Ballade van Hestertjie Haarnaald

Elizabeth van der Merwe

Hestertjie Haarnaald sê opgewek:
“Moeder, ek wil graag die Suidpool ontdek.”

“Ja goed,” sê haar moeder en bak eers gou vleis,
Koeksisters en tertjies vir Hester se reis.

Hestertjie Haarnaald ry toe per trein
Van Potgietersrus na Wonderfontein;

Van Wonderfontein na Waterval-Bo,
En daarandaan stap sy tot in die Karoo.

Sy stap deur Pampoenpoort, deur Wagenaarskraal.
Sy stap tot sy eind’lik ou Tafelberg haal.

In Kaapstad koop Hestertjie Haarnaald ‘n hoed,
Want die klerk sê: “O, Juffrou, dit pas u so goed!”

Hester H. hou die hoed in haar hand
En soek na ‘n skuitjie op Muizenbergstrand

Op Muizenbergstrand het sy een gekry,
Met ‘n skipper aan boord wat jou hart sou verbly.

Hestertjie Haarnaald sê: “Skipper, my man,
Seil gou na die Suidpool – so gou as jy kan.”

Die skipper seil weg soos ons Hester beveel
In ‘n skuitjie van silwer, van groen en van geel.

Tussen berge van ys het die skuitjie gevaar
Tot Hestertjie eind’lik die Suidpool gewaar.

Sy klim uit die skuit en maak daar ‘n kruis.
“Nou gaan ons terug,” sê Hester, “na huis.”

Die skipper seil gou tot in Tafelbergbaai;
‘n Menigte mense wag daar op die kaai.

Toe hul Hestertjie sien, skree almal: “Hoera!
Lank lewe ons dappere Hestertjie H!”

Hul gee haar ‘n ruiker so groot soos ‘n huis
En ‘n koek wat versier is met: “Welkom Tuis”.

Die hoof van die stad praat een volle uur –
Ja, sestig minute het sy toespraak geduur.

Toe alles verby was, het Hester net lus
Om t’rug te gaan huis toe na Potgietersrus.

Verbaas kyk die bure toe Hester daar land.
“Ons dog dan jou skuitjie het lankal gestrand.”

“A nee a,” sê Hester en vertel van haar reis,
Van haar hoedjie, die Suidpool, die see en die ys.

Op Potgietersrus het ons vriend to gaan bly
En daar sal jul Hestertjie Haarnaald nog kry.

Uit: My Afrikaanse Verseboek
Saamgestel deur D.J. Opperman met medewerking van M.A. Basson en E. Stumpf
Uitgewers: Tafelberg, 1981

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hester Stander ·

Hierdie was een van my gunstelinge as kind en ek het vanoggend net wakker geword met dit in my kop! Groot dele het teruggekom, maar ek moes net weer die volledige een weer lees! Dankie Maroela!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.