Annerle Barnard skryf sodat kinders kan lees

Annerle Barnard, jeugfiksieskrywer (Foto: Annerle Barnard/Facebook)

“As ʼn mens die jeug aan die lees kan kry is daar soveel meer van ʼn toekoms vir hulle. Maar daarvoor moet jy hulle eers aan die lees kry,” sê Annerle Barnard, skrywer van Sindikaat, die roman wat onlangs met ʼn silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon is.

Hoewel Barnard, ʼn Bloemfonteiner en ma van drie, daagliks deur haar eie kinders geïnspireer word, moes sy hulle eers lief maak vir lees.

“My kinders wou aanvanklik nie lees nie. Ek het toe geweldig baie jeugliteratuur op my eie deurgewerk sodat ek vir hulle kon vertel van die ongelooflike nuwerwetse en moderne boeke wat bestaan,” vertel Barnard.

“Jeugfiksie het op dié manier toevallig my pad gekruis. My plan was eintlik om misdaadfiksie te skryf,” erken sy. Na aanleiding van ʼn vriendin se aanbeveling het sy haar hand aan die skryf van kortverhale gewaag, maar spoedig agtergekom dat dit nie haar sterk punt is nie. Toe ʼn koerantberig een dag haar verbeelding prikkel, het sy geweet dís iets wat in ʼn storie omskep moes word.

Sweepslag, Barnard se debuutroman wat in April verskyn het, het hieruit ontstaan. Dis ʼn spanningsverhaal met temas soos mensehandel, dwelmhandel en moord. Sindikaat, haar tweede jeugroman wat pas gepubliseer is, is ʼn avontuurverhaal, en verken kwessies soos smokkelary.

“Dis ook ʼn aksiebelaaide jeugroman wat kinders sal boei,” vertel Barnard. “Dit sal hopelik kinders wat nie graag lees nie genoeg fassineer om die storie enduit te volg.” Barnard vertel dat sy ʼn magdom navorsing gedoen het om te verseker dat sy die onderwerpe verstaan én dat haar storie inmekaar pas.

“Ek luister gereeld na my kinders en hul maats en hoe hulle met mekaar praat. Dit gaan nie noodwendig oor wát hulle sê nie, maar hóé hulle dit sê,” vertel Barnard. “Jong mense is geneig om ʼn meer formele taal te praat wanneer hulle met volwassenes kommunikeer.” Barnard vertel dat sy dikwels ook langs die sportveld staan en “navorsing doen” deur doelbewus te luister en waar te neem.

“Ek luister hoe die jeug met mekaar kommunikeer. Maar ek let veral op na wat hulle interesseer, maniërismes, kleredrag en haarstyle wat in die mode is,” vertel sy. Op hierdie manier help dit haar om geloofwaardige karakters te skep wat eie aan ʼn bepaalde ouderdomsgroep is en waarmee tieners kan vereenselwig.

Oor die verhaal

Die 16-jarige Paul is gewikkel in ʼn gevaarlike hofsaak. Dan ontdek hy per abuis ʼn smokkelary en dinge word baie gevaarlik vir hom en sy vriende, Adriaan en Karlien. ʼn Vlugtog deur Botswana en Zimbabwe volg – met die hulp van die voormalige recce genaamd Bossie. Die vakansie, wat eintlik ʼn avontuur moet wees, ontaard in ʼn nagmerrie.

Oor die outeur

Annerle Barnard het gematrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad en ’n honneursgraad in Engels aan die Noordwes-Universiteit behaal, asook ʼn diploma in Hoër Onderwys. Aanvanklik het sy skoolgehou, maar haar later in die korporatiewe sektor begewe. Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe, stiefdogter. Sy woon in Bloemfontein.

Uitgewer: NB-Uitgewers
Prys: R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.