Bertus de Jongh onthou vir sy passie vir Afrikaans

Bertus de Jongh. (Foto: Verskaf.)

Bertus de Jongh (70) het nie net baanbrekerswerk in die suiwelbedryf gedoen nie, maar ook diep spore in die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld getrap.

De Jongh was ʼn direksielid van Maroela Media en ook ʼn trustee van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis. Hy is Woensdagoggend aan ʼn hartaanval by sy huis in Pretoria oorlede.

“Ons sal Bertus onthou vir sy passie vir Afrikaans en vir Afrikaanse media, en spesifiek vir Maroela.  Persoonlik sal ek altyd onthou hoe Bertus moeite gedoen het om my te bemoedig en met groot entoesiasme saam te gesels oor die werk wat Maroela Media doen. Hy was werklik ʼn handelsmerkambassadeur vir wie ek groot respek en waardering gehad het,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê.

Sy meen De Jongh se toegewyde betrokkenheid by Maroela Media is maar net een voorbeeld van sy omgee vir die Afrikaanse taal en kultuur.

“Bertus was passievol oor Afrikaans en het ʼn reusebydrae tot die twee trusts gelewer. Hy het vir homself gedink en ʼn unieke bydrae gelewer tot die stryd om Afrikaans as kultuur-, kuns- en ekonomiese taal te bevestig.

“Ons gaan hom baie mis.  Ons innige simpatie gaan aan sy hele familie en vriendekring,” het Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust en Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis, gesê.

De Jongh is op 5 Mei 1949 in die hartjie van die Swartland op die dorpie Malmesbury gebore. Hy het ʼn BA-graad in ekonomie by die Universiteit Stellenbosch behaal en ʼn loopbaan in die advertensie- en bemarkingswese in Johannesburg begin na sy studies, waarna hy ʼn honneursgraad, asook ʼn meestersgraag in handel aan Unisa verwerf het.

De Jongh het in 1991 by die Suiwelraad aangesluit en was werksaam in dié bedryf tot en met sy aftrede.  Vanaf Januarie 1993 sluit hy aan by die Melkprodusente-organisasie waar hy tot voor sy aftrede in 2015 die pos beklee van uitvoerende hoof en groep- besturende direkteur van die Melkprodusente-organisasie (MPO) van Suid-Afrika.  Voor dit was hy die hoofbestuurder van die Suiwelraad van Suid-Afrika.  Sy naam is sinoniem met verskeie innoverende ontwikkelings en vernuwings in die suiwelbedryf.

Bemarking het altyd in De Jongh se are geklop en met die jare het hy homself bewys as ’n internasionale kenner op die gebied van generiese reklame en was hy onder andere ook direkteur van die Internasionale Suiwelfederasie, ’n organisasie met 53 lidlande.  De Jongh is allerweë beskou as ’n gerespekteerde opinieleier en is ook gereeld in die media aangehaal.

Na sy aftrede het De Jongh steeds op verskeie direksies van organisasies in die landbou en suiwelbedryf gedien, terwyl hy ook een van die trustees van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis was, waar hy sy kennis en ervaring op die gebied van bemarking ingespan het en gehelp het om die voordele van Afrikaanswees aan alle Afrikaanssprekendes uit te dra.

Al was De Jongh steeds besig, het hy darem na aftrede gereeld tyd ingeruim vir sy gunstelingstokperdjie, fotografie.  So het hy baie mense se harte ook aangeraak met sy pragtige landskap- en wildlewefoto’s.  As president van die Pretoria se kameraklub het hy daar nog ’n groot bydrae gelewer.

De Jongh laat sy vrou, Lida, sy drie seuns, Lourens, Bernard en Albert, asook sy skoondogters, Carla, Lianel en Sharee, agter.

Virtuele begrafnisdiens

De Jongh word Saterdagoggend om 10:30 via video-stroming ter ruste gelê. Diegene wat die virtuele diens wil bywoon, kan dit op De Jongh se Facebook-blad volg.  Klik op die skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.