Affies-meisies-gedenkbundel bekendgestel

Proefbladsye uit Affies-meisies se gedenkbundel, getiteld ‘Afrikaans Hoër Meisieskool 1920 – 2020: eenhonderd jaar van uitnemendheid’. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Afrikaanse Hoër Meisieskool het reeds op 28 Januarie 2020 ʼn 100 jaar oud geword, maar kon weens die Covid-19-pandemie nie behoorlik die mylpaal vier nie.

Dié skool kan nou egter breed glimlag, want na maande se swoeg en sweet is ʼn spesiale voorskou van die langverwagte gedenkbundel tydens ʼn intieme geleentheid aan die media bekendgestel.

Die bundel, getiteld Afrikaans Hoër Meisieskool 1920 – 2020: eenhonderd jaar van uitnemendheid is onder die bekwame leiding van prof. Maritha Snyman saamgestel. Snyman was voorheen die hoof van Lapa Uitgewers en medeprofessor in die Departement Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Danielle Heyns, een van Affies-meisies se adjunkhoofde, Louisa Slabbert, media-inligtingkundige van die skool, en Annalette du Plessis, ʼn oudleerling van Affies-meisies, het die navorsings- en skryfproses hanteer en die bundeluitleg is deur Marhet Magnus behartig.

Marna Jordaan, wat sedert 2008 hoof van dié spogskool is, verduidelik hoe tradisies en innovering die grondslag van hierdie bundel vorm.

“Tradisies is vir ons ontsaglik belangrik, maar ons dink met ʼn oop gemoed en dit is waarom ons heeltemal ʼn ander soort benadering met die samestelling van ons gedenkbundel gevolg het.

“Dit gaan ʼn heerlike boek word vir soveel mense daarbuite, en veral dan ook die alumnae van Affies-meisies.”

Heyns, een van Affies-meisies se adjunkhoofde, meen dit was ongelooflik om die afgelope 100 jaar se hoogtepunte op hierdie wyse te herleef en te dokumenteer.

Louisa Slabbert, media-inligtingkundige van die skool, en Danielle Heyns, een van Affies-meisies se adjunkhoofde met ‘n proefblad uit die Affies-meisies-gedenkbundel. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

“Watter reis was dit nie… Ek glo dat daar baie genot uit hierdie bundel geput sal word en dat dit ʼn bydrae lewer in die behoud van herinneringe en dinge wat die afgelope eeu gebeur het.”

Slabbert vertel hoe sy sedert haar beginjare by die skool telkens hoogtepunte en belangrike gebeure op een of ander wyse opgeteken of bewaar het. Min het sy geweet dat haar aantekeninge later ʼn riglyn sou wees vir die samestelling van ʼn gedenkbundel.

“Dit was nie ʼn maklike taak om deur al die foto’s, koerantuitknipsels, beeldmateriaal en die talle staaltjies te sif en te besluit wat om in te sluit nie,” sê Slabbert.

Tesame met Slabbert se informele argief is bydraes wat deur oudleerders gelewer is ook van onskatbare waarde. Veral in die vroeër jare is daar nie noodwendig beeldmateriaal of gebeure op skrif vasgelê nie.

Afrikaans Hoër Meisieskool 1920 – 2020: eenhonderd jaar van uitnemendheid se hoofstukindelings is in dekades verdeel en elke hoofstuk bevat ʼn geskiedkundige oorsig, prominente historiese gebeure, statistieke van die skool, en ander hoogtepunte of staaltjies wat opgespoor is.

Die gedenkbundel kan nou op Afrikaanse Hoër Meisieskool se gedenkblad bestel word teen R500 (prys onderworpe aan verandering). Die gedenkblad word op 27 Januarie 2022 amptelik bekendgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.