Beheerliggame ’n sleutelaspek in moedertaalonderrig

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Die voordele van ’n veeltalige samelewing is welbekend. Navorsing bewys dat die vermoë om meer as een taal te kan praat, sosiale en persoonlike sowel as akademiese en professionele waarde het. Met die viering van Wêreldmoedertaaldag op 21 Februarie, fokus die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) vanjaar op veeltalige onderrig.

“Met veeltalige onderrig bedoel ons dat kinders die reg het om te kan kies in watter taal hulle onderrig ontvang. Politieke druk laat ons soms vergeet van die feit dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel veeltaligheid as grondslag het – daar is reeds skole in al elf amptelike landstale beskikbaar,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.

Deacon sê die uitdaging is nie soseer die beskikbaarheid van moedertaalonderrig nie, maar wel die beskikbaarheid van gehalte-onderrig in al elf landstale. “’n Skool se taalbeleid is maar een rede hoekom ouers en kinders ’n bepaalde skool verkies. Die deurslaggewende faktor is eerder gehalte-onderrig. Met ons fokus op veeltalige onderrig wil Fedsas vanjaar sê dat dit rolspelers se plig is om toe te sien dat daar topskole beskikbaar is in ál die landstale. Dit is die enigste manier om te verseker dat kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang.”

Die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing vind volgende maand plaas. Die bepaling van ’n skool se taalbeleid is een van die funksies van ’n skoolbeheerliggaam. “Indien ouers en rolspelers uit ’n bepaalde skoolgemeenskap van mening is dat hul skool nie gehalte-onderrig bied nie, bied die beheerliggaamverkiesing aan hulle die geleentheid om in te gryp. Pleks daarvan dat ouers toustaan om kinders na goeie skole te stuur waar hulle in ’n tweede taal onderrig ontvang, kan hulle ’n daadwerklike poging aanwend om die skool in hul onmiddellike gemeenskap in ’n topskool te omskep.”

Hier speel Fedsas ’n belangrike rol in die toerus van beheerliggaamlede. Een van die vele projekte om die gehalte van skoolbeheer en -bestuur te verseker is die saamstel van ’n handleiding vir skoolbeheerliggame. ’n Praktiese handleiding oor skoolbeheer is in ses tale beskikbaar, naamlik Engels, Afrikaans, Sesotho, Setswana, isiXhosa en isiZulu. Dit sal egter binnekort in al elf tale beskikbaar wees.

“Inligting rakende skoolbeheer en -bestuur is dikwels redelik tegnies van aard. Gehalte-onderrig is direk afhanklik van gehalte-bestuur en daarom was dit vir Fedsas belangrik om die inligting so toeganklik moontlik te maak,” sê Deacon.

Die handleiding bied ’n kort oorsig oor die kernaspekte van skoolbeheer en is die ideale vertrekpunt vir nuutverkose beheerliggaamlede en selfs ervare lede wat hul kennis en ervaring verder wil verbreed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jannie ·

Gee onderrig slegs in engels dit sal baie probleme uitskakel en is immers die taal wat in die werksplek gebruik gaan word.
Hoe gouer kinders hieraan blootgestel word hoe beter.

Johan ·

Elkeen geregtig op sy opinie Jannie, maar die voordeel van moedertaalonderrig is al menige male deur gerespekteerde akademici bewys. Om net “probleme” uit te skakel en omdat dit in die “werksplek gebruik word” is nie ‘n argument nie. Daar is vele Afrikaanssprekendes wat in Afrikaans onderrig ontvang en daarby saam Engels as tweede taal aanleer. En daarna baie susksesvol en sonder probleme in ‘n Engelse werksomgewing instap.

Ongelukkig wil baie mense nie baklei vir moedertaalonderrig nie en skakel oor na Engels om “polities korrek” te wees.

Gaan kyk gerus na die Switserse model wat selfs op tersiere vlak ‘n sukses is. Hierdie hele “moedertaal onderrig debat” word gedryf deur die onbevoegde ANC wat vir meer as 20 jaar nog nie daarin kon slaag om moedertaalonderrig in die swart inheemse tale uit te brei en susksesvol te maak nie. Wonderlike geleenthede daar.

Disselboom ·

Stem saam oor waarde van moedertaalonderrig. Dit gaan egter oor meer as net die taal -as die klanke en spelling van woorde. Disselboom het ‘n bewering dat CAPS maar eintlik ‘n Engelse kurrikulum is, gaan lees en dit lyk of dit waar is dat die staatskurrikulum maar ‘n vertaalde Engelse kurrikulum is wat in Afrikaanse skole aangebied word, wat nie kultureel Afrikaans is nie. Dan lyk dit of die mense wat oproepe doen vir vryheid en selfbeskikking dalk beter gehoor moet word dat onderwys werklik Afrikaans kan wees, want ‘n kurrikulum wat bloot in Afrikaanse woorde beoefen word, maar eintlik kultuurloos is , is maar nog steeds nie regtig moedertaalonderrig nie. Die staatskurrikulum se benaming van “huistaal”, pleks van “moedertaal” is ‘n voorbeeld van wegbeweeg van die kultuur van Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.