15-jarige boekwurm op soek na leesstof

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Maroela Media het onlangs ʼn briefie van ’n 15-jarige boekwurm ontvang. Hy verduidelik in die brief – in keurige Afrikaans – hoe lief hy vir lees is. Maroela Media het reeds vir hom ’n klompie boeke geskenk, maar wil nou ook by ons lesers aanklop om by te dra as jy dalk ʼn paar boeke in jou huis het wat dié boekliefhebber se leeslus kan blus! Indien jy enige goeie Afrikaanse boeke het wat nog in ’n goeie toestand is, stuur dit gerus na ons en ons sal seker maak dit kom by hom uit! Uit die aard van sy omstandighede kies ons om nie sy naam bekend te maak nie.

Liewe Maroela Media

My naam is **** en ek is 15-jaar oud. Boeke is my lewe, en ek lees elke liewe boek wat ek in die hande kan kry. Die dikkes, die dunnes, en selfs artikels in koerante.

Soos u dalk self kan aflei in die eerste paragraaf, is boeke nie altyd binne my bereik nie. As kind wat van kleins af heen en weer geslinger was tussen ouers (en in ʼn kinderhuis bly) was die naaste biblioteek of te klein, of te ver. En vervoer was nie altyd moontlik nie.

My Afrikaanse juffrou (Mev. Coetzee) het my aangemoedig om hierdie brief aan u te skryf, in die hoop dat julle my kan help met boeke. Ek is nie kieskeurig as dit by boeke kom nie (daar moet net meer as 2 blaaie in wees!) en soos reeds genoem, lees ek enigiets.

As u my kan help sal ek dit ter harte waardeer, maar indien nie, verstaan ek ten volle (ons is tans in ’n ekonomiese slaggat). Ek bedank wel die donateur van my reeds ontvangde boeke.

Groete

’n Boekeliefhebber

 

As jy enige boeke het wat jy graag aan hom wil skenk, kan jy dit stuur aan:

Maroela Media

Vir aandag: Boekeliefhebber

h/v DF Malan en Eendrachtstraat

Kloofsig

Centurion

0157

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Floris Petrus Coetzee ·

Ek het plus minus 200 Afrikaanse hardeband boeke van bekende SA se skrywers. My oorlede vrou het aan n boek klub behoort en elke maand n boek ontvang. Ek Sal die boeke gratis vir die kind skenk. Ek en my vroutjie met ek jou getroud is bly in Thabazimbi, daar kan ons dit vir die kind skenk maar heeltemal oortuig dit belang veilig in die kind se besit
Floors Coetzee

Tanya Crouse ·

Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat daar by sommiges van kleintyd af ‘n liefde vir lees gekweek is. Partykeer is die verkryging van ‘n boek moelik, vir watter rede ookal.

Haan ·

Aan die skrywer van die briefie:

Jy het my nou na aan trane my vriend(in)
Dit is werklik mooi om jou hunkering na kennis te sien. Moet nooit ophou lees nie! Moet nooit ophou om daai inligting te verslind nie! As n outjie wat van kleins af ontvlugting in leesstof gevind het, wil ek jou werklik op die hande dra, maar ek het ongelukkig net biblioteek boeke gehad.
Doen so voort! En dankie vir jou pragtige Afrikaans. Daar is geen beter aanduiding van die kaliber van n mens – as sy taalgebruik nie. Dis mense soos jy wat die waarde van wysheid besef en uitleef.
Alle voorspoed

NS: en aan daai Afr onderwyser – jy is goud werd

(ek hoop regtig hy/sy sien my boodskap raak)

Die juffrou ·

Baie dankie vir jou positiewe kommentaar Haan. Ek sal seker maak Boekwurm sien dit!

Mien ·

Glo julle gaan oorval word met skenkings. Sal ook boeke geskik vir ‘n seun probeer stuur. Mark, wat gaan met ons boeke gebeur as ons die dag doodgaan ? Dalk weet die erfgename nie raad daarmee nie en beland dit op ‘n vullishoop !

Jenny Thom ·

Gee vir die boekleser ‘n Bybel. Dit sal hom lank genoeg besig hou met die beste inligting en geskiedenis wat hy ooit kan kry. Hy sal in elkgeval nooit genoeg van die Woord kan kry nie, en al lees hy die Woord 5 maal deur, sal hy telkemale ‘n ander betekenis vir elke vers of hoofstuk kry.

Ella ·

Ek stem saam met jou.
My hart is seer vir die kinders van SA.
Kyk wat het die kind al deurgemaak in n lewe van 15 jaar.
Liefste kind jy gaan dit nog ver bring. Ek hoop daar is mense wat jou potensiaal raaksien.
Ek sal volgende week boeke aflaai by diie adres hierbo.
Ek sal vir bid ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.