Armand Aucamp, ma lees vir kinders

Armand Aucamp en sy ma, Petra (Foto: Verskaf)

Armand Aucamp van Die Boekklub-faam en skrywer van die kookboek Armand kook kaal is opgewonde oor sy nuwe konsert “Kaggels, kerse en kinderstories” wat binnekort te sien is.

“Mense moet nie ʼn musiekkonsert verwag nie,” waarsku Aucamp. Die konsert bied voorlesings en illustrasies uit My storiekis wat deur NB-Uitgewers uitgegee is, en daarop gemik is om oud en jonk op ʼn wonderlike reis te neem.

“Die konsert sal ouer kykers met heimwee laat terugdink aan die stories waarmee hulle grootgeword het,” vertel hy. “Maar dit is veral die jongspan wat dit sal geniet.”

Aucamp het ʼn spesiale gas wat saam met hom voor die kaggelvuur en in die kerslig kuier.

“Ek het my ma gevra om dit saam met my te doen. Sy het ʼn besonderse stem,” vertel Aucamp. “Ek sou haar nie gevra het as ek nie gedink het sy het iets spesiaals om met mense te deel nie.”

Die idee het ontstaan terwyl Aucamp besig was om ʼn oudioboek op te neem. Hy het sy ma aangemoedig om ʼn gedeelte voor te lees wat by ʼn netwerk vir stemkunstenaars gevoeg kon word.

“Sy het besluit om stukkies uit Huppelkind voor te lees,” vertel hy. “Die verhaal maak my so nostalgies. Ek was as kind versot op daardie boek.”

Toe Aucamp na haar voorlesing luister, het hy hoendervleis gekry, sê hy.

“Ek het net daar en dan begin dink aan maniere hoe ek my ma se stem met die wêreld kan deel,” sê hy.

Sy ma, Petra, het ook drama studeer en is deels verantwoordelik vir Armand se liefde vir stories.

“My ouers is albei akademici,” vertel hy. “Ek was van kleins af omring met boeke. Ons huis was (en is steeds) ʼn biblioteek.”

Aucamp onthou dat sy ma vir hom as kind uit Goue lint, die storie begint gelees het. Sy het nog ʼn kopie in haar boekrak, maar dit sou tegnies ʼn groot uitdaging wees om ʼn projek met dié boek aan te pak omdat die boek uit druk uit is en Aucamp van argiefmateriaal gebruik moes maak.

NB-Uitgewers het toe voorgestel om My storiekis te gebruik en Aucamp het ingestem.

Sy ma is nie gewoond daaraan om voor die kamera te verskyn nie, maar het van die begin af ingestem om die projek saam met haar seun aan te pak.

“Sy is deel van poësiekring in Stellenbosch en lees dikwels voor, maar in terme van opnames sonder ʼn gehoor is dit nogal ʼn nuwe uitdaging vir haar.”

Weens die inperkingsmaatreëls moes Aucamp planne beraam om dié projek te laat slaag. Hoewel hy en sy ma nie bymekaar kon wees nie, was dit moontlik om ʼn eindproduk te skep waarop hy geweldig trots is.

“Die hele projek was vir my iets nuuts,” sê hy. “Ek is ʼn akteur, maar ek lees nie noodwendig voor nie. Ek het dit baie geniet.”

Aucamp meen dit is juis die uitdagings wat met die inperking gepaardgaan wat vir hom lekker was.

“Ek het nie toegang tot kameras en beligting nie, maar ek het dit maak werk. En na 12 jaar moes ek van voor leer om materiaal te redigeer.”

Hierdie ma-en-seun-geselligheid is die perfekte wintersaandkonsert om die gesin bymekaar te bring. Die konsert is van 23 Junie om 17:00 beskikbaar. Kaartjies kos R69.99 en is by Computicket beskikbaar. Kykers het vir tien dae toegang tot die konsert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae