AWS: 100 jaar gevier met googleloer, hommeltuig en poenankies

Argieffoto (Foto: pexels, Pixabay)

Die elfde uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word op 3 Augustus 2017 bekendgestel – 100 jaar nadat Afrikaans vir die eerste keer amptelik met dié standaardnaslaanbron vir spelling en skryfwyse bereël is.

Die 2017-uitgawe, saamgestel deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en uitgegee deur NB-Uitgewers onder die Pharos-druknaam, is omvattend herbewerk en sluit talle nuwe woorde in wat die tydsgees en breër Afrikaanse taalgemeenskap weerspieël. Reëls is ook verander en vereenvoudig om Afrikaanse spelling en skryfwyse meer sistematies en dus makliker vir gebruikers te maak.

“Afrikaans is ’n dinamiese taal wat deurlopend ontwikkel en die jongste AWS is ’n opwindende, lewende bewys hiervan,” sê prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie.

Onder die nuwe toevoegings tot die 2017-AWS tel woorde wat te make het met tegnologiese ontwikkelinge, soos googleloer, hommeltuig, meem, warsender, antispioenware, selfie en skermgreep; woorde wat ontwikkelinge in die samelewing sedert die verskyning van die vorige AWS agt jaar gelede weerspieël, soos bewarea, BRICS-land of Bricsland, bystanddood en hidrobreking; en leenwoorde of nuutskeppings waarvoor daar nie Afrikaanse woorde is nie, soos brownie, Chanoeka, muffin, nurk (die geluid wat seekoeie maak), venue en flop. Heelwat nuwe woorde uit Afrikaans se gebruiksvariëteite soos Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans is ook opgeneem, byvoorbeeld antie, dhaltjie, gangster en poenankies (oulik).

Wat spelling en skryfwyse betref, is reëls wat verander onder meer dat afstandsamestellings voortaan slegs mét ’n koppelteken geskryf word (hoof- uitvoerende beampte, reuse- politieke vergadering), en dat die integriteit van multiwoordeiename in samestellings en afleidings behou word (Derde Wêreldse in plaas van Derdewêreldse; Konstitusionele Hof-regter of Konstitusionele Hofregter in plaas van Konstitusionelehofregter).

Nuwighede sluit in ’n hoofstuk oor leestekengebruik in Afrikaans, die bereëling van trappe van vergelyking, ’n lys Oosterse plekname, landname met geldeenhede en ISO-kodes, en die Afrikaanse name van elemente in die periodieke tabel. Skryfhulp word ook nou vir die

SI-stelsel verskaf.

Volledig digitaal

Die nuwe AWS is volledig omgeskakel in digitale formaat, met behulp van Pharos Woordeboeke, Tswane DJe en die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit.

“Die eerste AWS se loopwêreld was ene van pen en papier – ’n dun boekie wat wou wys dat Afrikaans nie net gepraat word nie, maar ook geskryf kan word. Honderd jaar later is die AWS ’n kenteken van Afrikaans se lewenskragtigheid in ’n digitale wêreld – ’n dikke boek wat ook aanlyn beskikbaar is vir ’n ieder en elk wat Afrikaans wil skryf,” sê prof. Van Huyssteen.

Van 1917 tot 2017

Dit is eintlik verstommend hoe stabiel die Afrikaanse spelling- en skryfsisteem oor honderd jaar gebly het, sê prof. Van Huyssteen. Die belangrikste twee verskille tussen die 1917- en 2017-AWS is dat die y in 1917 nog dikwels as ij geskryf is (byvoorbeeld afwijs in plaas van afwys; agterrijer in plaas van agterryer), en dat die slot-w intussen weggeval het (byvoorbeeld afskuw in plaas van afsku; blouw in plaas van blou).

Natuurlik het die AWS ook aansienlik uitgebrei. Die 1917-AWS, wat deur onder meer Jan FE Celliers, Totius en CJ Langenhoven saamgestel is, het 196 bladsy beslaan, teenoor die 800 bladsye van die 2017-AWS.

Dubbele viering
Met die uitgee van die elfde AWS sit NB-Uitgewers ’n tradisie voort wat terugstrek na die druk van die eerste AWS in Bloemfontein deur Naspers in 1917.

“Dit is vir NB-Uitgewers ’n enorme plesier en eer om die nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls onder die Pharos-druknaam uit te gee in die jaar wat dié gesaghebbende taalbron sy eeufees vier. Dit val ook per gelukkige toeval saam met die eeufeesviering van boekuitgewery binne die groter Naspers-stal,” sê Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers en Media24 Boeke.

Liefdestaak
Die nege lede van die huidige Taalkommissie, akademici sowel as taalpraktisyns, het sedert 2009 meer as 700 uur slegs aan gesamentlike vergaderings bestee om die AWS op te dateer – sonder enige vergoeding.

“Hierdie uitgawe van die AWS is ’n eerbetoon aan die tientalle taalkenners wat oor ’n tydperk van ’n eeu as lede van opvolgende Taalkommissies ’n vaste plek aan Afrikaans gegee het,” sê dr. Dioné Prinsloo, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. “Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is dank verskuldig aan almal wat hul tyd en kennis tot voordeel van Afrikaans aangewend het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gideon Roos ·

Dit is wonderlik om weer ‘n AWS uitgawe te sien. Het net vanoggend op die internet die geskiedenis van die HAT en die WAT geleës. Saam is die drie werkstukke die steunpilare van die Afrikaanse taal. Mag aldrie nog ‘n eeu van sukses en vooruitgang ervaar.

JC ·

Ek stem saam Gideon, Afrikaans Is Groot. Ek besit nie die AWS nie(WIL GRAAG), maar het wel die HAT(Vyde Uitgawe) waarop ek bitter trots is.
Afrikaans leef!(via Akademia, AROS, Soltech en die AP Akademie en Pukke)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.