Al verander die wêreld, bly Deon Meyer-stories tydloos

Deon Meyer. (Foto: Peartree Photography)

“Ek sê dikwels vir my kinders dat kosmaak en storieskryf presies dieselfde is: Jy skep iets wat jy vir mense wil gee om te geniet,” reken meesterstorieverteller en familieman, Deon Meyer, wat terloops ook baie lief daarvoor is om self kos te maak.

Op ʼn reënerige oggend in Gauteng praat Deon met Maroela Media oor sy jongste boek, Leo, en twee televisiereekse, Devil’s Peak en Plan B, wat deur sy boeke geïnspireer is. Sy vrou, Marianne, wat hom op die mediabesoek vergesel, sit by terwyl Deon oor sy karakters, storieverwerkings en suksesse gesels.

Familie die allerbelangrikste

Wat ʼn mens nie in die gesprek met Deon kan mis nie, is die besondere gehegtheid wat hy aan Marianne, hulle kinders en kleinkinders het.

Soos met Donkerdrif het Deon Leo ook aan Marianne opgedra. Op die vraag oor waarom hy besluit het om dit te doen, neem Marianne vrymoedigheid om self te sê wat dit vir haar beteken.

“Ek het nie daarvan geweet nie,” verklap sy. “Wanneer Deon so iets doen, is dit altyd vir my ʼn verrassing, en ʼn groot voorreg. Ek waardeer dit.”

Op sy beurt voeg Deon by dat Marianne ʼn besondere en onmisbare rol in sy lewe en loopbaan speel. “Sonder haar sou ek nie naastenby kon doen wat ek doen nie. Sy versorg my so verskriklik mooi en vir haar het ek verskriklik lief.”

Toe Deon aan Leo gewerk het, het hy ook gereeld op sy kinders se raad en leiding staatgemaak. Hy wou graag die jonger karakters in sy boek se taalgebruik geloofwaardig hou.

“Marette en Bekker Vorster, wat al die jongmense in die boek se taal opgekikker het” (bl. 494).

“Drie van ons kinders val in daardie ouderdomsgroep. Een is nog op universiteit, en twee van hulle het reeds klaar studeer.

“Ek sal baie keer aandagtig luister na hoe hulle praat. Ander kere sal ek sommer net vinnig bel of WhatsApp en vra hoe iemand van hulle ouderdom dit of dat sal sê en watter woorde hulle sal gebruik,” brei hy uit.

Eiesinnige karakters in Leo

In Leo word lesers opnuut weer in die alombekende speurderduo Bennie Griessel en Vaughn Cupido se binnewêreld van raaisels en polisieondersoeke ingetrek. Daar is ʼn paar gebeure wat vereis dat dié tweemanskap te midde van absolute chaos moet kophou.

Om al hierdie storielyne en intriges uiteindelik byeen te bring, verg maande se reis, navorsing, sorgvuldige beplanning en wêreldbou. In hierdie fase van die proses verkies Deon om afgesonderd en onverstoord te werk, omdat hy werklik in die koppe van sy karakters wil klim en as’t ware deel word van die fiktiewe wêreld wat hy skep.

Deon se beplanning word egter soms ontwrig wanneer sy karakter eiewillig is en ʼn ander koers wil inslaan. Hy sê dit is veral Bennie wat hom partykeer kom verras het.

“Jy weet, dit is ʼn interessante proses. Wanneer jy begin om die storie te ontwikkel neem jy nie die persoonlikheid van jou karakters in ag nie, en wanneer die storie en karakters dan bymekaar kom, is dit partykeer nogal ʼn ding.

“Wanneer jy dan vir Bennie loslaat in hierdie wêreld wat jy geskep het, dan is daar seker dinge wat hy nie wil doen nie of sekere dinge wat hy gaan doen wat jy nie voorspel het nie, en dan moet ʼn mens dit akkommodeer.

“Dit maak vir my die skryfproses so interessant, want dit bring dikwels storiewendings wat jy nie voorsien het nie, en dan moet ʼn mens oorweeg of dit die boek beter maak of nie.”

