‘Afspraak met moord’ – skrywer deel haar reis

Jana Marx (Foto: Jana Balden/Twitter)

Aan elke slagoffer wat so wreed in die Krugersdorp-moorde gesterf het, en aan elke sleutelgetuie wat so dapper en vreesloos getuig het.

ʼn Mens is geneig om te dink dat misdadigers of mense wat in staat is om sulke wrede moorde en misdrywe te pleeg, redelik ver van jou af bly, sê Jana Marx, skrywer van Afspraak met moord.

Die Krugersdorp-bende, ʼn groep van sewe vriende wat 11 mense tussen 2012 en 2016 gewetenloos vermoor het, se misdrywe het soos ʼn Stephen King-verhaal ontvou.  Marx het haar ervaring van die gebeure en skryfproses met Maroela Media gedeel.

“Dit is gewone mense met doodnormale lewens en beroepe soos ek en jy,” sê sy.  “Ek dink dit is juis wat die Krugersdorp-gemeenskap so geruk het.”

Marx het sedert die begin van die Krugersdorp-moordsaak in Mei 2018 daaroor berig en weens ʼn sameloop van omstandighede besluit om die gebeure op skrif vas te lê.  Sy beskryf dit as ʼn “bisarre storie” en vertel dat dit haar jare later steeds fassineer.

“Dit het my ʼn hele geruk geneem om te besef dat ek enigeen van die groep kon raakloop.  Ek kon netsowel ʼn slagoffer gewees het,” meen Marx.  “Dit was mense wat afsprake gemaak het en dit nagekom het.”  Een van die natuurlikste aspekte van die lewe, voeg sy by.

Hulle het ʼn afspraak vir die Maandagmiddag om 15:00 by die Mugg & Bean in Northgate Mall in Johannesburg gemaak, maar dit was eintlik net om seker te maak daardie uur in Reg se dagboek is uitgeboek.  Reg het daardie dag as’t ware die afspraak vir sy moord gemaak (bl. 112).

Marx het in Bloemfontein grootgeword en daar skoolgegaan.  Sy het in 2013 ’n graad in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en tussendeur oor kerkverwante nuus op ’n vryskutgrondslag geskryf.

Ná haar studies het sy as handelsmerkredakteur by Finesse-tydskrif gewerk en in 2015 is sy as nuusverslaggewer by Netwerk24 aangestel.  Marx fokus veral op kerkverwante nuus en hofsake.

Cecilia Steyn. Foto: Mia Spies/eNuus

Die geloofselement van die Krugersdorp-moorde het haar belangstelling geprikkel, omdat dié praktyke net in sommige situasies toegepas is.  Marx is gedryf deur haar behoefte om dié legkaartstukkies inmekaar te pas.

“Dit was ʼn groot ‘Aha!’-oomblik toe ek besef dat ons nie met ‘regte’ godsdiens te doen het nie,” vertel Marx.

Cecilia Steyn, die meesterbrein en leier van die Electus per Deus-kultus, het Christenskap en Satanisme gebruik om by haar planne in te pas.  Steyn het dikwels na haarself as “die bruid van Satan” verwys.

“Cecilia het haar eie weergawe van die gelowe geskep,” sê Marx.  “Sy sou stukkies daaruit neem of reeksmoordenaars se lewens vat en dit deel maak van wat sy Satanisme noem.

“Selfs die Christenskap wat sy aangehang het, was nie soos wat belydende Christene dit ken nie.  Dit was absoluut haar eie idee van geloof om haar doel te bereik, wat dan die moorde was.”

Marx se reis het haar dikwels slapelose nagte besorg, maar sy is dankbaar vir familie en vriende se ondersteuning.

“Ware misdaadverhale kleef aan ʼn mens,” sê sy. Marx onthou dat sy in die tyd wat sy Mikeila Valentine se moorddossier bestudeer het, vir omtrent drie nagte nie kon slaap nie.

“Die moordtonele was ontsettend tragies, maar ek wou die boek klaarskryf,” vertel sy.

Marx dra die boek op aan elke slagoffer en familielid. Sy sê dit is die fokus van Afspraak met moord en daarom het sy deurgaans die nodige respek getoon wanneer moordtonele beskryf is. Die foto’s is ook noukeurig uitgesoek sodat die menswaardigheid van slagoffers behou bly.

“Ek wou dit vir hulle doen,” vertel Marx.

Hoewel dit ʼn ongelooflike ervaring was, vertel Marx dat sy nie binnekort weer haar pen gaan optel om ʼn boek te skryf nie.

“Ek het onlangs in ʼn nuwe pos by die werk begin. So vir die volgende ruk gaan ek eers my voete daar vind.”

Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R295,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.