Boek van die maand (resensie): Skuldig

Skuldig.jpgIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Skuldig (deur Martin Steyn)

Maak gerus gebruik van Graffiti-boeke se spesiale afslag aan Maroela Media-lesers.

Martin Steyn se Skuldig is die soort boek wat maak dat mens alles opsy skuif om te lees. Ek wou eintlik hierdie maand oor ʼn ander boek geskryf het, maar dink dis belangriker dat Afrikaanse lesers behoorlik kennis neem van Steyn.

Mens kan nie wag om te sien wat op die volgende bladsy van dié speurroman gebeur nie, maar hoop tegelykertyd dat die einde sommer nog ver in die verskiet lê – presies wat mens soek in ʼn goeie boek, maar ʼn rare talent in ʼn skrywer. Veral as dit ʼn relatief nuwe skrywer is. Steyn het verlede jaar op die Afrikaanse skryftoneel gebars met sy uitstekende debuut, Donker spoor, waarin ons die speurders Jan Magson en Colin Menck, warm op die spoor van ʼn reeksmoordenaar wat skoolmeisies ontvoer, ontmoet het.  Dié indrukwekkende debuut het my laat uitsien na nog uit Steyn se pen, en die wag – genadiglik nie te lank nie – was die moeite werd.

In Skuldig is Colin Menck hierdie keer die held wat ʼn reeks eienaardige moorde moet oplos. Magson maak wel ʼn kamee-verskyning, maar Menck en sy nuwe “partner” moet al die raaisels self uitpluis. Die slagoffers – almal suksesvolle mans in hul middeljare – word met ʼn enkele skoot in die kop tereggestel. Maar voor dit moet hulle eers die woord “skuldig” in hul eie bloed op ʼn muur skryf… Wat is die grieselrige skakel wat hulle aan mekaar verbind? En hoekom laat die moordenaar Menck self twee keer leef? Hy het immers albei kere die ideale kans gehad om die bloedhond-speurder permanent van die saak – en die aardbol – te verwyder. Die moordenaar in hierdie verhaal is beslis nie enige Jan Rap nie. Hy uitoorlê uitstekende sekuriteitstelsels, skiet soos ʼn sluipskutter en laat nie ʼn enkele leidraad nie.

Steyn slaag uitmuntend daarin om vanaf die eerste bladsy te boei. Sy navorsing in al die aspekte van die genre is indrukwekkend – van wat alles presies op ʼn misdaadtoneel gebeur, tot wat presies op ʼn patoloog se ondersoektafel plaasvind.  Die spanning word deurentyd gehandhaaf, en sy baie menslike speurders met hul alledaagse bekommernisse boei ook as karakters. Dis verfrissend om ʼn slag met ʼn speurder te doen te kry wat nie een of ander eie stryd teen ʼn duiwel in homself voer nie, maar ʼn doodgewone gesinsman is wat sy werk na die beste van sy vermoë probeer doen.

Met sy debuut in Donker spoor het ek net een enkele probleem gehad: ek wou meer weet oor hoekom die moordenaar gedoen het wat hy doen. Wat het sy psige hierdie donker rigting laat inslaan? In Skuldig het Steyn nie weer dieselfde fout gemaak nie, en dis myns insiens ʼn boek wat enige liefhebber van misdaadfiksie gerus kan aanskaf. Ek sou graag wou sien dat Steyn se boeke in Engels vertaal word sodat dit in die buiteland ook gelees kan word – dit vergelyk uitstekend met oorsese skrywers in dieselfde genre. Boonop is Steyn nog nie eers 40 jaar oud nie, en skryf hy voltyds, wat hopelik beteken dat ons ʼn boek per jaar uit sy pen kan verwag.

Die oplewing in goeie misdaadfiksie in Afrikaans is iets waaroor ek lankal opgewonde is. Saam met Steyn is daar name soos Peet Venter, Rudie van Rensburg, Irma Venter en ook die nuweling Madelein Rust, wie se tweede boek binnekort verskyn, wie se werk jy gerus kan lees. Die misdaadfiksie-genre is in goeie hande.

  • Steyn is volgende Donderdag, 23 April, by Graffiti Lynnwood Bridge in gesprek met nog twee spanningskrywers: Peet Venter (wie se Plasenta pas verskyn het) en die nuweling Henk Breytenbach (skrywer van Kodenaam Icarus). Skakel 012 348 1835 om jou plek te verseker.
  • Maak gerus gebruik van Graffiti-boeke se spesiale afslag aan Maroela-lesers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.