Beheer oor jou denke kan jou help met sukses

Hoe en wat ons dink, het ’n geweldige invloed op ons verstandelike, emosionele en selfs fisieke welsyn. Om die waarheid te sê, ons denke kan ons beperk tot dit wat ons glo ons kan doen, of dit kan ons dinge laat ervaar waarvan ons nooit kon droom nie.

“Deesdae het ons toegang tot ongelooflik baie inligting, maar min mense weet werklik hoe om hierdie inligting te verwerk, hoe om dit te gebruik om suksesvol te wees by die skool, die werk en in die lewe as geheel,” sê dr. Caroline Leaf in haar nuwe boek Dink Leer Floreer. “Hoe beweeg mens van punt A, die verkryging van inligting, na punt B – begrip? Om werklik betekenis te ervaar en suksesvol te wees beteken dat jy nie net ’n klomp inligting insamel nie, maar dat jy die inligting op so ’n manier gebruik dat dit tot jou voordeel is, jou help groei en jou help om jou geheime potensiaal te ontsluit.”

Leaf meen wanneer jy ’n denkwyse kies wat jou vermoëns verruim, sal jy groter intellektuele satisfaksie, emosionele beheer en fisieke gesondheid ervaar. Die vraag is net: Hoe?

Sy gebruik wetenskaplike navorsing en Bybelse insig om lesers te inspireer om beheer te neem van hulle gedagtes sodat hulle beheer kan neem van hulle lewens. “Hierdie boek is ’n gids, want ek wil hê almal moet hulle drome uitleef en doelwitte bereik. Ek wil hê jy moet tevrede wees met jouself en dit wat jy bereik. Ek wil hê jy moet die beste JY wees wat JY kan.”

Hierdie is dus ’n praktiese boek en bevat onder andere ’n vyfstapleerprogram om geheue te verbeter en effektief te leer, ’n profiel om die unieke manier te ontdek waarop elke leser inligting verwerk en ’n gids om hulle gedagtewêreld optimaal te leer benut. Leaf wys lesers hoe om hierdie kragtige hulpmiddels te kombineer om beter te vaar op die gebied van geheue, leer, intellektuele prestasie, werkprestasie, fisieke prestasie, verhoudings, emosionele gesondheid en – die belangrikste van alles – ’n lewe vol sin en betekenis.

“Hoe jy jou eie denke verstaan en gebruik sal bepaal hoe suksesvol jy kan wees. Niks sal reg werk as jy nie eerste jou denke regkry nie. Hierdie boek gaan dus oor intellektuele self-sorg, hoe jy leer en hoe jy jou eie denke beheer. Elkeen van ons het ’n unieke manier hoe ons dink, hoe ons voel en hoe ons inligting verwerk en onthou. Hierdie boek gaan dus oor hoe jy jouself kan help om ’n kopskuif te maak na ’n lewe gevul met betekenisvolle sukses.”

Meer oor die outeur:
Dr. Caroline Leaf het haar opleiding ontvang in kommunikasiepatologie by die Universiteit van Kaapstad. Sy het ook haar meestersgraad en PhD in kommunikasiepatologie verwerf by die Universiteit van Pretoria. Dr. Leaf doen navorsing oor die menslike brein en fokus veral daarop om die brein se potensiaal te ontsluit. Sy woon tans in die VSA saam met haar man, Mac. Hulle het vier kinders.

Dink Leer Floreer is landwyd beskikbaar by alle CUM Boeke en ander toonaangewende boekwinkels.

Uitgewer: CUM Boeke
Prys: R212-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Keper ·

Gewoonlik bestudeer ek eers die outeur van sulke tipe selfhelp boeke se eie sukses, hoe dit ook welke gedefinieer word, om te sien of die boek kredietwaardig is.

(Ek het geen opninie oor die spesifieke boek hier onder oorsig, ek het sommer gewonder wat ander mense dink)

Ek glo motivering ens kan slegs van binne kom en as ‘n boek soos die jou help om jou moontlikhede te ontsluit, dan het dit sekerlik in die doel geslaag.

SNEL ·

Ek stel glad nie belang in selfhelp boeke nie. Hulle is altyd gevestig op die mens en jou sukses lê in jou eie krag en jou eie denke. Jy moet fokus op jou gedagtes en verander jou wêreld. Dit verander die mens in iemand wat nie op God vertrou nie, iemand wat himself op n troon begin sit . Eerste plek, (Filipense 4:6) Wees oor NIKS besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. Tweedens (2 Kor 10:5)… en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus. Derdens: (2 Tim 3 lees self, ons is klaar daar in vandag se tyd)… Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees. Buiten met n selfhelp boek waar jy in beheer is, die mag is in jou hand en jy kan nou jou omstandighede verander, dink net in vandag se lewe oor die selfies en hoe almal net goed wil lyk op hulle foto’s op hul profile. Nee wat, my hoop en vertroue vir my lewe is in God. Ek bid vir Hom, vertrou op Hom en vertrou Hom om my te vorm en maak na Sy wil en my deur stroms te dra. Die Here is my Rots, my Redder, my Helper… Hy is al wat ek nodig het om deur die lewe te kom. Fokus jou gedagtes op God Ps 119:105, dis die Boek wat ons moet gebruik.

Francois ·

Snel, ek vind jou opmerkings rakende selfhelpboeke uiters vreemd en nougeset. Ek is ‘n wedergebore kind van God en besef maar al te goed dat ons almal vêr tekortskiet en daagliks moet strewe daarna om beter mense in alle opsigte te wees. Ons kan nie uitgerus terugsit, slegs bid en verwag dat God alles in ons skoot sal laat val nie. As jou redenasie water gehou het, waarom dan skooltoe gaan en selfs tersiëre onderrig ondergaan. Dit opsigself is ‘n vorm om jouself te verbeter en toe te rus om ‘n beter inkomste te verdien.

SNEL ·

Francois, daar is n verskil tussen iets leer op skool en dan ook, moet mens die goed sif. Evolusie en om van gelowe te leer staan my nie aan nie, maar biologie, geskiedenis, ekonomie ens sien ek niks mee fout nie, maar om met jou brein en denke rond te speel is gevaarlik. Meditasie, soos om jou brein skoon te maak en aan niks te dink nie, is net so gevaarlik. Dit maak n oop deur vir die vyand om te werk. Ek persoonlik hou nie van selfhelp boeke nie, want soos ek sê, dit sit altyd die fokus te veel op die mens en dat jy self verantwoordelik is vir hoe dinge gaan uitwerk. Ek sê nie as Christen kan jy dit nie gebruik nie, maar hierdie is vir my asof dit te veel wil tuimel na iets wat nie vir my 10/4 is nie. Ek lig sleg my siening, Keper het gevra wat dink ons daarvan. Ek hou verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.