‘Begrond’: Dirk Hermann se jongste boek is ’n storie van hoop

Begrond-02

Esmarie Prinsloo van AfriForum het met dr. Dirk Hermann gesels oor sy boek ‘Begrond’. Foto: Esté Meyer Jansen.

As ʼn mens wil weet wat lê aan die ander kant van die hartseerverhale van beide die boeke en fliek Treurgrond, moet jy dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, se jongste boek Begrond lees.

Die boek, Dirk se eerste historiese fiksie, is Donderdagoggend by die Atterbury-teater in Pretoria bekendgestel. Marianne Breytenbach, ʼn omroeper van Pretoria FM, en Mario Vosloo, ʼn stemkunstenaar, het gedeeltes uit die boek voorgelees en musiek is deur die groep Moses Metro Man verskaf. Esmarie Prinsloo van AfriForum het die boekbespreking gelei.

Begrond begin waar ʼn familie ná ʼn plaasaanval van hul oupa afskeid neem. Dit dwing die kleinseun, Kleinfaan Venter, om terug te keer na die plaas. Op die plaas moet die karakter sy woede oor die moord, misdaad, korrupsie en verval van die land verwerk. Hy is wanhopig oor sy toekoms in Suid-Afrika, maar antwoorde op sy vrae kom uit ʼn onverwagte oord – die verlede en die verhaal van sy grootouma Katryn.

Die verhaal van hoop wat oor sewe geslagte strek – van die Afrikaner se val en opstaan – speel af tussen die tente van die Heilbron-konsentrasiekamp, in die plaashuis op die Vrystaatse vlaktes, in die krygsgevangenekamp in Ceylon en rondom die ou stinkhouttafel op die plaas Staan Op!

Op ʼn vraag oor hoekom die boek juis wegspring met ʼn plaasmoord het Dirk gesê dat plaasmoorde en plaasaanvalle ʼn simbool is van die geweld wat tans hoogty in Suid-Afrika vier. “Ek dink dit is belangrik om erkenning te gee aan ons probleme, die lesers gaan saam met die karakters deur ʼn katarsis aan die begin, maar as jy dit eers verstaan, is die ontknoping soveel meer van ʼn werklikheid.”

“Boeke en flieks soos Treurgrond is belangrik omdat dit die geweld van die gruweldaad wat ʼn plaasmoord is, vasvat, maar ek het telkens gevoel iets is weggelaat met hierdie boeke en fliek. Dit was die vraag: Wat lê aan die ander kant van hierdie verhale? Met Begrond probeer ek juis wys dat daar hoop is,” het Dirk gesê.

Dirk se eie lewensverhaal is self diep in Afrika begrond: “My eerste voorvader het reeds in 1657 in Suid-Afrika aangeland, my taal is hier in Afrika ontwikkel en na die vasteland vernoem en selfs die groep mense waaraan ek behoort, Afrikaners, is ook na hierdie kontinent vernoem.”

Volgens hom is elke Afrikaner in Afrika geplant en in Christus begrond. “As jy dit eers besef, is daar hoop en dan kan jy tot aksie oorgaan.”

Dirk hoop sy boek sal mense weer die krag van storie laat besef. Hy glo ook dat die verhaal van Begrond mense sal laat sien dat hulle net hul verantwoordelikhede moet nakom.

“Ek hoop mense sal in antwoord op die boek by hul gemeenskappe betrokke raak deur byvoorbeeld patrollie te gaan ry saam met die buurtwag. Doen dit wat jy moet doen om in ʼn vry, veilige en voorspoedige gemeenskap te leef.”

Daar is ook gepoog om Begrond nie net ʼn tema te maak nie, maar ʼn totale belewenis deur verskillende elemente in te bring met ʼn standbeeld wat die beeldhouer Marlien van Heerden ontwerp het en ʼn musiekvideo van die liedjie “Afrika” wat Adam Tas spesiaal na aanleiding van die storie van Begrond geskryf het.

  • Begrond word uitgegee deur Kraal Uitgewers en kos R120-00 (posgeld uitgesluit). Jy kan die boek bestel deur die uitgewery by 012 644 4329 te skakel of ʼn e-pos aan [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.