Anna Emm: ‘Lesers het ʼn laer om my getrek’

Die storieverteller en skrywer Anna Emm (Foto: Verskaf)

Die storieverteller en skrywer Anna Emm was gereed om heeltemal handdoek in te gooi ná haar selfuitgewery van vyftien jaar ʼn paar maande gelede bankrot verklaar is.

“Nie almal weet dit nie, maar net voor die afsondering is Anna Emm Uitgewers gelikwideer. Die onderneming wat my hele lewe was, het ná drie moeilike jare se terugbaklei, sy laaste asem uitgeblaas en onder my hande gesterf,” het sy in ʼn hartroerende inskrywing op Facebook gesê.

Anna Emm het die onderneming in 2005 gestig as ʼn “verskoning” om te kan skryf. Dit het ʼn teelaarde geword waar haar stories kon groei en gedy. Mettertyd het die opgewondenheid egter vervaag weens uitdagings soos hoë produksie- en afleweringsuitgawes wat die uitgewery se vooruitgang gekniehalter het.

In die proses is haar salaris en vakansies op die agtergrond geskuif, vertel die skrywer. Sy het een na die ander produk geskep en tot aan die einde met hart en siel geveg om die uitgewery te red.

“Toe dit alles verby was, was ek leeg. Ek was só moeg en só seer dat ek niks meer wou doen nie. Ek wou soggens nie eens meer opstaan nie,” bieg Anna Emm.

Die Covid-19-pandemie kan in vele opsigte bestempel word as ʼn donker tyd wat mense van hul inkomste en tyd met naasbestaandes beroof het. Maar vir Anna Emm was dit ook ʼn routyd waarin sy opnuut stil geword en God se stem gehoor het.

“Ek het snags weer na die stadsliggies sit en kyk, koffie in die tuin gedrink waar die son skyn, gekyk hoe Robbeneiland en die berg en die see in die verte blink,” onthou sy. “Stadig maar seker het ek begin besef: Ek is nie die somtotaal van my mislukkings nie. Ek is nie gestrip tot net budgets en deadlines en legal dokumente nie.”

Vir Anna Emm was die afsonderingstyd ook ʼn routyd waarin sy opnuut stil geword en God se stem gehoor het (Foto: Verskaf)

In dié tyd het sy dikwels vir God gevra hoe die pad vorentoe lyk en wat haar nou te doen staan. Hy het nie ʼn lig op die antwoord geskyn nie, maar haar vrae met ʼn vraag beantwoord. Wie was Anna Emm?

“Om vorentoe te kan beweeg moes ek terugkeer na my wortels toe: Wie was Anna Emm voor sy die kinderstorie-tannie en sakevrou geword het?”

Die antwoord was so duidelik soos daglig. Sy is en was nog altyd ʼn skrywer.

Anna Emm onthou dat sy haar eerste boek geskryf het toe sy slegs vier jaar oud was. Sy het stories aan haar kleuterskoolonderwyseres gedikteer en aangedring dat die juffrou dit woord vir woord vir haar teruglees.

Op dertien het sy ʼn reeks stories vir kinders in haar klas geskryf. Dit was so gewild dat die skool ʼn stelsel ontwikkel het om die sirkulasie daarvan te beheer.

“Daar was 22 episodes wat elk in ʼn A5-notaboekie geskryf is. Ons moes ʼn stelsel ontwikkel om tred te hou met wie watter boek het, en wie die nuwe boek eerste lees,” vertel Anna Emm.

“Dit is juis hierdie kleintyd herinneringe wat so duidelik na vore getree het tydens my ‘routyd’. Ek het dit onthou as ‘n tyd toe skryf lekker was – vir my en vir die kinders wat destyds my stories gelees het. Dis wie ek weer wou wees, en wat ek weer wou doen.”

Anna Emm het haar pen nader getrek en voor sy Bitterbessie Blues kon sê is haar e-boek voltooi. Sy het dit gratis tydens die inperkingstydperk beskikbaar gestel en binne enkele dae is dit byna 2 000 keer afgelaai. Lesers kan steeds die eerste novelle gratis aflaai by www.free.annaemm.com.

Sedertdien het nog verhale in die reeks gevolg, asook ʼn beperkte oplaag wat as versamelaarsitem uitgegee is. Die skrywer het lesers versoek om hul bestellings te plaas en te betaal, alvorens die boeke gedruk word.

Anna Emm beskou die sukses van haar e-boekreeks as ʼn seëning, eerder as die antwoord op haar gebede (Foto: Verskaf)

“Ek wou nie weer sukkel om R10 000 vir drukkoste te betaal, en dit dan nie kan verhaal nie,” verduidelik sy. Anna Emm het somme gemaak en vasgestel dat dertig stelle se betalings haar uitgawes sou dek.

“Dit sou dus ’n ‘veilige’ commitment wees. Ek het gevra dat mense wat belangstel my moet kontak, en het amper dadelik die eerste betalings ontvang. Die reëling was dat ons 100 sou druk as ʼn versamelaarsitem om die reeks se sukses te vier. In my wildste drome het ek egter nie gedink dit sou alles verkoop nie.”

Anna Emm beskou die sukses van haar e-boekreeks as ʼn seëning, eerder as die antwoord op haar gebede.

“Ons gawes het ’n tyd en ’n doel op hierdie aarde. Die sukses van Bitterbessie Blues was vir my ’n bevestiging van die natuurlike seën wat op gehoorsaamheid rus, en van die effortless effort wanneer dit kom by daai dinge wat jou lyf en jou kop gemaak is om te doen.”

Sy het wel haar selfuitgewery vaarwel toegeroep, maar danksy die ondersteuning van lesers kan Anna Emm weer asem haal.

“Duisende downloads elke maand word my eerste salarisse in drie jaar. My lesers het ʼn laer om my getrek. Julle het my help onthou wie ek is, my herinner wat stories kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Griffel as gawe is ‘n voorreg. Dit is werklik vir my bemoedigend dat daar mense soos Anna is, wat gehoorsaam aan haar gawe is en ander lettersmokkelaars motiveer om hulle Godgewe gawes te laat blom. Op hierdie wyse word vele lesers se lewens ingekleur met hoop.
Mag die vrug op haar gehoorsaamheid, groot wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.