Aktrise wakker só leeslus by kinders aan

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die aktrise en skrywer, Milan Murray, het so pas ʼn nuwe kinderboek vrygestel wat fokus op kinders tussen 6 en 9 jaar. Pieter Kokkewieter en die HART op sy mou is die eerste van ʼn hele reeks.

Milan sê sy en haar vennoot, Charmaine Nolte, het albei kinders by wie hulle graag ʼn liefde vir lees wil kweek. “Ek en sy is van dié ma’s wat nog ons kinders baie biblioteek toe vat, boeke uitruil en vir wie lees baie belangrik is.”

Wat dié boek so spesiaal maak, is dat dit nie sommer net ʼn storieboek is nie maar eintlik deel van  ʼn idioom-reeks. “Ek en Charmaine het om ʼn tafel gesit en begin dink aan idees en of daar ʼn leemte in dié mark is. Idiome is iets wat ek en sy nogal baie gebruik, en ek voel amper dis iets wat besig is om weg te raak – ouers gebruik nie meer noodwendig idiome in hul spreektaal nie, en dis iets wat so mooi kleurryk is van Afrikaans.”

Milan sê hulle het gaan ondersoek instel, en dit wil voorkom of idiome die beste brug tussen konkrete en abstrakte denke is. “ʼn Idioom help jou om onderskeid te tref tussen letterlik en figuurlik en dis so ʼn lekker voertuig vir ʼn kind om te leer.”

Die visuele deel van die boek was ook vir Milan belangrik en daarom het Charmaine vir kunstenaar Marisa du Toit aanbeveel. “Charmaine het gedink Marisa se sketse en my skryfstyl sal goed saam werk. Ek is absoluut mal oor haar styl – daar is ʼn fantasie-element in haar werk en ek’s net dankbaar dat sy ingestem het.”

Met dié boek wil Milan ʼn liefde vir taal en idiome by kinders ontlok en die boodskap wat sy wil oordra, is dat ʼn mens mag sê en wys hoe jy voel.

Besoek gerus die webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.