Op die ou end, voeg Deon by, het skrywers tog steeds volle beheer oor die storie en die karakters. “Alles wat gebeur moet uiteindelik die storie dien, of jy nou saam met jou karakter beweeg of nie. Die storie is die hart en die siel van die boek.”

Prettige Plan B op pad

Bykans 30 jaar sedert Wie met vuur speel, die eerste spanningsroman uit Deon se pen, verskyn het, maak hy met elke boek steeds sy skryfpotlood skerp. Hy sê groei is ʼn onvermydelike aspek van enige skrywer se werk.

“Skryf is soos enigiets wat oefening verg. Hoe langer en hoe meer jy dit doen, hoe meer lesse en tegnieke leer jy en hopelik raak jy ook mettertyd vaardiger. Ek het oor drie dekades verskriklik baie geleer. Trouens, as jy nié oor so lang tydperk iets leer nie, is jy onnosel,” skerts Deon.

‘n Skermgreep uit ‘Plan B’. (Foto: Verskaf deur kykNET)

Wie met vuur speel het in 1994 by NB-Uitgewers verskyn en kykNET het pas aangekondig dat Plan B, ʼn splinternuwe reeks wat deur dié storie geïnspireer is, reeds verfilm is en na verwagting in 2024 uitgesaai gaan word.

Hoewel Deon van die weergawes van Tertius Kapp se draaiboeke vir Plan B gesien het, was hy nie so betrokke by die teks en produksieproses nie, omdat hy in daardie stadium druk besig was om aan Leo te werk. Hy is egter opgewonde oor die reeks en meen dat kykers dit ook gaan geniet.

“Dit gaan ʼn verskriklike prettige reeks wees. Die draaiboek is heerlike vermaak en die rolverdeling is na my mening briljant.”

Hilton Pelser is Bennie Griessel in ‘Devil’s Peak’. (Foto: Verskaf)

Bennie Griessel se TV-debuut

“Ek hou verskriklik baie van Hilton Pelser as Bennie Griessel in Devil’s Peak. Hy vang die psige en gees van Bennie baie goed vas.

“Ek ontvang e-posse van mense wat sê dat dit nie die Bennie is wat hulle in gedagte gehad het nie, maar die probleem is ons almal sien ʼn ander Bennie. Almal se verbeelding is anders,” vertel Deon.

Bennie was aanvanklik ʼn agtergrondspeler in van Deon se eerste boeke, maar in 2004 het hy met die verskyning van Infanta sy plek in die kollig ingeneem. Intussen het hy een van gewildste karakters in die Afrikaanse letterkunde geword.

Infanta se Engelse vertaling het in 2007 met die titel, Devil’s Peak, verskyn, en ʼn gelyknamige TV-reeks word tans op M-Net uitgesaai.

“Die storie is meer as 15 jaar gelede geskryf en jy kan dit uiteraard nie net so gebruik nie, want die hele wêreld het verander. Dit wat relevant was in terme van Infanta/Devil’s Peak, is nie vandag meer relevant nie. Om die storie dus net so oor te vertel, sou nie sinvol gewees het nie.”

Deon sê dit is verder vir hom interessant dat die Britse draaiboekskrywer en vervaardigers van Devil’s Peak besluit het om Bennie se karakter veel jonger te maak. Tog, is dit ʼn praktiese oorweging wat sinvol is.

“Die vervaardigers hoop dat hierdie die eerste seisoen van ʼn klomp Bennie-boeke is wat verfilm gaan word. So hulle wil seker maak dat hulle met ʼn akteur begin werk wat op ʼn ouderdom is sodat hy oor 10 jaar nog nie te oud is om Bennie te speel nie.

“Ek is baie trots op die produksie met Jozua Malherbe as regisseur, en boonop is almal wat by die reeks betrokke is Suid-Afrikaans. Die spel en regie is briljant en ons het hier ʼn produk van internasionale standaard.”

Devil’s Peak se slotepisode word op 26 November om 20:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, uitsaai.

‘n Skermgreep uit ‘n episode van ‘Devil’s Peak’. (Foto verskaf deur M-Net)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daniel ·

Sou dit graag wou lees maar was geskok oor die ydelike gebruik van die Here se naam in een van sy vorige boeke wat ek gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.