hul gemeenskappe doen nie. Ons kyk met trots terug op dit wat ons die laaste 88 jaar vermag het.”

Bibi Slippers (Foto: André Badenhorst/ATKV)

Volgens Johan Jack Smith, projekbestuurder van dié veldtog, was die denkwyse agter die veldtog drievoudig. “Ons wou vir mense vertel wat ons regtig doen. Daar is nog te veel mense wat onseker is en dink die ATKV bestaan net uit vakansieoorde. Hulle weet nie noodwendig hoe betrokke ons in gemeenskappe, skole en die kunste is nie. Die advertensieveldtog wil dit ook tuisbring dat die ATKV inklusief en steeds relevant is.”

Hemelbesem, wat ook ’n ambassadeur vir ATKV-Crescendo is, sê dit is sy vierde jaar wat hy by die ATKV betrokke is. “Dit is vir my belangrik om my demografie te verteenwoordig en die heldedade wat Afrikaans na die tafel toe bring.”

Volgens Piet Matipa het hy nie twee keer gedink toe die ATKV hom nader om deel van die reklameveldtog te word nie. “Ek sal baie doen vir die ATKV. Hulle het vir my ’n beurs gegee en gesorg dat ek my studies kon voltooi. Die doel van hierdie veldtog is om vir mense te wys dat Afrikaans ’n cool taal is en ek hoop hulle besef dit. Dit is ’n lekker taal!”

Besoek die ATKV se webwerf en Facebook-blad

WEN

Sluit vandag nog teen net R86 per maand by die ATKV aan en staan ’n kans om die Fudjifilm X-T100-kamera ter waarde van R12 000 te wen!

SMS “ATKV” na 44733*.
*Standaardtariewe geld.

Kompetisie sluit 31 Oktober 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.