’n Seun soos Bram: ‘n portret van Bram Fischer en sy ma Ella

Dr. Hannes Haasbroek

Bram Fischer, die Afrikanerseun wat kommunis geword het, is deur baie van sy volksgenote en die apartheids-regering as aartsterroris verguis. Jare na sy dood is hy deur die nuwe bewindhebbers in Suid-Afrika as ’n ikoon van die struggle vereer en opgehemel. Maar wat is die agtergrond van ’n seun soos Bram? Hierdie is die eerste biografie van Bram Fischer in Afrikaans, en dit belig  veral die rol van sy familiegeskiedenis en spesifiek sy ma, Ella – ’n Nasionalis wat haar met die Afrikaner se wel en wee vereenselwig het, en tog tot aan die einde lojaal teenoor haar seun die kommunis gebly het. Die boek vertel die gelyklopende lewensverhale van hierdie bekende ma en seun wat, ondanks hulle teenoorgestelde politieke sienings, besonder geheg aan mekaar was – ’n invalshoek wat nog nie tevore geneem is nie.

Ella stam uit die bekende en invloedryke Fichardt-familie van Bloemfontein en sy was die eggenote van Percy Fischer (regterpresident van die Vrystaat). Sommiges beskou hierdie Afrikaansgesinde familie as die aristokrasie van die Vrystaat. Die boek fokus op sowel die menslike as die ideologiese in Bram Fischer se lewe en vertel die komplekse verhaal van iemand wat weggegroei het van sy wortels. Fischer het egter nie sy kommunisme en sy Afrikanerskap as strydig met mekaar gesien nie. Familiebriewe en dagboeke tel onder die nuwe bronne wat in die boek gebruik word, en wat dit besonder toeganklik maak. Bram Fischer was, buiten struggle-aktivis, ook ’n gewone mens – ’n Afrikanerseun met ’n plaasagtergrond; ’n liefdevolle gesinsman wat daaglikse lief en leed in familieverband ervaar het. Wat die boek nié is nie, is apologetiese geskiedskrywing oor Bram se “lydensweg” in die apartheidsera. Dit is die verhaal van Ella en Bram: Bram wat sy gesondheid, roem, gemak, moontlike hoë openbare of regeringsposisies en ’n bevoorregte lewe opgeoffer het om deel van die struggle in Suid-Afrika te wees.

 

Oor die outeur

Dr. Hannes Haasbroek is in Bothaville gebore. Hy voltooi sy skoolloopbaan in Bethlehem en behaal ’n doktorsgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy is hoof van die Geskiedenis­departement by die Nasionale Museum in Bloemfontein en lewer gereeld bydraes tot wetenskaplike joernale, tydskrifte en koerante. Sy boek oor die lewe van die bekende sopraan Cecilia Wessels, Stem en legende, is in 2005 gepubliseer.

 

Uitgewer: Random House Struik/Umuzi

Prys: R220,00*

* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Diana Ferrus ·

‘n Fantastiese boek, kudu’s, honderde van hulle aan Dr Hannes Haasbroek wat met deernis die verhaal vertel van so ‘n grootse Suid-Afrikaanse seun en sy “moderne” ma Ella. Die boek boei ‘n mens en is belangrike toevoeging tot Suid-Afrikaanse geskied-skrywing. Die boek behoort ook voorgeskryf te word vir skole.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.