650 mense vorm ketting om boeke te skuif

Foto: Pioneer Library System/Facebook

Altesaam 650 vrywilligers het skouer-aan-skouer gestaan en ʼn menseketting gevorm om boeke van een biblioteek na ʼn ander gebou te verskuif.

Inwoners van Norman, Oklahoma in die VSA, het Sondag saamgespan toe hul plaaslike biblioteek ʼn versoek uitgestuur het: “Help ons om boeke van die ou biblioteek na die nuwe een oorkant die park te verskuif.”

Die skare, wat aanvanklik hande vasgehou het, het die biblioteek se versameling feeverhale en volksverhale van persoon tot persoon oorgedra – ongeveer 520 meter ver van die 53-jarige Norman-staatsbiblioteek na die splinternuwe $39 miljoen-biblioteekgebou.

“Sommige mense was baie opgewonde,” sê Keith Merckx, woordvoerder vir die biblioiteek. “En sommige mense het gesê dit is ʼn bittersoet gevoel, weens hul verbintenis aan die ou gebou.”

Sally Mae Johnston, wat al 30 jaar lank saam met haar man in Norman woon, het gesê hulle wou deel wees van die geskiedenis.

ʼn GoPro-video wys honderde mense wat die boeke van een persoon na die ander oordra.

“Dit was pret om te sien hoe die boeke van volwassenes na kinders oorgedra word,” het Merckx bygevoeg.

Die Pioneer Library System het vrywilligers gevra om die kinderboeke te karwei in ʼn poging om boekwurms bymekaar te kry en die gemeenskap in te sluit in die verhuising. Professionele verhuisingsagente het die res van die boeke na die nuwe tak oorgedra, wat Sondag sy deure oopmaak.

Die 5 000 boeke is binne twee ure na die nuwe biblioteek geskuif.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Robert ·

Baie goed. As elkeen net 9-boeke gevat het, kon hulle dit binne ‘n paar minute oorgedra het.

Leon ·

In Suid Afrika sou 1 uit 10 die biblioteek bereik het. Die res sou verdwyn het langs die pad. danksy ons wonderlike misdaadryke land.
Baie mooi gebaar in die VSA.

CJ ·

Ai, Leon, eers dog ek ek is die enigste een wat so n negatiewe gedagte gehad het. Dis sleg as ons ons so dink … maar ongelukkig dink ek ook in SA sou nie al die boeke die eindbestemming bereik het nie.

Pieterd ·

Wat ‘n mooi gebaar! Simbolies is boeke ook “oorgedra” van een geslag na die ander.
Dit is ‘n pragtige teken van samewerking en “gemeenskap.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.