Afrikaanse kinderboek binnekort ook in Italiaans te lees

Die groot Italiaanse uitgewery Rizzoli het vertaalregte vir Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim opgeraap.

LAPA Uitgewers het in ʼn verklaring bevestig Rizzoli het suksesvol teen ’n mededingende uitgewershuis gebie om die Italiaanse vertaalregte vir Jacobs se boek te bekom.

“Rizzoli is een van die grootste uitgewerye in Italië en wêreldbekende skrywers soos John Green (The Fault in Our Stars), Cressida Cowell (How to Train Your Dragon) en Michael Morpurgo (War Horse) se boeke word deur hulle in Italiaans uitgegee,” lui die verklaring.

“Ek is steeds ietwat verstom,” sê Jacobs, “en natuurlik baie dankbaar. Dit is ’n ongelooflike voorreg om te sien hoe Marnus en Leila, die twee hoofkarakters in my storie, die kans kry om nou reg oor die wêreld te gaan boomklim!”

’n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat hom een Desembervakansie laat ompraat om saam met ’n meisie in ’n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.

’n Londense uitgewery, Oneworld Publications, het ’n Goeie dag vir boomklim verlede maand wêreldwyd in Engels gepubliseer. Die boek is tans ook in Suid-Afrika te koop as A Good Day for Climbing Trees.

In Oktober verskyn nog een van Jacobs se boeke, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, oorsee as A Good Night for Shooting Zombies.

Die boek is hier te koop

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.