Beurs om teks oor studenteproteste te ontwikkel

Tydens Kunste Onbeperk se pas afgelope Teksmark het een jong skrywer die gehoor en teaterkenners laat regop sit.

Kanya Viljoen het die teaterstuk “mank” geskryf wat ’n dapper poging is om gesprek rondom studenteprotes en die #FeesMustFall-beweging oop te maak.

“Dit is ʼn oorlog, ja. Ek gee nie om wat jou posisie is nie, dis ’n oorlog in jou land. Dis ’n oorlog waarin kinders se tonge uitgesny word. Hande gebind word. Later gearresteer word. Dis ’n oorlog van taal, van woorde, van iets noem,” skryf Kanya in “mank”.

Aardklop en die Atterbury Trust het nou vir Viljoen die geleentheid gebied om haar teks volledig te ontwikkel, deur middel van ’n teksbeurs.

Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust, het gesê dit is belangrik om vir Afrikaanse studente ʼn geleentheid te bied om kreatief te wees.

Kanya Viljoen (Foto: Verskaf)

“Ons is passievol oor Afrikaans, kuns en kultuur en oor die noodsaak van opvoeding. Daarom het die Atterbury Trust oor die afgelope 20 jaar al meer as 600 studiebeurse aan behoeftige Afrikaanse studente toegestaan. Daar lê krag in die skep van geleenthede.

“Kanya was een van ons beursstudente wat die geleentheid met albei hande aangegryp het. Sy het verlede jaar haar graad in Drama aan die Universiteit van Kaapstad met lof verwerf. Ons belê graag verder in haar toekoms en glo dat haar nuwe stem ’n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat in ons land gaan lewer,” het Hulme gesê.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbesuurder, het gesê skrywers is die kern van teater en daarom is dit belangrik om hulle te ondersteun en bevorder.

“Teater se een doel is: Kom ons praat, kom ons vra vrae, maar veral – kom ons luister. Alle sinvolle teater begin by een enkele ding: ’n teks. ’n Skrywer met ’n spesifieke stem wat die moed het om te gaan sit, en homself bloot te stel, is die onvervangbare eerste, die fondament.

“Daarná kom die regisseur, die akteurs en die ontwerpers, maar sonder die teks wat die werklike inhoud en debat aan die gang sit, is daar niks nie, net blote versiering,” het sy gesê.

Aardklop vind vanjaar van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom plaas. Vir meer inligting besoek die webwerf by www.aardklop.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Haan ·

Kan nie wag om díe politieke ontleding deur n drama student te hoor nie… ?
Siestog. Die arme bloedjies gooi maar net klip vir gratis onderwys. En die nare staat sny hul tonge uit. Cry me a river

Boerseun ·

Die stem van die “privileged” word weer opgehemel deur hulself. Gelukkig gaan al die universiteite hul agterstewe binnekort sien, dit gaan iets soortgelyks raak soos die universiteit van Xai Xai. Dan kan al die hippies in die lewe weer n 1970 herlewing op varsity hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.