Fassineer die herkoms van Suid-Afrikaanse plekname jou ook? Kry hier ʼn voorsmakie uit Plekname van Suider-Afrika wat onlangs by Protea Boekhuis verskyn het.
Arniston
Dorpie aan Marcusbaai, 24 km suidoos van Bredasdorp. Dit is genoem na die Britse troepeskip die Arniston, wat op 30 Mei 1815 in die baai, ongeveer 40 km noordoos van Kaap Agulhas, gestrand het met ʼn verlies van 372 lewens en slegs ses oorlewendes. Die skip is vermoedelik genoem na Arniston in die graafskap Midlothian, Skotland.
Die dorpie het jare lank as Waenhuiskrans bekend gestaan, maar is later ook as Arniston goedgekeur, ʼn seldsame geval van dubbelnamige goedkeuring in Suid-Afrika (bl. 56).
Duiwelspiek
Berg 1 002 m hoog, noordoos van Tafelberg en daarmee verbind, in Engels bekend as Devil’s Peak. Vroeë Nederlandse name vir die bergkruin sluit in Duivenberg, aanvanklik vertolk as Duiven, “duiwe”, later ook as Duyvels Bergh en Duivels Berg; dus geïnterpreteer as “duiwels”.
In hierdie verband kan die legende vermeld word van Jan van Hunks, ʼn afgetrede matroos wat sy dae deurgebring het deur aangeklam van die rum onder ʼn klompie bome te sit en sy geliefde pyp te rook. Eendag het die duiwel aan hom verskyn en hom tot ʼn rookwedstryd uitgedaag. Hulle twee het so lustig gesit en rook dat hulle weggeraak het in die rook, en toe die rook opklaar, was nie een te sien nie.
Wanneer die suidoostewind die beroemde “tafeldoek” laat verskyn, sê mense Van Hunks en die duiwel is terug, weereens besig met hulle rookkompetisie.
ʼn Geloofwaardiger verklaring is dat die naam Duiwelspiek na bewering verwys na sterk winde wat afwaarts van die piek waai, ʼn rede waarom die berg ook De Wind en Windberg geheet het. Blykbaar is die komponente duiven en duivel aanpassings van die Boesmanswoord duivi, “wind”, wat tot die vertaling as De Wind en Windberg gelei het. So is duivi, wat klink soos en verstaan is as duiven, “duiwe”, en duivel, “duiwel”, herinterpreteer as Duivenberg, Duivelsberg en Duiwelsberg, en uiteindelik vertaal as Devil’s Peak en Teufelsberg. Die berg het in verskillende stadiums ook Charles Mount(ain), Crown Hill en Herbert’s Mount (in 1620 deur kommandeur Humphrey Fitz-Herbert toegeken) geheet (bl. 165-6).
Galjoenbaai
Baai 1,5 km suidoos van Snelskop en 3 km noord van die mond van die Groenrivier. Galjoen is Suid-Afrika se nasionale vis, die Dichistis capensis, deur G. Cuvier in 1831 opgeteken as die Coracinus capensis. Dit word slegs langs die Suider-Afrikaanse kus aangetref en heet “black bream” of “blackfish” in Engels. Dis gewild onder hengelaars, wat dit van die rotse af vang (bl. 221).
Hartenbos
Vakansieoord vir lede van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), 8 km noordwes van Mosselbaai en ongeveer 40 km suidwes van George. Dit ontwikkel en verbeter voortdurend en het die normale aktiwiteit- en ontspanningsfasiliteite asook ʼn kultuurmuseum en georganiseerde sport- en kulturele aktiwiteite. Die naam is afkomstig van die plaas Hartenbosch wat in 1730 aan Esias Engelbrecht Meyer toegeken is. Die huidige naam, afgelei van Nederlands, verwys na ruigte wat vroeër hier voorgekom het. Die Hartenbosrivier se naam is afkomstig van daardie bos (bl. 267).
