Baanbreker-jeugboek vereer

uitDie bekroonde skrywer Fanie Viljoen se jeugroman Uit is deur die Suid-Afrikaanse been van IBBY (International Board on Books for Young People) as ereboek in die kategorie vir Afrikaanse jeugliteratuur aangewys.

Dit beteken Viljoen se boek sal deel vorm van die internasionale erelyskatalogus wat tweejaarliks deur hierdie gesaghebbende kinderboekliggaam saamgestel word, en benewens skrywers ook vertalers en illustreerders vereer.

Uit is ’n grensverskuiwende jeugboek wat handel oor Brent, ’n Afrikaanse tienerseun wat onseker is oor sy seksuele oriëntasie.

Viljoen sê hy het Uit geskryf om tieners wat met hul seksualiteit worstel ’n stem te gee, om hulle te wys hulle is nie alleen nie. “In ’n sekere opsig is daar deesdae ’n groter aanvaarding vir gay mense, maar daar is steeds mense wat geweldig teen die leefwyse te velde trek. Talle jongmense het daarom ’n ontsaglike vrees om uit te kom en hul ware self te wees. Hulle is bang vir verwerping, bang hulle ouers gooi hulle uit die huis, dat hulle al hul vriende gaan verloor, dat hulle gespot sal word. Sommiges kan nie eens hulself aanvaar nie. Voeg daarby godsdiens, tienerdrifte, verwagtinge van die samelewing, en dit word ’n emosionele nagmerrie vir gay tieners.”

Van die belangrikste oorwegings wanneer die IBBY-erelys saamgestel word, is dat die boeke op die lys die beste van elke land se kinderliteratuur moet verteenwoordig, en dat dit geskik moet wees vir publikasie regoor die wêreld. Die boeke op die lys vorm deel van rondreisende uitstallings wat by verskeie internasionale konferensies en literêre feeste te sien word, en sal ook deel vorm van die permanente uitstallings van byvoorbeeld die Internasionale Jeugbiblioteek in München, Duitsland.

Viljoen sê die IBBY-benoeming is vir hom ’n groot eer. “Ek is trots daarop dat Uit ons land kan verteenwoordig by kinderboekfeeste regoor die wêreld. Dit alleen wys Suid-Afrika het al ’n lang pad gestap om die skaamte van gay wees af te skud. Ek wil dan ook my uitgewer, LAPA, bedank dat hulle die boek gepubliseer het. Dit verg ’n uitgewer met moed om so ’n risiko te neem.”

Miemie du Plessis, bestuurder: kinder- en jeugboeke, van LAPA Uitgewers, sê die terugvoering wat hulle tot dusver van lesers oor Uit gekry het, was aangrypend. “Die korrespondensie wat ons van lesers ontvang, wys duidelik dat hierdie boek regtig jongmense se lewens aanraak. Ons is daarom besonder trots op hierdie benoeming.”

Die boek is hier beskikbaar.
Uitgewer: Lapa
Prys: R129-99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.