16-jarige se sketse verhelder ma se kinderboek

Jacolene du Plooy is ‘n spelterapeut van Pretoria en skrywer van die kinderboek ‘Stinkie en Grootpoot’. (Foto: Verskaf)

“Dit was vir my ʼn groot voorreg om saam met my seun te werk. As ma het ek nuwe respek vir my kind se inisiatief en kreatiwiteit gekry.”

Dít is die woorde van Jacolene du Plooy, ʼn spelterapeut van Pretoria, wat onlangs saam met haar sestienjarige seun, Eben, aan ʼn kinderboek, Stinkie en Grootpoot, gewerk het. Dit is Eben se eerste illustrasiewerk vir ʼn boek.

“Ek is ongelooflik trots op die manier wat Eben die projek aangepak en voltooi het. Dit sal wonderlik wees om weer so projek saam met hom te doen,” sê Jacolene verder.

Lesers maak in die storie kennis met Stinkie en Grootpoot wat in die Nasionale Krugerwildtuin bly. Grootpoot het die grootste pote in die bos en ʼn mens kan jou net indink waar Stinkie se naam vandaan kom. Gelukkig kom die ander diere tot Stinkie se redding wanneer hulle hom uit sy verknorsing red.

Jacolene het die storie geskryf en Eben het illustrasies met waterverf en inkpen gedoen.

Oor sy tekeninge sê Eben dat hy die diere realisties wou uitbeeld. Hy het die karakters vereenvoudig, maar tog probeer om elkeen se humoristiese kant te illustreer. Jacolene sê hy het beslis in dié doel geslaag, en boonop reg aan die storie laat geskied.

“Dit was nie vir my nodig om veel leiding te gee nie. Hy het sy eie idees gegenereer en met die oulikste illustrasies vorendag gekom. Eben se tekeninge het by die dag verbeter, en sy pragtige waterverf- en ink-illustrasies is werklik uniek.”

Jacolene du Plooy se seun, Eben, het haar kinderboek ‘Stinkie en Grootpoot’ geïllustreer. (Foto: Verskaf)

Eben is dit met sy ma eens dat dit ʼn wonderlike ervaring was om saam te werk. Hy voeg by dat hy graag in die toekoms weer so iets sou wou aanpak. “Ek het dit geniet! My ma het my geleer om moeite in dinge te sit, selfs as ek sukkel. As ek die kans kry, sal ek dit weer doen.”

Jacolene het ook ʼn doel met hierdie boek: Om ʼn liefde vir lees by kinders te kweek. Eintlik is dit haar oogmerk met elke kinderstorie wat sy skryf.

“My behoefte is om ma’s aan te spoor om saam met hul kinders te lees en terselfdertyd sommer hul eie lawwe stories op te maak. Stinkie en Grootpoot was juis ʼn storie wat ek opgemaak het, en dit het werklik my kinders se verbeelding geprikkel. Hulle het toe ook gehelp om met idees vir nuwe stories vorendag te kom,” vertel sy.

In dieselfde asem benadruk Jacolene die waarde van boeke en watter voordele dit veral vir kinders se ontwikkeling inhou.

Boeke is ʼn belegging in jou kind se toekoms, dit het ewigheidswaarde, en in teenstelling met ander speelgoed kan dit jare lank geniet word. Dit is ook nuttige hulpbronne wat kinders help om oor hulleself en oor emosies, hul eie en ander mense sʼn, te leer.

Stinkie en Grootpoot het pas by Novae Uitgewers verskyn en dit word op Woensdag 15 Februarie tydens ʼn private geleentheid by die Waverley Biblioteek se leesgroep in Pretoria bekendgestel.

Volgens Anel Ubbink, stigter van Novae Boeke, is die leesgroep in 2018 deur Irene Schoeman begin en in 2020 het Wilna Jacobs die leisels oorgeneem. Die inisiatief strook met Novae Boek se doelstelling om ʼn liefde vir lees by kinders aan te wakker.

Irene het glo gereeld vir haar dogters by die biblioteek gesit en voorlees. Mettertyd het nog kinders nader geskuif en saam geluister. Dit het later ʼn amptelike leesgroep geword, en vandag kom kinders tussen 18 maande en agt jaar byeen vir voorlesings en groepaktiwiteite.

Stinkie en Grootpoot kos R185 (prys onderworpe aan verandering). Besoek Novae Boeke se webwerf om die boek aan te skaf of stuur ʼn e-pos aan Anel Ubbink na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.