Afrikaanse boeke: Só lyk kortlys vir UJ-pryse

Die derde spoel deur SJ Naude

Die UJ-pryse word jaarliks toegeken vir uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Dié pryse word in twee kategorieë toegeken: Die UJ-prys en die UJ-debuutprys. Albei pryse word sonder inagneming van genre toegeken en die prysgeld vir die UJ-debuutprys beloop R30 000 terwyl die UJ-prys se prysgeld R75 000 is.

Uit altesaam 63 inskrywings vir Afrikaanse publikasies uit 2017 was daar slegs een selfpublikasie, maar wel 11 debuuttitels – in vergelyking met 16 debuutverhale wat vir die vorige jaar ingeskryf is.

Onder die niefiksietitels wat voorgelê is, was uiteenlopende en boeiende boeke, soos die korrespondensie met Elize Botha, as Gespreksgenoot byeengebring en versorg deur Heilna du Plooy; Cas Wepener se boek oor die kuns van sterwe in Karel Schoeman se kreatiewe oeuvre: Die reis gaan inwaarts; Johan Bergh se boek, Paul Kruger Toesprake en Korrespondensie, 1881 – 1900; Gerrit Kruger se omvattende boek Die verhaal van die Griekse taal oor 35 eeue heen; Naledi se tydige publikasie Ons kom van ver met bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans; en André Pretorius se boek oor kerkhervorming, Geloof alleen.

Verder was daar speurromans, moordromans, misdaadromans, historiese romans, reisverhale (oor die lewe in China: Elkarien Fourie se Vat jou hele hart, en Ernst Grundling se boek oor die Camino Francés: Elders) en ʼn toevoeging tot die fantasieverhaal in Afrikaans, Carina Stander se Die bergengel.

Ook opvallend was die twee boeke met laatwerk deur gesiene en bekroonde skrywers: Elsa Joubert se Spertyd en Karel Schoeman se Slot van die dag.

Onder die 52 inskrywings vir die UJ-prys tel 11 bundels poësie, maar slegs een bundel kortverhale en een drama; terwyl meer as die helfte van die 11 debuutinskrywings poësie is, met verder een drama, twee bundels essays, ʼn reisverhaal en die gewilde niefiksieboek Boereverneukers deur Izak du Plessis.

Die titels wat die kortlys gehaal het vir die 2018-UJ-debuutprys is (alfabeties volgens skrywer):

  • Nou, hier – Corné Coetzee
  • Radbraak – Jolyn Phillips
  • Die dag is bros/Sandton City grootdoop – Wessel Pretorius

Die titels op die kortlys vir die 2018-UJ-prys is (alfabeties volgens skrywer):

  • Spertyd – Elsa Joubert
  • Die derde spoel – SJ Naude
  • As in die mond – Nicole Jaekel Strauss
  • Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden
  • In die stille agterkamer en Gesant van die mispels – Marlene van Niekerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JC ·

Baie dankie hiervoor! Elkarien Fourie se reisverhaal lyk BAIE goed – dit is beskikbaar by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein -, asook Johan Bergh se boek oor President Kruger.
Ek sou nie vir Van Niekerk genomineer het nie, daar is baie beter AFRIKAANSE digbundels soos bv. “Uittogboek” deur Johan Myburg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.