Afrikaners sál die 21ste eeu oorleef

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz is die skrywer van die boek ‘Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu’. Foto: Reint Dykema.

Die Afrikaner sal die 21ste eeu oorleef ten spyte van die tientalle uitdagings wat dié groep in die gesig staar. Só meen ʼn paneel van meningsvormers wat Donderdag tydens die bekendstelling van dr. Leopold Scholtz se boek, Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu, aan ʼn paneelgesprek oor Afrikanerkeuses deelgeneem het.

Scholtz, skrywer en historikus wat ook gereeld bydraes vir Maroela Media lewer, het gesê hy glo een van die keuses wat die Afrikaner gemaak het waar die groep beslis die verkeerde rigting ingeslaan het, was toe hulle in ʼn stadium afgeleer het om vir hulleself te dink.

“Daar was ʼn tyd dat ons ʼn oordrewe geloof in wette en staatsleiers gehad het. Ons was behoorlike verslaaf daaraan. Dit is een van die redes waarom ons nou voel ons bevind ons in ʼn vakuum en dat die Afrikaner leierloos is.

“Daar is een pad vorentoe en dit is uit onsself. Gelukkig is daar iets soos die Solidariteit Beweging wat struktuur aan ons kulturele kapitaal kan gee, maar ons moet vergeet van ou oplossings. Afrikaners sal ʼn keuse moet maak dat hulle wil bestaan en voortbestaan as volk. Afrikanerskap sal ook herdefinieer moet word as iets wat bestaan tussen jou ore en in jou bors. Ons moet die wil aan die dag lê om ons eie krag te ontsluit,” het Scholtz verder gesê.

Fransjohan Pretorius,’n geskiedeniskenner, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Barnard Beukman, redakteur van die dagblad Beeld, het saam met Scholtz aan die gesprek deelgeneem terwyl Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, as gesprekleier opgetree het. Die geleentheid het by die Erfenisstigting op die Voortrekkermonument-terrein in Pretoria plaasgevind.

Hoewel die paneel dit eens is dat die Afrikaner sal voortbestaan, sal dit nie bloot op ʼn skinkbord gebied word nie. Kriel het beklemtoon dat harde werk en deursettingsvermoë ʼn vereiste vir voortbestaan is, terwyl Beukman benadruk het dat aanpasbaarheid noodsaaklik vir dié kultuurgroep sal wees.

Die gesprek rakende die voortbestaan van die Afrikaner vorm deel van ʼn gesprek oor die belangrikste keuses wat die Afrikaner in die 19de en 20ste eeu gemaak het. Sleutelkwessies soos die Afrikaner se besluit om enduit te veg in die Anglo-Boereoorlog, die instelling en handhawing van apartheid en die keuse vir hervorming in die vroeë 1990’s is sake wat Scholtz in sy nuwe boek grondig ontleed. “Ek wou hierdie keuses beskryf, ontleed en verklaar, maar nie veroordeel vanuit ʼn hedendaagse konteks nie,” het Scholtz tydens die bespreking gesê.

Meningsvormers wat ook aan dié gesprek deelgeneem het se menings oor die voortbestaan van die Afrikaner was die volgende:

Beukman: Ek het geen twyfel nie dat ons sal oorleef, want ek glo nie ons beleef ʼn bestaanskrisis nie. Daarvoor is ons te sterk en gevestig. Daar is wel van tyd tot tyd probleme wat opduik en sommige is ernstiger en meer uitdagend as ander. Ons is klaarblyklik ook te divers en steeds te verdeeld om gesamentlik in dieselfde rigting op die uitdagings te reageer. Enersyds sal ons duidelik meer aanpasbaar moet wees, maar andersyds sal ons moet verstaan watter tentpenne ingekap moet word om veral Afrikaans kreatief te laat gedy.

