Beleef tweede teksmark hierdie week in Kaapstad

Gretchen Ramsden en Rehane Abrahams in Amee Lekas se Die dans van die Watermeid Foto: © Nardus Engelbrecht

“Meer tekste word by die tweede Kunste Onbeperk Teksmark aan teaters en feeste voorgelê en ons is opgewonde om te sien watter tekste vanjaar vir ontwikkeling opgeraap gaan word,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.

Volgens Snyman word tekste deur nuwe, bekroonde en gevestigde skrywers voorgelê. “Tekste in Afrikaans en Engels ondersoek ’n wye spektrum onderwerpe, waaronder politieke, gender-, taal-, jeug- en rassekwessies, asook Suid-Afrikaanse kultuuridentiteit,” sê sy.

Die Teksmark word ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum.

Vyf tekste is ontwikkel ná afloop van die eerste Teksmark in 2016. Amee Lekas se Die dans van die watermeid, wat deur NATi ontwikkel is, is tot 25 November in die Baxter se Golden Arrow Studio te sien. Marina Albertyn se Melk & Vleis het by Aardklop gedebuteer, waar dit met vyf pryse bekroon is, waaronder Albertyn vir grensverskuiwende werk vir die teks. Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier word as ’n ko-produksie deur die US Woordfees en KKNK ontwikkel. Kleedkamer-blues, deur Ludwig Binge, word deur NATi vir Innibos ontwikkel en Rachelle Greeff se In die bloed word deur die US Woordfees ontwikkel en sal ook by die KKNK te sien wees.

Die 15 skrywers van wie werk by die tweede Teksmark te sien is, is Marina Albertyn (Offerlam), Du Toit Albertze (Die meermin-kompleks), Llandi Beeslaar (Vuurdoop en heuning), Herschelle Benjamin (In Slavenhuis 39), Denver Breda (Rokkie), Mariska Denysschen (Mensstukke), Jason Jacobs (Die grondgrawers), Atandwa en Fikile M. Kani (After Tears), Lise-Marié Richardson (Wag vir god weet wat), Retief Scholtz (DoosTwee), Bauke Snyman (Pop en Swerfgoed), Marcel Spaumer (Die laaste Afrikaners), Mike van Graan (Elusive Spring) en Augusta Zietsman (The Thirst/Die Dors).

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê ná die sukses van die eerste Teksmark het NATi onmiddellik ja gesê om weer betrokke te wees. Volgens haar gaan NATi beslis vanjaar minstens een teks kies vir verdere ontwikkeling.

Volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, gesels skrywers oor hul tekste en word voorstelle as leesteater van tien minute aangebied, gevolg deur ’n bespreking daaroor met die gehoor. “Dié uittreksels betrek bykans vyftig regisseurs en akteurs, van veterane tot jong talent. Dit is twee dae waar belangstellendes en mense in die teaterbedryf gesels oor verskeie aspekte wat die bedryf en die kunste raak. Verlede jaar was ’n besonderse stimulerende ervaring en ek glo hierdie jaar gaan dieselfde wees,” sê Theart.

Van die regisseurs wat betrokke is, sluit in Marthinus Basson, Jaco Bouwer, Philip Rademeyer, Bongile Mantsai, Wolf Britz, Tinarie van Wyk Loots, Lee-Ann van Rooi en Wessel Pretorius. ’n Aantal akteurs is oor die twee dae betrokke, waaronder Albert Maritz, Marion Holm, Charlton George, Nicole Holm, Kopano Maroga, Morné Visser, Elton Landrew, Wilhelm van der Walt, Des-Lee McKenzie, Ludwig Binge, Richard September, Carel Nel, Dustin Beck, Gershwin Mias en verskeie ander.

“Dit is die Teksmark se doel om ’n platform vir skrywers te skep, om hul idees verder te ontwikkel en om aan teaters en feeste ’n geleentheid te bied om nuwe werk te identifiseer en daarin te belê,” sluit Theart af.

Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teatersentrum, sê sy is opgewonde oor die tweede Teksmark: “Ons is werklik bemoedig en geïnspireer deur ons deelname aan dié belangrike en lewenskragtige inisiatief en om die première van Amee Lekas se Die dans van die watermeid by ons teater te hê. Ons het ’n verantwoordelikheid om na ons skrywers om te sien en hulle te koester en om die bewakers van hierdie en alle kunstenaars se stories te word.”

Die 55 inskrywings is deur ’n paneel bestaande uit Rafiek Mammon (teaterresensent, regisseur en ’n UK-lektor), Louis Pretorius (teater- en televisie-skrywer van o.a. Die boekklub en Die Boland Moorde), Marguerite Robinson (’n voormalige kunstefeesprogrambestuurder) en Lee-Ann van Rooi (teksmentor, aktrise en regisseur) beoordeel.

Die Teksmark word op 7 en 8 November van 10:00 in die Baxter-teatersentrum se Golden Arrow Studio aangebied. Elf tekste kom Dinsdag aan die bod, met vier tekste Woensdag. Marthinus Basson voer ’n onderhoud met Pieter Fourie oor sy ervaring as gevierde dramaturg in Suid-Afrika. Elroy Bell (Dalro), Catrina Wessels (onafhanklike opvoerregtebestuurder) en verskeie uitgewers en ander skrywers neem ook aan besprekings deel. Die Teksmark word met ’n funksie afgesluit, waarna gaste ’n spesiale vertoning van Amee Lekas se Die dans van die watermeid om 20:30 kan bywoon.

Alle belangstellendes is welkom om die Teksmark by te woon, daar is geen koste aan verbonde nie. Om bywoning te bevestig, kontak vir Faren Esau by [email protected] of 044 203 8600. Spasie is beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.