Boek van die maand (resensie): Bambaduze

bambaduzeIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Bambaduze (deur Derick van der Walt)

Ek hoor dikwels dat daar “niks” in Afrikaans is vir kinders om te lees nie, en nog minder vir jongmense. Gelukkig tog vir skrywers soos Derick van der Walt  – en ʼn hele paar ander – wat sulke doemprofete onomwonde verkeerd bewys. Met sy bekroonde debuut, Lien se lankstaanskoene, het Derick nie net tieners se harte gesteel nie, maar ook dié van heelparty volwasse lesers, des te meer toe die boek eers verfilm is. Sedert Lien kon ons ons ook verlustig aan Willem Poprok en Daan Dreyer se blou geranium. Toe Bambaduze op my lessenaar beland, was ek amper net so opgewonde soos my 16-jarige dogter, en ons het die boek ook albei dieselfde week gelees. Van der Walt se werk is beslis nie net vir jongmense nie, hoewel hy beslis weet wat tieners laat tiek, iets wat hy weer in Bambaduze bewys. Daan Dreyer en die blou geranium is amptelik bekend as sy eerste volwasse roman, maar ek en my dogter (destyds 14) het daaraan ook ewe lekker gelees, nog ʼn bewys dat hy weet hoe om tieners te boei.

Wat is sy skryfgeheim? Ek dink die antwoord lê daarin dat Derick van der Walt menswees in al sy fasette verstaan, iets wat hy opnuut bewys in Bambaduze, die aangrypende verhaal van Jurie Viljoen, ʼn matriekseun, se verlies, rebellie en uiteindelike aanvaarding. Van der Walt het ʼn besondere en baie skaars vermoë om vanuit ʼn tiener se perspektief te skryf – jy sien as’t ware vir Jurie Viljoen voor jou, in al sy stugge, komplekse glorie. Jy verstaan aanvanklik nie hoekom hy so kwaad is vir die wêreld nie, en nog minder hoekom hy motors hot wire en vir pretritte neem. As ma dink jy presies wat jy met hierdie knaap sou doen as hy joune was, maar so geleidelik word die rede vir Jurie se optrede duidelik en besef jy dis ʼn noodkreet vir aandag. ʼn Mens kan nie help om te wonder oor jou eie ouerskap nie. Soos altyd wanneer Derick van der Walt skryf, is daar nie suikerlagies wat die emosies (en ook die gevolge van mense se optrede) bedek en minder intens maak nie. Jurie beland in die moeilikheid, en moet die gevolge dra – ʼn bevestiging dat die wêreld nie opsy staan vir ʼn individu se pyn nie.

Van der Walt se sukses as skrywer lê myns insiens daarin dat hy ʼn bedrieglik eenvoudige storie kan neem en dit uitbou tot ʼn roman wat die leser enduit boei. Die storie word liberaal besprinkel met genoeg humor en warmte om te bly boei, ten spyte van die baie ernstige kwessies waaroor hy dikwels skryf. Elke karakter is drie-dimensioneel, en dit voel of jy hom of haar al iewers in jou lewe ontmoet het. Selfs karakterbeskrywings van mense wat net ʼn vinnige verskyning maak, tref die kol. In Bambaduze is daar byvoorbeeld ʼn beskrywing van ʼn skoolhoof by ʼn vooraanstaande skool waarin ek my behoorlik verkneukel het, want ken ons almal nie so iemand nie?

Die ander lekkerte van hierdie skrywer se boeke is dat mens goed voel lank nadat jy dit neergesit het. Tog is dit nooit vervelige, voorspelbare eindes nie, en die spanning wat aan die begin geskep is, word enduit volgehou. Van der Walt sorg ook altyd vir interessante, onverwagte wendings wat sorg dat mens nie wil ophou lees nie – of jy nou 14 is, of 40, en dis iets wat nie alle jeugskrywers regkry nie.

Kenners voel ook so, en daarom spog Derick met welverdiende toekennings vir sy skryfwerk. Onder sy bekronings vir vorige werk tel ʼn goue én silwer Sanlam-prys vir jeugliteratuur, die M.E.R.-prys vir jeugliteratuur en die Scheepersprys vir jeugliteratuur. Sy werk is ook ingesluit op die internasionale IBBY-ererol. (IBBY staan vir International Board of Books for Young People).

As jy ʼn tienerleser in die huis het – of as jy self wil verstaan hoe ʼn tiener se hart klop – skaf gerus Derick van der Walt se boeke aan. Julle albei sal dit ewe veel geniet.

• Graffiti Boeke stel Bambaduze (uitgegee deur Tafelberg) oudergewoonte teen ʼn spesiale prys beskikbaar aan Maroela-lesers (R128-00 in plaas van R160-00). Kliek hier om te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sarie van heerden ·

Bambaduze se kort opsomming baie interessant gevind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.