Buys: Die Afrikaner se geskiedenis was nog altyd ʼn stryd om oorlewing, en nie oorheersing nie. Afrikaners het al verskeie bestaanskrisisse oorleef, en ons sal die huidige krisis ook oorkom. Ons grootste “geheime wapen” was nog altyd die besef dat gemeenskapskrag sterker is as staatsmag. Hierdie kulturele kapitaal het ons in staat gestel om in moeilike tye nie net te oorleef nie maar wel voluit te leef. Afrikaners neem weer verantwoordelikheid vir die skep van ʼn toekoms waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Pretorius: Ek kan alleen as historikus oordeel. Die Afrikaner is lankal nie meer – indien ons ooit was – ʼn homogene groep nie. Maar, gegewe die geskiedenis, sal ons oorleef, as jy besef dat ons situasie tans geensins so beklemmend is as wat dit aan die Kaapse Oosgrens, of tydens die Groot Trek of die Anglo-Boereoorlog was nie. Terselfdertyd moet die rol van die individu nie onderskat word nie – elkeen van ons moet daar waar ons ons bevind, ʼn verskil maak.

Kriel: Afrikaners het in die geskiedenis telkens voor groot uitdagings te staan gekom. Soos enige gemeenskap was ons voorgeslagte nie foutloos nie, maar hulle het telkens daarin geslaag om in moeilike omstandighede buitengewone suksesse te behaal en deur harde werk en deursettingsvermoë te oorleef. Daar is geen rede waarom ons dit nie vandag weer kan doen nie.

Scholtz: As dit puntjie by paaltjie kom, hang die Afrikanervolk se oorlewing van homself af. Niemand anders gaan hom op enige beduidende skaal help nie. Die groot vraag is duidelik: Het die Afrikaners dieselfde kollektiewe wil om te oorleef as ʼn eeu gelede? Dié vraag sal in die komende dekades beantwoord word.

Meer oor Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu:

Die Afrikaner het sedert sy ontstaan voor verskeie keuses te staan gekom wat nie net die geskiedenis in ʼn sekere rigting gelei het nie, maar ook dié groep se wil om oorlewing sou beklemtoon. Dié kultuurgroep se stryd om oorlewing is duidelik in onder meer die vestiging van die Boererepublieke, die keuse om Afrikaans as taal te vestig, die herwinning van politieke mag in 1948 en uiteindelik die verlies van mag teen 1994.

Kruispaaie deur dr. Leopold Scholtz plaas die fokus op dié en ander rigtinggewende keuses van die Afrikaner gedurende die 19de en 20ste eeu en ondersoek die, soms rampspoedige, gevolge van die besluite. Dit vra ook die brandende vraag prontuit: Het die hedendaagse Afrikaner dit in hulle om binne die praktiese beperkings ʼn herwonne toekoms te skep? Of sal hulle sagkens, soos ʼn kers onder ʼn maatemmer, uitgedoof word?

  • Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu word deur Kraal Uitgewers uitgegee. Besoek kraaluitgewers.co.za vir meer inligting oor die boek. Navrae en bestellings kan by [email protected] gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

39 Kommentare

Hendrik ·

Die belangrikheid om ‘n kruisie te trek word deur die media voorgehou as die oplossing vir al die probleme. As ons almal saamstaan sal ons ‘n goeie opposie daar plaas om weerstand te bied. Die meerderheid wat vir die regerende partye stem is oorweldigend. Ek wil my fokus stel op wat ons kan doen behalwe om die kruisie te gaan trek. Daardie saamstaan (werkskepping, burgerregtegroepe, drukgoepe, skep van nuwe areas waar Afrikaner die meerderheid is (Kleinfontein, Orania, …….) is vandag die belangrikste en hierdie denkwyse moet deurkom na die Afrikaner.

Veritas ·

Hendrik ek stem saam met die eerste deel van jou kommentaar maar die laaste deel is, na my beskeie mening nie ‘n oplossing nie. Geografiese ‘Laertrek’ is nie die antwoord nie. Dit dui op ‘n ontvlugting van die werklikheid. Kulturele ‘Laertrek’ is, myn insiens, die antwoord. Die Afrikaner kan nie in isolasie voortbestaan nie maar kan, binne die huidige bestel, sy identiteit behou. Ons moet daarop konsentreer om weer ‘n trots, op ons Afrikanerskap, by jongmense te kweek. Tè veel jong Afrikaners is skaam/bang daarvoor om as Afrikaners geklassifiseer te word.

