Anel Heydenrych gesels oor karakters wat bly spook

Anel Heydenrych is ʼn voormalige joernalis en aanbieder van RSG. Haar jongste roman Die afloerder is onlangs deur Penguin Random House uitgegee.

Heydenrych het in ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media gesels oor karakters wat haar op hol gejaag het, uitdagings tydens die skryfproses en stories wat haar inspireer.

Die afloerder is ʼn sielkundige riller wat in Colesberg in die Noord-Kaap afspeel. Heydenrych, wat in dié einste Karoodorp woon, vertel dat haar lewe ʼn goeie vertrekpunt was vir die verhaal.

“ʼn Joernalis wat van die stad af platteland toe trek, was ʼn goeie begin,” vertel Heydenrych. “Dit is boonop ʼn vreemde ding dat ons ʼn reeksmoordenaar in Colesberg kan kry.”

Heydenrych erken dat die Afloerder dikwels by haar gespook het en dan moes sy eers asemskep.

“Om eerlik te wees, ek was party aande ʼn bietjie bang,” sê sy. “Veral wanneer ek besig was om oor die Afloerder te skryf en my hond, Anna, begin blaf.”

Sy meen om in ʼn reeksmoordenaar se kop te klim, is nie ʼn maklike taak nie. Dit is juis dié karakters wat met ʼn mens se kop mors, vertel Heydenrych.

“Ek moet voel wat my karakters voel, anders sal die storie nie geloofwaardig wees nie. Net soos die karakters in my vorige riller, Malhuis, is ek diep geraak deur elke emosie en toneel wat plaasvind.”

Heydenrych is reeds besig met navorsing vir haar volgende boek, maar weens die inperkingsmaatreëls kan sy dit net gedeeltelik afhandel.

“Ek moet in die tronk uitkom,” verklap sy. “Maar dit is nie nou moontlik nie. Daarom skryf ek solank die een deel van die verhaal.”

Oor die boek

Anje Bruwer is ʼn verslaggewer wat die gevaarlike strate van Johannesburg verruil vir ʼn rustiger lewe in Colesberg om ʼn misdaadroman te skryf.

Maar die platteland is allermins rustig. Daar is ʼn menseslagter los wie se gruweldade Anje se kop laat duisel. Sy loop haar in sy web vas wanneer sy vir die plaaslike koerant oor sy moorde begin verslag lewer. Kaptein Siegfried Scholtz, ʼn man wie se skuldgevoelens hom ry, kan nie anders nie as om Anje by die ondersoek te betrek.

Gaan hulle daarin slaag om te keer dat die moordenaar nog ʼn lewe wreed in ʼn bloederige swartsak verpak?

Die afloerder is ʼn sielkundige riller wat so koud en donker is as kan kom.

  • Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Anel Heydenrych, skrywer van Die afloerder, gesels oor karakters wat haar op hol gejaag het, uitdagings tydens die skryfproses en stories wat haar inspireer. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.