Kaaimansgatkloof
Kloof oos van die Wemmershoekberge en wes van die Stettynskloofberge, ongeveer 15 km noord van Villiersdorp en 12 km noordoos van Franschhoek. Die naam beteken volgens oorlewering “die kloof waar ʼn diep poel (gat) oorgroei word met blou waterlelies (kaaimansblom), Nymphaea capensis, moontlik Aponogeton sp.” Die plantnaam word afgelei daarvan dat dit algemeen in ʼn kaaimansgat voorkom, ʼn diep poel waarin, volgens bygeloof, ʼn kaaiman of man wat hierdie blomme geplant het, gewoon het om ongehoorsame kinders nader te lok en te verdrink terwyl hulle in die poel swem. Die generiese naam is gebaseer op die Griekse mitologie, waarin Nymphe ʼn watergees is. Sommige kenners verbind die naam met die Nederlandse en Afrikaanse “kaaiman”, ʼn naam wat verwys na die “waterlikkewaan” of “monitorakkedis” (Varanus niloticus). Kyk ook Kaaimansrivier (bl. 319).
Lanneadraai
Kromming in die Shingwedzirivier, stroomop van Red Rocks, 6 km noordoos van Woodlands. Die naam is afkomstig van die Lannea stuhlmannii, bastermaroela in Afrikaans; die generiese term “draai” verwys na die kromming in die rivier, waar ʼn opvallende voorbeeld van die boom in 1987 gevind is deur ʼn wildbewaarder, Johann Oelofse, wat die naam toegeken het (bl. 397).
Moorreesburg
Dorp in die Swartland, 105 km noordoos van Kaapstad en 30 km noord van Malmesbury. Dit is in 1879 aangelê op die plaas Hooikraal, is van 1882 deur ʼn dorpsbestuursraad geadministreer en het in 1909 munisipale status verkry. Dit is genoem na J.C. le Febre Moorrees (1807–1885), predikant van die NG Gemeente Swartland van 1833 tot 1881 (bl. 497).
Moordenaarskaroo
Gedeelte van die Groot-Karoo noord van Laingsburg en langs die Buffelsrivier in die rigting van Sutherland. Na bewering verwys die naam na die “moordende” aard van die streek se klimaat wat buitengewoon droog is en aan uiterste temperature onderworpe is. Die naam het tot baie legendes aanleiding gegee (bl. 497).
Paternoster
Vissersdorpie by Kaap Columbine tussen Saldanhabaai en St. Helenabaai aan die weskus, 16 km noordwes van Vredenburg. Die naam, Latyn vir die “Onse Vader”, is afgelei van die eerste twee woorde van die gebed in Latyn, wat deur Portugese seevaarders opgesê is wanneer hulle gestrand het; die naam Paternoster kom voor as St. Martin’s Paternoster op ou kaarte. ʼn Alternatiewe verklaring is dat die naam Paternoster afgelei is van ʼn spesifieke soort hengelaarsgereedskap (bl. 590-1).
Velddrif
Vissersdorp aan die Bergrivier, ongeveer 35 km noordoos van Saldanha en 55 km wes van Piketberg. Die naam verwys na ʼn drif op pad noordwaarts van Kaapstad deur die Sandveld waar reisigers aangedoen het. Munisipale status is in September 1960 verkry; dit is by Laaiplek as ʼn gekombineerde munisipaliteit ingelyf. Nou deel van die Bergrivier-munisipaliteit (bl. 754).
***
Die uittreksel is goedgunstig deur Protea Boekhuis verskaf.
Plekname van Suider-Afrika is deur prof. Peter E. Raper, dr. Lucie A. Möller en Theodorus du Plessis saamgestel. Dit is deur Cornelia Geldenhuys in Afrikaans vertaal. Klik hier om meer oor die boek te wete te kom.
Sulke mooi name met geskiedenis. Dis so jammer dat plekname verander word deesdae.
Ek sal graag wil weet waar kom die naam Uitenage vandaan