Dirk Breytenbach ·

Hendrik ek stem saam ons toekoms is in burgerlike organisasies en groeperinge al voel mense dit kom neer op laer trek. Ons opposisie en vyande is in verenigde fronte saamgetrek en sal vir mekaar stem ongeag selfverryking van hulle elite of korrupte praktyke wat hulself benadeel. Wat is dit anders as laers? Om trots te kweek is goed maar dit alleen kan nie verhoed dat ons regte en voortbestaan openlik bedreig word nie. Hoe gouer ons laer trek en vrede maak met die term hoe gouer kan ons verseker dat ons regte onder die grondwet erken word. Die teenoorgestelde van laer trek is om niks te doen nie.

John ·

Gelukkig vir hierdie slim oom dat hy nie hier sal wees om te sien of sy riglyne en volsinne, ook baie reels en regulasies soos altyd maar as iemand beter weet, hierdie amper 100 jaar gaan oorleef nie. Ek het gelukkig ‘n Bybel wat beter voorspel en lei as die jongste geldmaker uit Oom Leopold se kraal waar wilde eenhoringbokke nogal gereeld uitbreek. Gelukkig ook vir hom is 007 en die VSA vir ewig hier om die aarde te rig en te beskerm.

Dirk Breytenbach ·

Ai John ek verwag beter van iemand wat die Bybel kwoteer. Ons is al so gewoond om mekaar sleg te se in SA dat mense nie skroom om neerhalend na iemand se ouderdom te verwys nie. As mense se ouderdom volgens jou opmerking dan ‘n dis-kwalifiserende faktor is, wat is jou oplossing? Moet kommentators noodwendig jonk wees om geloofwaardig te wees? Dr Scholtz se taalgebruik is gestruktureerd en sy onderwerpe is aktueel of ons nou met hom saamstem of nie, dis elkeen se reg. Kom ons adresseer die probleem deur die bal te speel en nie die ou nie.

Ernst Marais ·

In hoe ‘n mate is Afriforum ook skuldig in die bevordering van groepsdenke?
Ek het elders gelees dat Afriforum se teikenmark is die 80% Afrikaners in die middelgrond – soos Rooikappie se pap, nie te warm nie, nie te koud nie, net mooi reg.
Dit is juis in die randfigure waar nuwe denke ontstaan – denke wat dalk rigtinggewend vir die voorbestaan van die Afrikaner kan wees.

Shannon ·

Ernst, ek dink dit was Gouelokkies. Rooikappie het nie pap ge eet nie. Sy moes tevrede wees met droë brood en `n pint bier.

Ernst Marais ·

Shannon, jy is reg! Dit was inderdaad Gouelokkies!
Al wat Rooikappie gered het was haar vermoë om kritiese vrae te stel:
“Waarom is Ouma se neus so lank?” (Subteks: waarom lieg jy so?)
Dit is die vermoë wat vir lank onderdruk en geringgeskat is.

Izak Nel Mentz ·

Ek kan nie wag om Leopold se nuwe boek te lees nie. Hy is ongetwyfeld voor sy tyd. Is daar dalk ‘n bandopname van die paneel se gesprek êrens te vinde asseblief?

JC ·

Afrikaners SAL oorleef en ook ons taal wat ons deel met ander Afrikaanses ! Afrikaners is awesome mense !

Erns ·

Dit is interessant dat daar so min kommentaar op hierdie belangrike kwessie gelewer word, sekere ander artikels kry baie meer aandag. Ek is nie so seker dat die Afrikaner sy huidige situasie kan vergelyk met geskiedkundige aanslae nie. Die grootste rede daarvoor is omdat die huidige aanval teen die Afrikaner baie meer sielkundig en soms subtiel uitgevoer word. Dit veroorsaak dat die algemene persoon (Afrikaner) nie die erns van die saak besef nie en in geisoleerde oorlewing voortstoom. Die aanslae op die Afrikaner is van alle kante af: Taal, kultuur, reg tot assosiasie, sielkundige gewetensteistering en ook op ernstiger vlak die meestal sinnelose uitmoor van ons mense. ‘n Ander bekommernis is die onkunde en wantroue (soms geregverdig) wat die algemene persoon rondom politieke kwessies het, en in die geval help eiewysheid glad nie. As Afrikaner kon ons al verder gestaan het ten opsigte van selfbeskikking, maar baie mense is naief rakende die politieke omgewing. Persoonlik is ek baie bekommerd oor die oorlewing van die Afrikaner in die langer termyn, omdat die aanslag subtiel is en dus nie in die algemeen raakgesien word nie. Daar sal meer gesprekvoering rondom die kwessies moet plaasvind en ons mense sal bewus moet raak van die implikasies. Ons kan nie ons voortbestaan as vanselfsprekend aanvaar nie.

