Andrew Murray-pryse toegeken

Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys. Foto: www.andrewmurrayprys.co.za

Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys. Foto: www.andrewmurrayprys.co.za

Die Andrew Murray-prysfonds wat uitnemendheid in die Christelike media bevorder deur die bekroning van werke van hoogstaande gehalte in Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika, het pas die wenners van vanjaar se pryse vir Christelike en teologiese boeke bekendgemaak.

Die hoofpryse is die Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese publikasies in Afrikaans en die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike en teologiese publikasies in enige amptelike taal van Suid-Afrika.

Die prysfonds bied ook pryse aan vir teologiese artikels, Christelike joernalistiek, Christelike radioprogramme en Christelike beeld-en-klank-produksies. Spesiale toekennings word ook van tyd tot tyd gemaak.

Andrew Murray-Desmond Tutu-prys
Die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys is die boek Living with Dignity – African Perspectives on Gender Equality met Elna Mouton en Len Hansen van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), Getrude Kapuma van Malawi en Thomas Togom van Kenia as redakteurs. Die boek is uitgegee deur Sun Press.

Die bydrae van meer as 20 teoloë van dwarsoor Afrika is ingesluit in dié boek wat belangrike kwessies van geslagsgelykheid en menswaardigheid in Afrika vanuit verskillende perspektiewe ondersoek.

Dr. Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds, het gesê die publikasie sal ʼn groot bydrae lewer om Afrika-denke oor hierdie sake te help vorm. “Dit sal ook help om met die werkwyse van saam dink en saam skryf die weg te baan vir toekomstige teologiese en akademiese samewerking in Afrika.”

Die teoloë Dion Forster, Nadia Marais en Rian Venter het as beoordelaars opgetree. Die prys, wat op 19 Mei oorhandig word, bestaan uit R20 000 en oorkondes.

Die Andrew Murray-prys
Die Andrew Murray-prys vir die beste Afrikaanse Christelike boek is toegeken aan Barend Vos vir sy boek Die ewigheid in my hart, uitgegee deur Lux Verbi. Vos, ʼn alumnus van die Fakulteit Teologie aan die US en onder meer die skrywer van geslaagde Bybelromans, het in kerklike kringe as satiriese rubriekskrywer bekendheid verwerf. Die ewigheid in my hart bestaan uit meditatiewe, eietydse omskrywings van die Psalms.

Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys
Dié prys vir debuutwerk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika is vernoem na die Nobelpryswenner Desmond Tutu, en die vroeggestorwe Stellenbosse teoloog en boekeredakteur, Gerrit Brand. Die wenner vanjaar is Jong teoloë praat saam … uitgegee deur Bybel-Media met Annette Potgieter as inisieerder en redakteur. Vyftien studente van teologiese fakulteite van verskeie universiteite in Suid-Afrika skryf in dié boek oor hedendaagse geloofs- en lewensvrae wat vir hulle belangrik is.

Die Andrew Murray-FAK-toekenning
Dié toekenning word vanjaar vir die eerste keer gemaak en wel aan Chris Lambrechts vir sy buitengewone bydrae tot Christelike musiek.

Spesiale Andrew Murray-toekenning
Die spesiale toekenning word gemaak aan die kerkhistorikus en Africana-versamelaar Gerdrie van der Merwe. Hy kan met reg die kroniekskrywer van NG gemeentes genoem word, met meer as 50 boeke waarin hy die geskiedenis van gemeentes en predikante noukeurig opgeteken het. Van der Merwe het ook ʼn versameling van kerkhistoriese en teologiese boeke en ander Africana opgebou wat enig in sy soort is, waarskynlik die grootste van dié aard in private besit.

Besoek die Andrew Murray-Prysfonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie ·

Ek weet Andrew Murray het ‘n groot aantal geestelike werke na gelaat. Wonder hoeveel het Tutu geskryf.

DMC de Koker ·

Andrew Murray staan in direkte kontras met Tutu. Tutu is beslis ‘n dwaalleraar. Ek twyfel sterk dat Murray vir Tutu sou onderskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.