Alfabet van die voëls

SJ Naudé

Die verhale in hierdie merkwaardige bundel is die werk van ʼn teruggekeerde ontheemde, en Naudé skryf sy weg oop deur melankolie en ontheemding, maar sonder swaarmoedigheid – trouens, met ʼn donker, glinsterende humor wat nie van die erns te skei is nie.

In een verhaal help ʼn vreemde, vrolike Sjinees ʼn jong man om sy sterwende ma te versorg; in ʼn ander veg ʼn vrou verwoed teen die korrupte burokrasie terwyl sy siek mense op die platteland met haar mobiele kliniek probeer bereik. In ʼn vervalle kasteel in Duitsland vervloei die bloed van twee minnaars, en in Londen gaan ʼn jong Suid-Afrikaner deur lae van dekadensie soos ʼn siel deur die purgatorium.

Die bakensverskuiwende Alfabet van die voëls is vol musiek, kuns, argitektuur, mites, aftakeling, dood en lewe, stede die soeke na oorspronge, en die roerende verhoudings tussen mense. In die verhale kyk die verteller met ʼn ongekondisioneerde blik na Suid-Afrika en Suid-Afrikaners tuis en in die buiteland.

André P. Brink beskryf die verhale in hierdie bundel as “onder die bestes in Afrikaans” en vervolg: “Vir enige leser wat wil bybly wat op die voorpunt van die Afrikaanse literatuur gebeur, is hierdie bundel werklik onmisbaar.”

Oor die outeur:
SJ Naudé is in 1970 gebore. Hy studeer voorgraads in Pretoria en nagraads aan Cambridge en Columbia Universiteit. Ná jare as regspraktisyn in New York en Londen keer hy terug na Suid-Afrika vir ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfkunde onder die leiding van Marlene van Niekerk aan die Universiteit van Stellenbosch. Alfabet van die voëls is sy debuut.

Vir ‘n uittreksel uit die boek, klik hier.

Uitgewer: Random House Struik
Prys: R170-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.