JC ·

Uitstekende kommentaar Erns -ek sou dit nie beter kon stel nie -duidelik die kommentaar van n intelligente persoon wat wel deurdagt is!

Tinus ·

Met grootste respek aan mede Afrikaners. Ons voor ouers het hulle toekoms in God se hande gelaat. Daar is net een manier wat die Afrikaner sal kan laat oorleef en dit is soos in die berig genoem is. Slaan God se tent pen in en hou op om mamon te aanbid en te dink ons is op ons eie sterk

John ·

Die Afrikaners gaan nie ver vorder as net ‘n klein groepe uitverkorenes mediteer oor hoe onnosel die res van die volk, elders daar buite, is nie. Solidariteit het en gaan deur die jare baie tyd en geld blaas in die landshowe in ‘n poging om weer die wiel te help herontwerp wat De Klerk & Kie in die put gegooi het. Om nou na 300+ jaar, die volk aan te spreek oor hul onkunde, gelatenheid en onbetrokkenheid by taal- en kultuursake en hulle aanmoedig om groot baniere te gaan swaai nadat die ANC kaperjolle uitgevoer het, is sinneloos. Ons kan nie meer die ossewa pak nie en ons sannas is onder polisiebewaring. Almal besef baie goed wat aangaan. Die gewone man/vrou voer ‘n oorlewingstryd. Kos op die tafel en ‘n dak oor die kop, is prioriteit. Groot gedoentes bring nie altyd uitkoms nie. Daar kom soms ook ‘n tyd om net te wag en beslis nie op filosofiese geskrifte om langs die Bybel op die bedkassie staan te maak nie.

Dirk Breytenbach ·

Ai John ek verwag beter van iemand wat die Bybel kwoteer. Ons is al so gewoond om mekaar sleg te se in SA dat mense nie skroom om neerhalend na iemand se ouderdom te verwys nie. As mense se ouderdom volgens jou opmerking dan ‘n dis-kwalifiserende faktor is, wat is jou oplossing? Moet kommentators noodwendig jonk wees om geloofwaardig te wees? Dr Scholtz se taalgebruik is gestruktureerd en sy onderwerpe is aktueel of ons nou met hom saamstem of nie, dis elkeen se reg. Kom ons adresseer die probleem deur die bal te speel en nie die ou nie.

Koos ·

Ek glo nie die Afrikaner sal die 21 ste eeu oorleef nie. Die definisie van n Afrikaner is n persoon wat blank is en Afrikaans praat. Daar sal serkerlik nog blanke mense wees aan die einde van die 21 ste eeu, maar dit sal veel minder wees as nou. Die rede vir die drastiese afname sal toegeskryf kan word aan emigrasie ( omtrent 40 000 mense verlaat jaarliks die land) en ‘n laer aanwassyfer. Die meeste Afrikaners sal verloor word deur verengelsing wat alreeds in groot getalle gebeur het. Die jong mense vandag kan skaars Afrikaans praat en word so beinvloed deur die media wat of slegs in engels of in gebroke Afrikaans/engelse slang (kyknet) beskikbaar is. Soos wat nederlands uitgesterf het in Suid-Afrika sal Afrikaans ook uitsterf. Afrikaans is die afgelope 25 jaar heeltemal uit die staatsdiens en amper heetemal uit die privaatsektor gefasseer, Die taal staan op die drumpel om uit hoër onderwys te verdwyn en soos sake nou staan ook uit staatsskole in Gauteng binne die volgende 5 jaar. Die grootste rede is dat die groot meerderheid Afrikaners ( daar is uitsonderings) nie ‘n trots en liefde vir hul taal en kultuur het nie. 90% van die jeug kan eenvoudig nie meer Afrikaans praat nie. Hulle sien hul nuwe Afri-engelse kreools as progressief , iets wat kamtig die taal “bou”. Ek sien slegs mense wat so ellendig is dat hulle hul eie moedertaal swakker praat as menige engelse vir wie Afrikaans ‘n tweede taal is.

