Afrikaanse skrywer se boek word Hollywood-fliek

Francois Bloemhof (Foto: Facebook)

Die skrywer Francois Bloemhof sê hy is in die wolke nadat ʼn Amerikaanse produksiemaatskappy hom pas laat weet het dat sy konsep vir ʼn wetenskapsfiksie-fliek aanvaar is en in 2018 in ʼn vollengtefliek omskep gaan word.

Bloemhof het Woensdag aan Maroela Media vertel hy het dié konsep ʼn paar maande gelede aan die produksiehuis voorgelê op aanbeveling van die radio-omroeper Amoré Bekker.

Bekker het met die skrywer in verbinding getree nadat sy bewus geword het van dié produksiemaatskappy wat op soek is na ʼn konsep vir ʼn rolprent.

“Dis wonderlike nuus om te ontvang vir enige skrywer,” vertel hy. “Dis nie soseer hóékom jy skryf nie, maar dit bly darem ʼn fantastiese bonus.”

Bloemhof se konsep vir die wetenskapsfiksie is ʼn verwerking van sy boek Nagbesoeker wat in 1997 verskyn het. Hy sê dié boek het nie ʼn wetenskapsfiksie-element gehad nie en hy het die kern daarvan dus gebruik om ʼn konsep aan die produksiemaatskappy voor te lê.

“Die boek is baie visueel en dit het vir my sin gemaak dat dit as wetenskapsfiksie sou kon werk. Ek het dit dus bietjie herskryf met ʼn element van wetenskapsfiksie daarby. Ek het die konsep eintlik al maande gelede aan hulle voorgelê, so ek het eintlik maar bloot aangeneem dat dit nie uitgewerk het nie. En toe kry ek vanuit die bloute dié goeie nuus.”

Nagbesoeker speel af op ʼn Suid-Afrikaanse kusdorp en vertel die verhaal van ʼn model wie se suster vermoor word. Sy keer dan terug na haar haar tuisdorp waar sy besef dat haar suster nié die enigste slagoffer is nie. Sy kom ook agter dat haar eie lewe in gevaar is.

Bloemhof sê daar is in dié stadium nog geen inligting oor die rolprent nie, maar wel dat dit in die buiteland geskiet word en dat die rolle deur buitelandse akteurs vertolk gaan word.

“Ek oorweeg dit ook verder om die boek weer vry te stel wanneer die fliek bekend gestel word – maar met dié element van wetenskapsfiksie bygewerk. Dis jammer dat dit nie in Afrikaans verfilm kon word nie, maar die boek is in sekere mate vrygestel voor die oplewing in die Afrikaanse rolprentbedryf. Ek is baie opgewonde daaroor én om die eindresultaat te sien.”

Bloemhof se boek Doodskoot is ook in ʼn fliek omskep. Hy was ook die skrywer van onder meer die boek Vir Altyd wat saam met dié fliek verskyn het waarin Donnalee Roberts en Ivan Botha die hoofrolle vertolk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ck ·

Dit is fantasties. Baie geluk. Sien uit om die nuwe weergawe te lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.