Afrikaanse vrou, tydskrifwese kom in ‘Gedenkboek’ onder loep

dr-jeanette-van-rensburg

Dr. Jeanette van Rensburg het ‘n gedenkboek van Die Boerevrou, die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, bekendgestel. Foto: APA.

Die Boerevrou Gedenkboek 2019, ʼn publikasie wat die ontstaan van die eerste Afrikaanse vrouetydskrif honderd jaar gelede gedenk, is vroeër die maand by die Afrikaanse Protestantse Akademia (APA) naby Loftuspark in Pretoria bekendgestel.

Die Boerevrou is van Maart 1919 tot Desember 1931 in Pretoria onder die redakteurskap van die eienares, Mabel Malherbe, uitgegee. Dié tydskrif was die voorloper van die bekende Sarie en was besonder gewild onder lesers.

Dr. Jeanette van Rensburg, outeur van die gedenkboek, sê dié vrouetydskrif is ook ver buite die land se grense versprei. Sy wys daarop dat dit op stylvolle wyse insig gee in die “who’s who” van die 1920’s.

Die Boerevrou Gedenkboek 2019 is ’n tydskrif-boek, ’n geskiedenisboek met die gevoel van ’n moderne tydskrif omdat dit nie net die eerste Afrikaanse vrouetydskrif gedenk nie, maar ook die ontwikkeling van die vrouetydskrifwese in die algemeen.

“Dit vertel vandag, ná honderd jaar, die aangrypende verhaal van hoe die vroue van ’n volk opgestaan het ná ’n verpletterende oorlog en deur ’n tydskrif, gewy aan hul belange in hul eie taal, in aanraking met die buitewêreld gebring is.”

Van Rensburg sê dat sy met hierdie publikasie poog om die leser op unieke wyse op ’n reis deur die huise en harte van die Afrikaanse oumagrootjies te neem.

Sy wil mense ook herinner aan uitsonderlike mense wat self nie meer hier is om hulle eie storie te vertel nie.

Die Boerevrou kan vandag bestempel word as ’n ryk skat van inligting oor die Afrikanervrou en haar leefwyse in die vroeë 20ste eeu,” sê Van Rensburg, wat ook ’n dosent in geskiedenis aan die APA is.

“Dit is die vrug van ’n doktorale studie in kultuurgeskiedenis waarin ek bevind het dat dit [die tydskrif] verteenwoordigend was van die historiese lesers. Ek het ook bevind dat dit ’n beduidende groep Afrikaanse vroue se lewensuitkyk en daaglikse lief en leed weerspieël het.

“Groot name soos C. Louis Leipoldt het hul pennevrugte die eerste keer in Die Boerevrou gepubliseer,” voeg Van Rensburg by.

Sy verwys ook na die bekende MER wat haar kragte agter hierdie inisiatief ingegooi het.

Die rektor, van die APA, prof. Gerrit Smit, sê dit is ’n groot voorreg om ’n publikasie van een van sy dosente by die APA amptelik bekend te stel. “Dit gee vlerke aan ons visie om die breër gemeenskap op voortreflike wyse te bedien met skatte uit die verlede. Ons hoop om nog baie sulke geleenthede te hê waar ons voortbou op die wonderlike nalatenskap waarin ons staan.”

Twee bekende historici wat die geleentheid bygewoon het, is dr. Arend Posthuma en dr. Pierre Edwards. Albei het groot lof vir die publikasie.

“Dit is duidelik baie voortreflik en aantreklik aanmekaar gesit, en gee insig in ’n interessante tydperk van opstaan,” het Posthuma opgemerk.

“Ek het een van die gedenkboeke vir Afrikaans Hoër Seunskool en een vir Afrikaans Hoër Meisies aangekoop. Hierin is selfs kleurvolle stof terug te vind wat die Affies meer oor hul eie herkoms kan vertel,” het Edwards, eertydse skoolhoof van die seunskool in Pretoria, gesê.

Die Boerevrou Gedenkboek 2019 is by uitgesoekte winkels beskikbaar en kan ook aanlyn by www.dieboerevrou.co.za bestel word.

  • Die APA het hierdie video van die geleentheid verskaf:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bennie van Zyl ·

Het die groot voorreg gehad om as man hierdie boek van dr Jeanette te kon lees. Die Boerevrou hoort in elke Afrikaner-huis. Dit is ‘n kosbare stukkie Africana.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.