80-jarige skryf unieke boek oor Afrikaanse idiome

Mary-Ann Olivier met haar boek (Foto: Verskaf)

Mary-Ann Olivier (85), ʼn vrou van Bellville in die Wes-Kaap, het ʼn interessante boek vol Afrikaanse idiome, maar sonder enige leestekens, geskryf. En dít in die ouderdom van 80!

Olivier het grootgeword in Robertson, met ’n Afrikaanse ma en ’n Engelse pa, en dis waar haar liefde vir Afrikaans ontstaan het.

“My Afrikaans en Engels is ewe goed, maar Afrikaans is my liefde. Ek skryf elke dag ’n stukkie. Maak nie saak wat dit is nie, ek skryf sommer partykeer iets humoristies oor wat ek gedoen het,” het sy aan Maroela Media vertel.

Sy stap graag vir oefening en dit is dán, nadat sy gestap het, wat sy dink aan al die uitdrukkings om neer te skryf. Na ʼn onlangse uitputtende stapsessie het sy geskryf: “Gooi maar die handdoek in sal later weer probeer probeer is die beste geweer.”

Die boek, Sonder kommas en punte, is ʼn boek vol idiome en het, soos die boek se titel aandui, geen kommas, punte of leestekens nie.

“Ek het gewonder oor wat ek die boek kan noem, en toe dink ek dít is ’n goeie naam, want dit is maar hoe ek praat ook. As ek eers aan die gang kom, dan stop ek nie! Die hele boek is aaneen geskryf, en dit begin met ʼn kleinletter. Dit is interessant om te sien hoe al die idiome eintlik mooi in mekaar inloop om ʼn storie te vorm. Ek het dit nie so beplan nie, ek het dit maar net begin skryf en dit het so uitgedraai.”

Olivier sê sy het die boek net vir haarself laat druk en toe ’n paar kopieë vir familie en nabye vriende gegee. “Hulle almal geniet dit baie, dit is mos maar net bog en só simpel. Maar hulle geniet dit. As ʼn mens een deel klaar gelees het, is jy skoon uitasem, omdat jy vergeet om te stop en asem te haal,” lag sy.

Olivier skryf net omdat dit vir haar lekker is en omdat dit is goed is vir haar om op haar ouderdom aan die gang te bly met hierdie soort werk – om haar kop aan die gang te hou. Sy maak ook seep in haar vrye tyd, en staan onder sommige as “die seepkoningin” bekend.

 

*Die boek is ongelukkig nie vir die publiek beskikbaar nie. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

BB ·

Ja nee die tannie hou by met die hede. Vandag se tyd het te min ure vir kommas en punte.

RB ·

Wat is die “punt” daarvan? haha.
Maar alle grappies op ‘n stokkie, welgedaan!

Ella ·

Ag nee ek sou dit graag wou he want ek gebruik ook graag idiome. Sal sy dit nie heroorweeg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.