Bert ·

Ek verskil van Prof Pretorius: vandag is die Afrikaner voor sy grootste eksistensiële krisis ooit, selfs erger as net na die Vrede van Vereeniging.

Ons het nog altyd van te vore ‘n mate van politieke aanspraak gehad in die bestuur van die land; nou is ons totaal en al uitgelewer.

Die ander gevare is demografiese agteruitgang, die ou vyand, Engels, en ‘consumerism’.

Of ons gaan ons oorleef hang ook tot ‘n mate af van Afrikaanses, daardie mense wat deur die ANC as Afrikaners beskou word maar self nie so identifiseer nie.

Henry ·

Om alewig oor die voortbestaan van Afrikaans en Afrikaanswees te gorrel, is mynsinsiens ‘n vervelige, nuttelose, afgesaagde en uitgediende oefening.

Soos die Jode wat oor die wêreld heen versprei is, is daar geen rede waarom ons nie ook ons Afrikanerskap kan uitleef en bevorder tot al oom Daantjie se kallers eendag kraal toe kom nie.

Ons geskiedenis het reeds bewys gelewer dat ons as ‘n volk die vermoëns het om tsv die grootste bedreigings, staande kan en sal bly en steeds voort beur. Baie dieselle as oorle’ Oompie Jan FE Celliers se osse wat so deur die stowwe heen aan gestap het.

Al die ge-wroegery en twiste oor Afrikaanswees lei nêrens heen nie.

Staak tog al die teoretiese ge-gorrel oor al die bedreigings wat die Afrikaner oorspoel.

Hou op om allerlei spoke op te jaag. Spoke wat in ieder geval slegs in die gedagtes van die skeppers van die spoke voortspook en van geen verdere nut vir mens of dier is nie.

Leef, geniet, en WEES AFRIKAANS.

Is makliker as om uit ‘n boom uit te val.

Kyk noord en wat-ookal voort!!!

Hennie ·

Ons Afrikaners moet onsself gladnie beskou as die uitverkore volk nie. Al wat ons beslis sal lei om te oorleef en meer as dit, na oorwinning, is ons ware verhouding met God Almagtig. David as jong seun was nie ‘n beter vegter as Goliat nie, die verskil by hom was sy vaste geloof in God terwyl Goliat ‘n afgods aanbidder was. Die deurslag vir Dawid se oorwinning was in die Gees.
As ons Afrikaners maar vir God vasgryp in absolute geloof, sal ons uitstyg in hierdie land as Sy volk wat niks het om te vrees nie.

Armando ·

Ek wend my graag tot Hennie hierbo en alle Afrikaners wat soos hy sy heil in ‘n sterk geloof in sy God sien. Sy voorbeeld van Dawid en Goliat is juis tot die punt. Ons moet ophou om onsself op ‘n manier gelyk te stel aan die Jode. Die Jode het ‘n boek geskryf wat vir hulle van waarde was (en steeds is) omdat dit hulle saamgebind het. Dit was moontlik om onder die omstandighede wat hulle geleef het te glo dat hulle uitverkore was. In daardie tyd was God, God: almagtig, alsiende ens ens en oneindig lief vir hulle. En hulle het politici wat manne was gehad wat daagliks met Hom gepraat en hulle is in besonderhede gesê wat hulle moes doen en nie. Ons vandag het nie daardie tipe politieke voorskrifte wat pas by ons omstandighede nie. Ek sien ons sterkste taktiek om ‘n ekonomie te bedryf wat op ons van toepassing is. Ons moet ons rykdom poel deur by mekaar te koop, want ‘n ekonomies sterk volk is onoorwinlik.

Henry ·

Daar kan nie veel Afrikaners wees wat steeds aan sprokies glo wat destyds deur sommige oom dominee’s verkondig en/of voorgehou is, dat ons ‘n ‘uitverkore’ volk sou wees nie.
Daarom dink ek dat sommiges onnodig bekommerd raak dat Afrikaners van 2016 onsself as sogenaamde uitverkorenes beskou. Nog minder dat Afrikaners hulself aan die Jode gelyk sou stel.
Laasgenoemdes sou hulle wat verbeel!!!
In ieder geval – Afrikaners het laaaank gelede reeds geleer om ons nie aan sulke fabels te steur nie.

