‘Afrikanertoekoms 101’ – Flip Buys en Paul Maritz stel hul boek bekend

(Grafika: Verskaf.)

Deur Paul Maritz

In die huidige tydsgees staar talle uitdagings die jong Afrikaner in die gesig. Dikwels moet antwoorde op tartende vrae oor apartheid, regstellende aksie, moedertaalonderrig, geloof, en ander moeilike temas gebied word. Die antwoorde op hierdie vrae kan kompleks wees, of volgens party nie polities korrek nie.

Hoe nou gemaak?

Juis om hierdie jongmense in hul soektog na antwoorde by te staan, het Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, en Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit se Jeuggilde, besluit om ’n boek te skryf wat op sommige van hierdie moeilike vrae ’n antwoord probeer bied.

Hierdie boek, Afrikanertoekoms 101, word vandag aan die publiek bekendgestel, en wil in die outeurs se eie woorde ’n bydrae lewer juis deur nie weg te skram van moeilike kwessies nie.

paul-maritz

Paul Maritz, is die hoof van Solidariteit Jeug. Foto: Verskaf.

“Hierdie boek se belang lê daarin dat dit 15 van die mees algemene vrae wat jong Afrikaners vra, kort en kragtig probeer beantwoord. Ons gee nie voor dat dit al die antwoorde gee nie, maar ons het uit die beste bronne moontlik geput om dit kort en kragtig oor te dra.” het Flip Buys geantwoord op waarom jongmense juis hierdie boek moet lees.

Die boek word in ’n gemaklike formaat aangebied, en is innoverend uitgelê soos ’n e-posgesprek, met Paul wat dikwels die moeilike vraag waarmee hy en ander van sy generasie gekonfronteer word, aan Flip stuur, en Flip wat dan ’n e-pos in reaksie stuur waarin hy konteks skep en ’n antwoord bied.

Van die onderwerpe wat aan die beurt kom, is, onder meer, hoe die jongmens oor apartheid moet dink, waarom moedertaalonderrig steeds waardevol is en voor geveg moet word, hoe ons moet dink oor die groot getalle Afrikaners wat emigreer, asook die Afrikaanse taalgemeenskap se reg op eie universiteite en skole.

Professor Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, stel in sy voorwoord dat hierdie briewe nie terugdeins van die verlede se foute nie.

“Nogtans,” gaan hy verder, “beklemtoon dit ook – teen die tydsgees in – die grootsheid van die Westerse kultuur waaruit die Afrikaners stam. Dié kultuur en die hoekstene waarop dit gebou is (Athene, Jerusalem en Rome) stel ons juis in staat om ook ’n kritiese antwoord op ons eie foute te gee. Ons denke, ons sin vir waarheid, ons liefde vir geregtigheid en vryheid is immers daarvan afkomstig. Die briefwisseling behoort deur elke jong Afrikaner gelees én deurdink te word.”

Die amptelike bekendstelling van hierdie boek is, weens afsonderingsmaatreëls, vooraf opgeneem, maar is vandag om 16:30 op Solidariteit se YouTube-kanaal en Facebook-profiel beskikbaar. Hierdie bekendstelling is ’n gesprek waartydens die aanbieder, Daniel du Plessis, aan Flip en Paul vrae stel oor die boek, die inhoud, en die waarde wat hulle hoop die boek sal bydra.

  • Afrikanertoekoms 101 is beskikbaar op Kraal Uitgewers se webblad en kos R50,00.
  • Die boekbekendstelling van Afrikanertoekoms 101 vind aanlyn op Solidariteit se YouTube-kanaal om 16:30 plaas.

Buys verduidelik in hierdie video waarom behoort jy dié boek te lees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.