13 Uur

Deon Meyer

Om 05:36 hardloop die vrou teen die hang van Leeukop. Sy is jonk, beeldskoon, Amerikaans – en beangs. Sy word soos ʼn dier gejag deur mans wat net ure gelede haar beste vriendin se keel afgesny het. Om 05:43 bel hulle vir speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy moet kom, ʼn jong meisie se lyk lê langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat. Die vorige aand nog het hy gedink dit gaan vir hom ʼn spesiale dag wees: Die begin van ʼn nuwe era in sy loopbaan, as mentor van ʼn groep jong swart en bruin speurders. En hy verwag nuus oor sy bevordering. ‘Kaptein Bennie Griessel’. Dit klink vir hom reg. Behoort ʼn redelik normale dag te wees.

Tot sy jong span polisiemense begin stry, baklei, struikel. Met die kerkmoord. Met die middeljarige, alkoholis-vrou wat haar man, ʼn groot gees in die Afrikaanse musiekbedryf, twee keer met sy eie pistool deur die hart geboor het. Met die soektog na die Amerikaanse toeris. Terwyl die diplomatieke telefoonlyne vuurwarm gebel word en selfs die Minister begin druk toepas, sodat die hele mentor-ding soos mis voor die son verdwyn en Griessel self moet inklim om die gemors te probeer red. Om nie eens te praat van sy persoonlike probleme nie. Sy bankrekening lyk sleg, hy stoei nog met die dranklus, sy vervreemde vrou Anna bel uit die bloute en sê vanaand is die aand dat hulle oor die toekoms moet gesels. Weet sy van die 26-jarige rekenaartegnikus met die aansienlike borste wat hy gisteraand, in ʼn oomblik van swakheid, op sy sitkamerbank beetgekry het?

Boonop kondig sy vriend en kollega Mat Joubert aan dat hy die SAPS gaan verlaat, en dan bel sy seun Fritz met die nuus dat hy klaar is met skool, hy gaan kitaarspeler word in ʼn rock-groep met die naam van ‘Wet & Orde’. En dan, net wanneer hy op die punt staan om die Amerikaanse meisie te red, skiet hulle vir Bennie Griessel. Reg in die hart. Redelik normale dag, jou tipiese dertien uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing.

Oor die outeur
Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp. Hy studeer aan die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en Geskiedenis as hoofvakke. Hy behaal later ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat. In die 1980’s het hy as joernalis by Die Volksblad gewerk, die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo en in 1989 begin hy by Sanlam in Kaapstad as reklame-kopieskrywer. In 1991 word hy aangestel as bestuurder van Interne Kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se Reklame-afdeling. Hy begin later sy eie maatskappy wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet, en daarna was hy die bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling. Hy is op die oomblik ’n voltydse skrywer.

Deon Meyer se romans het al in meer as 25 tale verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse ingepalm vir die Franse uitgawes van sy spanningsromans. Vir Feniks Le Grand Prix de Littérature Policiére 2003, vir Orion die Prix Mystère de la Critique 2004. Proteus verskyn op die langlys vir die IMPAC literêre toekenning en die Duitse vertaling het in 2006 die Deutsche Krimi Preis in die internasionale kategorie ontvang.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R220,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.