‘Beter Afrikaans’ nou nóg beter

Grafika: Beter Afrikaans

Grafika: Beter Afrikaans

Die alombekende gratis webdiens, Beter Afrikaans, is onlangs aansienlik uitgebrei en verbeter. Nie net spog dié diens nou met splinternuwe mobiele toepassings vir Android en iOS nie, maar ook met meer as 2 000 nuwe vrae in die vraagbank en ʼn groepfunksie wat handig vir onderwysers en dosente te pas sal kom.

Beter Afrikaans is ʼn gratis webdiens waar Afrikaanssprekendes, en selfs aanleerders van Afrikaans, meer kan leer oor die spel- en skryfreëls van Afrikaans. Meer as 9 000 gebruikers maak al van Beter Afrikaans gebruik.

Die webdiens werk op ʼn eenvoudige, doeltreffende manier. As ʼn persoon geregistreer het op die webwerf, kan die persoon elke weeksdag ʼn speltoets in minder as twee minute voltooi – hetsy op ʼn rekenaar, tablet of selfoon. Die speltoets bestaan uit vier veelkeusevrae; sodra die vrae beantwoord is, ontvang die gebruiker onmiddellik ʼn kort bespreking oor die korrekte antwoorde.

Indien die gebruiker meer wil leer, is daar meer omvattende dog eenvoudige verduidelikings op die webwerf beskikbaar. Onderwerpe soos los of vas skryf, hoofletters, homonieme, idiome, intensiewe vorme, en nog baie meer word gedek.

“Met die finansiële ondersteuning van die Dagbreek Trust is Beter Afrikaans onlangs aansienlik uitgebrei om dit nog meer aantreklik vir veral jong gebruikers te maak,” sê Gerhard van Huyssteen, ontwikkelaar van Beter Afrikaans.

“Ons het geluister na die versoeke van ons gebruikers toe ons die nuwe weergawe van die mobiele toepassing ontwerp het. Gebruikers hoef nou nie meer ʼn daaglikse e-pos te ontvang nie, maar kry ʼn direkte kennisgewing (“push notification”) op hulle slimfone of tablette. Jy kan ook nou maklik binne-in die toepassing jou vlak van deelname (maklik, gemiddeld, moeilik) verander,” vertel Van Huyssteen.

In samewerking met die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek (Pearson) word die vraagbank van Beter Afrikaans nou op ʼn gereelde grondslag uitgebrei. Jana Luther, hoofredakteur van die bekende HAT sê: “Deur Beter Afrikaans sáám met die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek te gebruik, kan onderwysers nuwe wêrelde vir leerders oopmaak. Op ʼn speelse, interaktiewe wyse kan leerders nuwe woorde leer, asook meer te wete kom oor betekenisse en spesifieke spelreëls.”

ʼn Ander, nuwe funksie wat in taalonderrigsituasies gebruik kan word, is die groepfunksie. “Dosente of onderwysers kan ʼn groep stig vir elke klasgroep. Leerders kompeteer dan met mekaar om te sien wie die topspeller in die klas is. Aan die einde van die kwartaal of semester kan die punte dan afgelaai word om maklik oorgedra te word op die skool se puntestelsel,” verduidelik Milton Webber, een van die vraagopstellers van Beter Afrikaans. “Boonop kan gebruikers hulle uitslae op Twitter met ander gebruikers deel. Dit dien ook sommer as lekker aanknopingspunt vir klasbesprekings.”

Die ontwikkeling van ʼn soortgelyke diens vir wiskunde (Beter Wiskunde en Better Maths) het ook reeds ʼn aanvang geneem.

Beter Afrikaans is ontwikkel in samewerking met ʼn soortgelyke webdiens vir Nederlands, Beter Spellen (www.beterspellen.nl). Ander tale in die Beter X-suite sluit in Duits, Frans en Engels (met Nederlands as onderrigtaal).

Besoek gerus Beter Afrikaans se webwerf, Facebookblad of op Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Baie dankie, Maroela, ons almal kan baat by ‘n bietjie taal- en spelonderrig. Ek hoop net die lesers benut die geleentheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.