5 wenke om boeke vir jou kind te kies

Argieffoto (Foto: Lina Kivaka/Pexels)

Een van die grootste geskenke wat jy as ouer aan jou kind kan gee, is om hulle aan storieboeke bloot te stel en van jongs af saam met hulle te lees.

Om gepaste leesstof te kies wat geskik is vir jou kind se ouderdom en wat hul belangstelling sal prikkel, is dus uiters belangrik.

Die organisasie Nalibali (Nal’ibali in Xhosa vir “hier’s die storie”) deel dié wenke met ouers vir die kies van boeke vir kinders.

Ritme en rym

Babas en kleuters geniet boeke met kleurvolle illustrasies, wiegeliedjies, woordspelings en rympies. Hulle hou ook van boeke waar die teks ʼn sterk ritme het, of waarin frases herhaal word.

Boeke sonder teks

Woordlose boeke gee jou ʼn kans om die storie op jou eie manier aan die kinders te vertel. Jy kan dit ook afwissel deur vir jou kind te vra om hul eie stories te skep. Boeke sonder teks is boonop ʼn goeie hulpmiddel vir huishoudings waar kinders en volwassenes verskillende tale praat.

Lees ʼn verskeidenheid van boeke

Stel jou kind bloot aan ʼn verskeidenheid van boeke. Oorweeg verhale oor die ruimte, natuur, geskiedenis, familie en vriendskap, asook stories oor familie, helde, heldinne en avonturiers.

Help met die uitdagings van die lewe

Prente- en storieboeke oor goed wat met jou kind gebeur het, of besig is om in hul lewe te gebeur – soos ʼn nuwe boetie of sussie, egskeiding of probleme met vriendskappe – kan kinders help om hul gevoelens te verwerk en hul vrese te oorkom. Jy kan ook boeke inspan om moeilike of sensitiewe onderwerpe, soos seks, siekte en dood, op ʼn indirekte wyse aan te raak.

Nuut en bekend

Kies boeke wat dinge weerspieël wat vir jou kinders bekend is, soos stories waar die huise soos hulle sʼn lyk of wat alledaagse gebeure wat hulle ken of al teëgekom het, verken. Oorweeg dit ook om boeke te kies wat hul nuuskierigheid oor nuwe dinge en belewenisse sal prikkel. Dit kan volksverhale wees, stories wat in verskillende plekke en kulture afspeel, of stories oor fantasie en towerwêrelde.

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie.

Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.

Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tiekies vir ʼn Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.