Armando ·

Henry, ek stem saam wat betref die verkondiging van sprokies. Maar ek sien niks wat in die plek daarvan gekom het nie. Hier probeer Solidariteit dmv Afriforum mense bymekaarbring wat bymekaar hoort, maar steeds is daar dwarstrekkery en verdagmakery. Kom ons besluit liewer om “en masse”, maw as ‘n groep , vir één party te stem en ek bedoel die VF+, want daar is niemand anders daarbuite nie. Kom ons wys vir dié wat ons uitmekaar wil jaag dat ons KAN saamstaan, kom ons doen dit net een keer en hou dan dop die gevoel van eenheid wat gaan posvat. en koop asb by jou eie: vergeet van die Massmart- groep, die Builders, die Games, die Makro’s. Wie is hulle en in wie se sakke beland ons geld? Politieke eenheid dus ,en koop by jou eie… dis nou as die 21ste eeu wil oorleef.

Theuns ·

Armando ek het jou vorige kommentaar ook gelees en stem 100% saam met jou! Kom ons staan saam en vermy die ouens wat ons wil ontspoor en wees onbeskaamd wit en Afrikaans. Dit is mos wat ons is. As ander mense skaam is vir hulle velkleur en hulle Afrikaansheid is dit nou maar so! Jou kommentaar is uitstekend.

Johannes Meintjes ·

Myns insiens is die blanke Afrikaner agter sy tyd. Ons slaag nog nie daarin om objektief en konstruktief te dink nie, en om volwasse in doelgerigde medewerking te fokus nie. Ons loop nog te veel dinge bloot blindelings na. Boeke lees en baie (Afrikaans) praat is goed. Om die regte dinge betyds en elke dag te doen, is beter.

John ·

Wat! Ons is voor die Westerse wereld! Die Afrikaners het lankal ervaar wat Europa, Engeland en die VSA nou begin beleef. Hulle het die heeltyd vir ons gepreek. Nou le die probleem op hul drumpels. Ons is nie die Joodse volk nie ( baie van ons is wel Joodse afstammelinge via Nederland en Frankryk) en Christelik georienteerd, maar ons kan leer by hulle oor hoe om waar ookal, jou afkoms en kultuur uit te leef en te behou. ‘n Klompie Boere in Rusland sal gou ‘n fees hou en ‘n hond-uit-bos kuier. Ons het so ‘n mooi land, maar dit word ‘n rommelhoop op baie plekke. Plakkerkampe loer om elke draai langs stede en hoofroetes. Om te sterf vir ‘n ander volk en ons was-gewees-land (nou so te se varkhok)? Die land se volkslied vereis dit ook nie meer van ons nie.

JB ·

Die Afrikaner se grootste vyand is binne eie geledere. Dit was nog altyd die geval en sal nooit verander nie. Eeue se inteling het ‘n nasie geskep van dwarstrekkers en fataliste. Dit is veral eersgenoemde, wat laasgenoemde se onvermoe om drasties op te tree, altyd sal uitbuit. Tot nadeel van almal.

Hennie ·

Jammer Henry, sal nie help on met jou te redeneer nie, by is nie toegerus on te verstaan nie.

Henry ·

Hennie.
Hopelik vind jy iewers ‘n ‘by’ wat toegerus is ‘on’ te verstaan want dit is duidelik dat ons mekaar nooit sal verstaan nie.
Ander planeet, miskien…
:-)

Hennie ·

Nie eers ‘n ander planeet nie Henry, dis ‘n hopelose saak.

johann brits ·

Kan nie wag om te sien wat my volk gaan doen om vele doemprofete verkeerd te bewys nie-ons het voorheeb oorwin en sal dit weer doen !

John ·

Ek hoop werklik nie, as die Wederkoms voor die einde van die eeu plaasvind, dat daar nog Afrikaners op die aarde oor gaan wees nie. Dit gaan nogal ‘n pynlike sakie wees. Maar ons outeur verseker ons dat hy insig het in die gang van die heelal se sake. Ek slaap rustiger met my Bybel langs my bed as saam met ons Oom se insiggewende bespiegelinge.

Theuns ·

Ek dink die Kommentators wat aan die panel bespreking oor Leopold se boek deel neem kan vertrou word. Daar is egter iets wat almal miskyk! Dit is die aanslag op die Afrikaner se kollektiewe geheue oor ons Geskiedenis, ons Godsdiens, ons vorige leiers, ons beelde en wat hulle verteenwoordig. Daar is gedurig die bombardement op die Afrikaner oor Apartheid, sy taal en sy skole. Die Prez wat se ons het die grond gesteel. Die regverdiging van BEE of swart bemagtiging wat maar erge diskrimininasie is. Die “Aanslag” kom nie net van die ANC en ander groepe af nie maar ook van Afrikaners in ons eie geledere wat dit blykbaar doen om ‘n paar “brownies” te “Score” (Om polities korrek te wees) by ander kleuriges. Die Afrikaners wat ons uitverkoop het sit daar met hulle valse glimlagte en verdedig hulle dade met die verontskuldiging met” Dink wat die gevolge sou wees as ons dit nie gedoen het nie!! Die Afrikaners word met die aanslag gedwing om sy ” Bek te hou en verby te stap” Ons moet jammer wees dat ons lewe. Ons het wel kommentators wat al die valshede kan beveg met die “WAARHEID” Die waarheid is ook goed gedokumenteer! Die vraag is sal die media dit toelaat en die WAARHEID plaas?

Armando ·

Baie goeie opmerkings, Theuns. Dit help baie om sienies te wees wanneer jy aan politici en die media dink. Hulle wil graag ons denke reel.

Theuns ·

Hier is ‘n bietjie van die Waarheid
1. Ons, die witmense sowel as swartmense van Suid Afrika, Angola en Namibie het die Bos Oorlog teen die ANC, SAKP, SWAPO, KUBA en OOS DUITSERS gewen.
2. Ons het die PROPOGANDA oorlog verloor agv swak leierskap.
3. Die ANC het hulle eie mense en MK Kaders in Angola en Mozambiek in Straf kampe” GULAG” aangehou en vermoor. Daar word beweer dat Zuma vir twee moorde en Hani vir 19 moorde verantwoordelik was. Zuma en Hani het, so word beweer, hulself skuldig gemaak aan marteling, onwettige diamant handel, geldwassery en prostitusie.
4. Boere het grond gekoop en het Bewys van eienaarskap.
5. Witmense betaal die meeste belasting.
6. Witmense het die beste leer instellings( Skole en Universiteite) met hule eie finansies geskep.
7. Witmense het besighede en werk geskep. Die ANC het dit in 21 jaar alles vernietig.
8. Die diskriminasie teen Witmense het hulle in intrepreneurs omskep.
So gaan die voorbeelde aan en aan en vir elke item behoort daar afsonderlik kommentaar gelewer te word. Ek is trots op die Afrikaner!

Dr. Amari ·

Julle se mos bejaarde persone kan ook ‘n eiertjie le. Ek hou van Ernst se mening. Ons mense het egter een probleem, of baie. Ons stem nooit saam nie – ek dink ‘n halwe probleem opelos is beter as geen oplossing nie. Ek luister en sien hoe julle met mekaar verskil – tot kritiek op Afriforum, ek dink ons moet liewer die resultaat uitwys wat hul al reg gekry het ens. ek dink nie daar is perfekte sukses nie. Om net te praat gaan ook nie help nie – Flip Buys vra aanhoudend vir diensorganisasies, kultuurorganisasies ens. veral onder ons jeug, hoeveel het u al gestig – ons moet probeer om die jongmense weer trots Afrikaners te maak. Julle gaan vir my baie kwaad wees maar ek meen die godsdiensonderrig hoort nie in die Staatskole nie – ek sou nie wou dat vandag se skole vir my kinders my taak oorneem nie. Vandag se onderwyser is daar om vir ons kinders kennis soos wiskunde ens. te leer. Jou kind se godsdiensonderrig is jou en jou kerk se taak. Dit behoort by jou en jou kerk – die tyd is verby dat ons ons kinders se opvoeding op iemand anders afstoot. As jy ‘n Afrikanervolk more wil he moet jy by die jeug begin. Groete, verskoon die raad.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.